Thursday, June 30, 2016

Ayvalik. Dag 2



29 Junie 2016. Woensdag.

My dogter, Michelle verjaar vandag. Baie geluk Michelle!

Ons gaan vandag die dorp op horings neem. In die marina kyk die manne en Ryna hoe haal hulle ’n boot uit die water en ons dink terug aan Cesme, twee jaar gelede, toe hulle ons uit die water gehaal het. Ek kry so klein koue rilling.

Deon kyk hoe boot gelig word
Nuuskierige agies
Op pad dorp toe
Ayvalik
 
Ayvalik is anders as twee jaar gelede. Dit neem ’n ruk voordat die dorp weer met my praat. Ons verkyk ons aan die mense wat phyllo deeg maak. So asof dit maklik is. Ek begin aanvoeling vir die plek kry. Ayvalik is ’n werkende dorp. Almal is aan die gang, produseer. Hulle bak en brou, maak skoene. Die manne hou hulle besig met houtwerk en staalwerk. Flukse ou klomp. Die perd staan en eet lustig aan sy voer.

Straat toneel
Straat toneel

Perdekar
Maak phyllodeeg


Archie stap in so nou straatjie in en ek stap agterna. Ons kom op Violetta, ’n klein ou winkeltjie af. ’n Baie vriendelike vrou help ons. Sy sê ons is haar eerste klante van Suid-Afrika. Ek koop die mooiste geskenkie vir ’n baie spesiale persoon in Suid-Afrika. Dis alles handgemaakte produkte. 

Violetta se winkel
 
Deon en Ryna is terug by die boot toe ons daar aankom. Sit en eet te lekker. 

Ons gaan vanaand Turkse kos eet. Ryna is vreeslik lus vit uitlandse smake en kosse. Ons tert op en weg is ons, na dieselfde restaurant waar ons in 2014 geëet het. Dis ’n plek waar plaaslike inwoners ook eet.

Ons gaan kies vir ons kos en ons besluit op gevulde courgette blomme en kofta. Dáárby saam ook gevulde soetrissies, beesvleis en ’n hoenderbesigheid. Maar my maggies, is dit lekker. Elke kriesel word opgeëet en die brood word in die sous gedoop en hulle vee die borde skoon met daai brood. Te gou is die kos op. 

Turkse feesmaal
 
Ons stap terug na Maja en eet vrugte as nagereg aan boord. Dis ons laaste aand in die marina van Ayvalik. Môre is dit Deon en Ryna se nooiensvaart.

Ayvalik

28 Junie 2016. Dinsdag.

Roete tot op datum
Mytilini tot Alibey

Vandag verruil ons lande. Ons, oftewel Archie, die kaptein, gaan klok uit. Hulle het mos net oë vir die kaptein. Ek wag op die boot. Voor ons staan ook ’n jag wat moet uitklok met ’n passasier op die dek. Toe kom die groot veerboot en hy moet sy boot agtertoe skuif.  Daai ou grote draai baie naby hom. Die kaptein kom terug en hulle vaar met ’n spoed weg. 

Groot veerboot soek ons geselsskap

Archie kom terug en ons pak die tweede been van ons seilseisoen aan. Ons vat die pad Turkye toe. Na Ayvalik, 39° 18.785 N, 26°41.165 O, 17.8 myl. Ons ken die pad, want ons was in 2014 ook daar. Deur die nou, vlak kanaal, verby Alibey en daar is Ayvalik. 

Turkse eiland met Lesvos in die agtergrond
Alibey

Ons gooi diesel in en die vasmeerman met sy dinghie wys ons die pad aan. Hulle help ons, gee toue aan en vas is ons. Maja is pragtig skoon, ek maak boontjiebredie en ons is reg vir ons gaste, Deon en Ryna, van Aliwal-Noord se wêreld. Die kaptein vat die pad met al sy papiere om te gaan inklok. Ek hoef nie saam te gaan nie, want hulle het mos net oë vir die kaptein. Hy gaan herwaarts en derwaarts en uiteindelik, na drie ure is al die papierwerk gedoen en ons is wettige toeriste.

Ons stap 17:30 hek toe en wag vir Deon en Ryna. Ons wag en wag en ons wag nog ’n bietjie. Hulle kom 18:45 hier aangejaag in ’n taxi. Die buswaard het nie vir hulle gesê hulle moet afklim nie en hulle ry toe ewe lekker verby Ayvalik, op pad na Izmir. Toe hulle dit besef, met die hulp van ’n vrou wat kan Engels praat, het die busbestuurder vir hulle op ’n ander busmaatskappy plek sit gemaak om hulle terug te neem na Ayvalik. Wat ’n gedoente. Ons was so bly om hulle te sien. Hulle was so bly om ons te sien. Ons groet innig.

