28 Mei 2015, Donderdag
Gisternag het die
winde gekom, maar ons was veilig. Die volgende dag, het geen sterfling Selimiye
verlaat nie. Ons ook nie. Almal het heerlik verder geskuil en dit het af en toe
gereën. Gus verras ons deur nie so sterk te waai nie.
![]() |
Selimiye tot Dirsek |
En die volgende dag is
ons op pad na Dirsek, 36°41.127N, 27°59.039O, 8.7 myl. Ons verlaat ’n vrolike,
sonbedruipte Selimiye.
Sonnige Selimiye |
Oggendskoot - Ver bergreekse |
Dis kalm en rustig op see, met deinings as bewys van die
winde. Ons vleg deur ’n paar eilandjies en dit bly maar bewolk. Archie "put me up front" om te kyk vir vlak water tussen die eilande. Gus waai
lekker, maar dis van voor en dis koud. Ons sit gepantser met ons baadjies.
Deur die eilande |
Op die uitkyk vir vlak water |
Tydens die geforseerde bevolkingsverskuiwing tussen Griekeland en Turkye in die begin van die twintigste eeu, is dié Griekse klooster ontruim en is nie weer gebruik nie. Dis nou die woonplek van bokke.
Griekse klooster (soek die bok!) |
Sommer gou is ons by
Dirsek. Dis ’n groot baai en ’n paar bote staan reeds op anker. Die boek sê “reasonable
shelter” as die Meltemi waai. Ons gooi anker en dis van daai lang-toue-land-toe
ankers. Archie swem met die tou, maak vas en toe kon ek weer asemhaal. Ek hou
eintlik niks van die tou land toe besigheid nie, veral as ons net twee op die
boot is nie. Dit verloop egter seepglad en Archie swem uit met die tweede tou
en toe is ons vas.
Die Westewind waai,
so die see-in die baai is kalm, maar as die Noordewind waai, rol daar deinings
die baai in en die wind waai reg op ons snoet. Ek hoop die Noordewind waai nie!
En toe draai die wind. Gus waai vanuit die noorde en dadelik begin die see
inrol. Klein, maar genoeg om Maja al wippende te laat en ons land toe te waai.
So - ”Hou, anker, hou!”
Ons braai balik (vis), aartappel, rokketslaai en seeboontjies (sea beans)
vir aandete en ons sit op die effe onplesierige dek en eet. Die vis is heerlik en die seeboontjies het 'n "crunchy" tekstuur en 'n natuurlike sout smaak. Interessant.
Balik met meze |
Gus waai die hele nag. Poseidon het voorspel dat Gus 03:00 gaan lê, maar 03:00 kom en gaan en Gus wil van lê niks weet nie. Ons wip op en af, Gus loei in my ore en die nag word gevul met windgeluide. En ek? Lê natuurlik die hele nag wakker, doen nagwaak, terwyl die kaptein heerlik uitrus. Dan loer ek uit om te sien of die land nie nader is nie, dan maak ek geluide stil. In die donker lyk alles mos erger as wat dit is.
Gelukkig word dit dag
en met die lig kom sien.
Daar's die bok! |
No comments:
Post a Comment