Wednesday, July 29, 2015

Amorgos Eiland. Busrit.

27 Julie 2015. Maandag.

Toe ons opstaan, is die fees verby. Ek weet nie hoe laat hulle opgehou fees het nie. Die hawe is verlate en net die jagte lê vreedsaam vasgemeer.

Vandag gaan ons bus ry na Langada. Dit is ’n klein dorpie naby Aigialis. Ons klim die bus 09:30 en daar trek ons. Amorgos is ’n ru, amper onherbergsame eiland. Mens kan sien dat die Meltemi die plek soms erg verniel. Sommige van die bome is windskeef gewaai. Die busrit gaan op met die bergpas en dan weer anderkant af. Ruwe kranse en rotse staan afgeëts teen die blou Aegean See. Dis prentjiemooi. 

Uitsig vanuit die bus


Ons klim af by Aigialis, waar ons nou die dag op anker was en wag vir die volgende bus na die dorpie bo teen die berg, Langada. Dis ’n tipiese Griekse chora. Atmosferies en karaktervol. Ons loop in die wit stegies met die helderkleurige vensters en deure. Oral is spierwit kerkies te sien

In hierdie dorpie het domkies nog n belangrike werk om te doen. Hulle is deel van die vervoerstelsel. Goedere word deur donkies op en af gedra. Ewe gedweë doen hulle dan hulle werk..

Langada
Stegie
Unieke skoorsteen
Donkie Sarel


Toe is dit die hoogtepunt, die klein kerkie in die rotse. Ons loop deur die kerkhof om daar te kom. Die mense van vergange se dae lê rustig in hulle grafte. Ons loop op die paadjie en ’n ’n ou dame versorg die kersies en blommetjie by die hek van die kerkie. 


Kerkhof
Kerkie teen die krans
Ou dame


Ons loop verder en maak nog ’n hekkie oop en pak die vertikale trappies na die kerk aan. Dit is spierwit geverf. Die kerkie is baie klein. Jy moet buk anders stamp jy jou kop. Kersies brand in die kerkies. In die Griekse kerkies brand daar altyd kersies.

Paadjie


Van hier bo af het ons ’n pragtige uitsig op die Aegean See. Ek drink dit in en pak die beelde weg in my geheue vir onthou. Aan die onderste punt van die kerkie eet ons ons appels om sterkte te kry vir die afstap na Aigialis. Ons gaan nie die bus klim daarheen nie. Ons stap heerlik op die paadjie en aan ons voete lê Aigialis. 

Aigialis Baai


Ons moet ’n uur wag voordat die bus kom en ons eet ’n gyro by ’n restaurant wat op Aigialis Baai uitkyk.

Die bus kom 14:00 en ons klim. Die pad terug na Katapola is net so mooi. Maja is gelukkig nog veilig, niemand het ons anker opgelig nie.

Katapola

1 comment:

  1. Hallo Marietjie! Ek het weer jou blog begin volg en geniet elke woord en elke pragtige foto. Dankie dat jy julle ervarings met ons deel. Dink aan my wanneer jy skryf - ek kan nie wag vir die volgende aflewering nie! Groete uit Johannesburg, Annette se sussie

    ReplyDelete