Wag en wag …
Ontmoet vir Ryna vir die eerste keer
Ryna, Deon en Archie

Deon herken vir Maja, want hy is mos ’n getroue blogleser. En hulle kom aan boord. Eers Deon en toe Ryna. Daar word toe op groot skaal glasies geklink en vrugte geëet. Ons is so bly om hulle te sien. 

Soek vir Maja
Deon kom walsend aan boord …
… maar Ryna is meer statig
Verwelkomings drankie


Later smul ons aan die boontjiebredie. Daar is weer lewe op Maja.

Deon is te lank vir Maja.

Monday, June 27, 2016

Mytilini. Lesvos Eiland.



26 Junie 2016. Sondag. 

Kaloyerou Baai tot Mytilini
 
Vandag gaan ons na die hoofdorp van Lesvos, Mytilini, 39°05.862 N, 26°33.449 O, 10.5 myl. Hier gaan ons twee dae bly en ook uit Griekeland klok. Deon en Ryna ontmoet ons in Turkye.

Ons vaar rusig, want daar is nie haas nie en sommer gou-gou lê die dorp voor ons. 'n Pragtige kasteel pryk bo-op die heuwel.

Oggendskoot
Mytilini se kasteel
Mytilini
 
Ons vaar by die groot hawe in en vind ons weg na die Setur Marina waar ons gaan oornag. Die vasmeer is ’n nuwe ervaring vir ons in Griekeland, want hulle het vinger pontoons. Dis pontoons wat soos vingers uitsteek en jy maak langsaan vas, met snoettou en al. Ons is nie onbekend met die vasmeer metode nie, want in ons kursus in Durban het ons dit so gedoen.

Vinger pontoon
 
Die marinaman help ons met die toue en ons is vas. Dis ’n pragtige nuwe marina. Ek was eers gou wasgoed en toe gaan ons dorp toe. Mytilini is, nee was ’n toeriste-aantreklikheid.

Ons stap dorp toe en word talle kere gekonfronteer met kinders wat bedel. Gypsie kinders. Hulle vat nie nee vir ’n antwoord nie, totdat die juffrou stem sê: “NO!” Daarna is dit weer ’n seuntjie wat saam loop en hy hy net oë vir my kamera. Sy handjie kom na my toe, maar ek stoot dit weg en sê vir hom nee. Dit laat my soos 'n skurk en die vark in die verhaal voel.

Ons loop verder en mense, wat lyk soos Siriërs (ek weet nie eintlik hoe lyk Siriërs nie, maar hulle is nie Grieke of gypsies nie) val ons weer lastig en geld vra. Toe lyk almal vir my verdag. Elke mens op straat is ’n potensiële vlugteling en ek is ook lus om te vlug.

Ons stap in die oudorp rond. Dit is nou wel Sondagmiddag, maar dit lyk soos ’n spookdorp, ’n droewige dorp. Ek voel net so “sad” soos die dorp. Wat eens 'n besige, polsende toeriste dorp was, is depressief en dood. Baie straatkafees is toe. Die ander se stoele en tafels is uitgesit, maar dit staan leeg. 

Op die kaai
 
'n Siriër pa met ’n kleintjie in ’n stootwaentjie volg ons by ’n winkel in, al vraende vir geld. Die eienaar verwilder hom. Die hele dorp lei onder die vlugteling krisis. Toeriste kom nie meer na Mytilini toe nie. Wie wil nou heeldag met ’n skuldige gewete in ’n dorp rondloop omdat jy nie al jou skatte aan die armes wil uitdeel nie. 
 
Ons kyk darem na twee kerke. Die kerk van St Therapon is een van die mooiste kerke wat ek nog op die Griekse eilande gesien het.

Kerk van St Therapon
Binne
 
Ons stap terug marina toe en vermy die bedelaars. Pizza Fan verlei ons tot ’n pizza, wat goedkoop is en ons smul op Maja se dek. Een van die lekkerste pizza wat ek in ’n lang tyd geëet het.

’n Skielike wind- en reënstorm jaag ons in, koel die wêreld af  en in ’n japtrap is dit verby en die aand neem rustig by die dag oor.

Môre is dit boot en wasgoed was en skrop en polish vir ons gaste Deon en Ryna, van Aliwal-Noord se wêreld, wat Dinsdag by ons aansluit.


