Saturday, May 28, 2016

Porto Rafti. Stilte na al die storms


26 Mei 2016. Donderdag.

Olympic Marina tot Porto Rafti

Gelukkig is al die stanchion se parte teen 12:00 reg en Archie is in sy element. Hy fluit terwyl hy werk en doen die herstelwerk, met my hulp natuurlik. Ek sit op die dek soos ’n wafferse handlanger, skroewedraaier in die hand en help deur die skroewe op die dek vas te draai en hy lê in ons slaapkamer met sy kop in die klerekassie om goeters daar vas te hou terwyl ek bo vasskroef. Toe staan daai paal weer penorent en ons vertrek teen 14:00 uit die Marina.

Vandag se bestemming is Porto Rafti, 37°52.941 N, 24°01.209 O en dis 13.7 myl tot daar. Dis windstil toe ons vertrek, maar op die see waai die wind van voor, gelukkig nie te sterk nie. Iewers het dit kwaai gewaai, want die see is redelik groot. Ek sug liggies. En dan is die kuslyn ook nie eers vir my mooi nie. Sementfabrieke ontsier die berge. Groot skepe vaar saam met ons. Maar nou ja, dis die pad na Skiathos, waarheen ons eintlik op pad is om ons Kanadese vriende, Yvon en Louise Desy te ontmoet.

Haarkapper?
… ons vaar die pad tesame …
Amper daar

Ons vaar by Porto Rafti in en ’n salige windstilte daal op ons neer. Dis soos hemel op aarde. Soos ’n poskaart in die posbus. Dis nou wat ek goeie skuiling noem. Ons soek ankerplek, gooi en vas is ons. Geen wind wat ons pla of terg nie. Ek is in die sewende hemel.

Ingang van die baai
Hemel op aarde

Gus het die afgelope tyd oral gewaai. Gumnuts het gaan vissop in Korfos eet en hulle het rukwinde tot 30 knope op anker in die baai gehad. Almal sê net: ”Terrible winds!”

Die dorp is eintlik ’n vakansie dorp met baie woonstelblokke, maar die baai en berge is mooi. Ons geniet dit terdeë. 

Porto Rafti
Hawetjie

No comments:

Post a Comment