Kaloyerou Baai. Lesvos Eiland.

25 Junie 2016. Saterdag.

Skala Loutron tot Kaloyerou Baai

Wat ’n heerlike nagrus. Gus het so nou en dan gewaai, maar ons was stewig vasgeanker in ’n heerlike beskutte baai. 

Beskutte baai van Skala Loutron

Ons gaan vandag net ’n kort entjie vaar na Kaloyerou Baai, 39°00.989 N, 26°32.686 O, 5 myl, nog steeds in die Golf van Geras.
St Vasileios Rots met Pyrgoi in agtergrond

Daar is ’n mooi klein kerkie in die baai. Alleen staan hy daar met sy blou dak. Wag net vir ’n bruid om daar te trou. Ons bring die dag rustig deur, lees boek, swem , drink koue water, swem, eet ietsie, swem. Ons swem nie vir die lekker nie, nee, ons swem om af te koel. Dit is verskriklik warm.

Swem

Daar kom ’n eenvoudige klein ekskursie boot aan en ek dog hy is besig om af te brand. Daar kom rook agter uit en daar is n rooi gloed. Maar wat sien ons daar!? ’n Bruid en bruidegom is aan boord. En die rook kom van 'n "flare". Dis ’n troue! Hulle meer vas en klim uit, wit rok en al. Die musikante speel en sowaar, hulle stap op na die kerkie met al die gaste agterna. Ek hou hulle dop met die verkyker. Daar is nie plek vir al die gaste in die kerk nie. Die meeste staan buite. Te romanties. Die kaptein kry toe ’n brijante idee as my dogter, Michelle, eendag wil trou. Sy moet ’n bikini troue hê en in Griekeland in die ou kerkie trou!

Trou kerkie

Die nag 02:25 kom daar ’n jag in die baai aan en gooi anker. Baie snaaks. Ek wonder of daar nie Siriese vlugtelinge aan boord was nie. Ons is baie na aan Turkye … Ek bespied hulle met die verkyker, maar kan niks sien nie.

Friday, June 24, 2016

Skala Loutron. Lesvos Eiland.



24 Junie 2016. Vrydag.

Plomari tot Skala Loutron

Die wind draai in die nag … En in watter rigting? Hy waai nou vanuit die suide, reguit in die hawe. Nou staan sake so – Gus se rukwinde waai vanuit drie verskillende windrigtings en as hulle ons klaar geruk het, waai hy sieklik weer suid. Maja se anker is voor in die water en sy is vasgemaak met die twee vasmeertoue en twee ekstra “ springlines” aan die kaai. Nou word sy heen en weer geruk deur Gus en die golwe spoel by die hawe opening in en dan word ons heen en weer geslinger deur die golwe.

Natuurlik maak ek nie ’n oog toe nie en die kaptein? Slaap soos ’n flippen baba! Gus hou so teen 3:00 op waai en toe spoel daai golwe net groter in. Ek hou maar wag en kyk wat gebeur, dat ons nie teen die kaai vas gewaai word nie, want die anker is heeltyd onder spanning deur die wind en golwe. Iets na drie sluimer ek in en is weer 4:30 wakker.

Die Franse langs ons het genoeg gehad en vertrek en ek sê vir Archie ek bly nie vir nog ’n dag al hoppende hier nie. My hart is seer oor die Griekse aand wat ek gaan misloop en ons het nog nie eers die dorp verken nie.

Ons vertrek na Skala Loutron, 39°02.702 N, 26°31.688 O, 13.8 myl. Iewers het wind gewaai, want die deinings is groot. O, ek is moeg vir wind!

Die eiland is groen en baie mooi. Om omseil al die klippe in die see en kom by Golf van Yeras aan. Dis weer klippe en rotse en vlak water omseil en toe is ons by Skala Loutron. Daar staan drie ander bote op anker. Ons gooi en die anker byt goed. Ons moet reg wees vir die Fors 5 winde wat vanmiddag kom. En hulle het gekom!

Isidoro net oos van Plomari
Mooi berge en kranse
Omseil die klippe
Gevaarbaken
Skala Loutron

By die kaai staan ’n groot boot van YWAM – Youth with a mission. Hulle help met die Siriese vlugtelinge. Dis seker hulle af dag, want hulle baljaar op daai boot. Vrolike gelag klink in die baai op.

YWAM

Dis baie lekker op anker, want dit is beslis nou somer in Griekeland. So elke nou en dan koel ons in die see af.

Ons eet heerlike avokadopeer broodjies. Salig op die tong, soos engelpippie!

Heerlik