Sunday, May 31, 2015

Serçe. Om die punt.

31 Mei 2015, Sondag.

Söğüt tot Serçe


Die boek sê dat as die Meltemi (die heersende noord-westewind) sterk in die seestraat tussen Turkye en Simi waai, kan dit windvlae vanaf die land se kant veroorsaak. Hierdie vlae werk teen die seestroom en veroorsaak ’n verwarde see. Dis nou ’n see waar die deinings nie weet watter kant toe om te rol nie. Dan moet jy versigtig wees as jy om Karaburun, die punt tussen die Yesilova- en Marmaris Körfezi vaar. Gelukkig waai die Meltemi nie vandag nie, so die gevaarlike stuk see is hondmak.

Ons gaan vandag om die punt vaar na Serçe, 36°34.605 N, 28°02.688 O, 15.7 myl. Dis ’n baai wat amper heeltemal deur land omring is. Ons gooi anker in die helder turkoois water en kyk na die mooi omgewing. 

Karaburun (Kara Punt) met Simi Eiland in die agtergrond


Ons gaan stap en Archie klim die klipkoppie uit om ’n beter uitsig te kry. ’n Baai lyk altyd mooier van bo af. Ek sit onder op ’n muur en tuur na die see.

Serçe - Suidelike baai
Serçe Baai
Sit en tuur


Die gestap maak mens warm en ons koel af in die helder skoon verfrissende water. Archie snorkel en gaan kyk of die anker goed gebyt het. Al is die water 9 m diep, kan ons tot op die bodem sien. Hy kom terug met die nuus dat die anker goed gebyt het, maar omtrent vyf tot tien meter van ons anker is ’n konkreet blok. As Maja rondswaai, kan die ankerketting om die blok draai.

Ons hoop nou maar vir die beste ...

Saturday, May 30, 2015

Söğüt . Uiteet.



30 Mei 2015, Saterdag.

Bozburun tot Söğüt

Ons het heerlik in Bozburun gebly, heelnag salig geslaap sonder opstaan. Die son skyn en dis ’n pragtige dag. Gus waai liggies en die koel klou aan my lyf.

Bosburun se tannies. Een tannie, een spaan.


Ons vaar uit die baai en ons is op pad na Sogüt, 36°39.500 N, 28°04.986 O, 5.8 myl, net om die hoek. Daar is ’n jettie en restaurant jetties. Ons gaan maar anker, soos gewoonlik.

Eers toe ons uit die baai vaar, voel ons dat die wind waai. Kom ek verduidelik eers gou die windspoed.  Dit word gemeet op die Beaufortskaal van 1 tot 12, knope, km per uur of meters per sekonde. Ons werk met die Beaufortskaal en knope (een seemyl per uur). Een knoop is gelykstaande aan 1.8 km per uur. (Ek maal een knoop sommer met twee om die km te kry, want ek kan nie met 1.8 maal nie.) Beaufortskaal Nr. 1 = 1 tot 3 knope. 2 = 4 tot 6 knope, 3 = 7 tot 10 knope, 4 = 11 tot 16 knope, 5 = 17 tot 21 knope, 6 = 22 tot 27 knope, 7 = 28 tot 33 knope, 8 = 34 tot 40 knope per uur. Om die omskakeling van Beaufort Nr. na knope vinnig uit te werk gebruik ons die volgende formule:-

Knope = Beaufort Nr x 5 - 5 (naastenby korrek)


Ek hou van nr. 1 tot 3. Archie hou van nr. 4 en 5. Ons hou nie van nr. 6 en hoër nie. Om terug te kom, die wind waai toe ’n nr. 3, terwyl ons in die baai niks wind gevoel het nie. Dit wys jou hoe beskut is die baaie. Goeie skuiling teen die Meltemi beteken ook dat die wind nie die see in die baai inrol nie. As die see inrol as die wind waai, is die skuiling nie so goed nie en jy skut heeltyd op anker. As jou boot heeltyd skut, is daar ’n groter kans dat jou anker loskom of sleep.

Dis nou pouse na die lesing, so jy kan nou ietsie eet.

Sommer gou is Sogüt voor ons. Ons kyk uit na die ankerplek. Al die bote is vasgemeer teen die jetties. Die baai is ’n bietjie diep vir anker, want die boek wys dit is 20 m, wat te diep vir ons is. Ons het net 50 m ankerketting en 10 m tou, dis 60 m altesaam. As jy anker, neem jy die diepte en maal dit met vier (of soms drie) om te bereken hoeveel ankerketting jy moet uitlaat. Ons wil eintlik nie dieper as 17 m anker nie. Ons mik toe maar vir die jettie wat volgens die boek nie ’n restaurant jettie is nie. As jy by so ’n jettie vasmeer, moet jy by hulle restaurant gaan eet. En ons het nog lam “overshoot”.

’n Handige vasmeerman staan op die kaai vir ons en wag en beduie na ’n baie nou spasie. Archie bestuur meesterlik daarin, die vasmeerman gee die snoettou baie goed aan, die buurvou hou die fenders dop en ek maak voor vas. Archie maak agter vas en siedaar! Ons kry 100% vir die vasmeer. “I think congratulations are in order!”

Met ’n totale bonus! Dit is die Octopus Restaurant jettie. Raai wie word vanaand uitgevat vir ete?!

Octopus Restaurant


Ons gaan stap. Die roete neem ons verby die antieke hawe en my voete jeuk. Ons stap verder in die stappaadjie, moer-toe knieë en al. Dis ’n pragtige stap, die eerste stuk neem ons al langs die see met mooi vergesigte van die baai. Toe is dit berg-op, op ’n klippaadjie wat ons wegneem van die see. Ons stap en stap, wonder waarheen lei die pad. Dit voer ons al verder weg van Sogüt Limani. Maar ons draai nie om nie. Ons ou stappersinstink neem oor. Ek, met my takstok wat Archie vir my gemaak het, en ou Arch geniet dit en verlustig ons in alles. 

Waghuis van antieke hawe
Stap langs die see
Söğüt Baai
Plasies by die see
 

Uiteindelik kom die pad bo uit, by die regte motorpad wat Sogüt toe gaan. Ons neem ’n ander paadjie wat weer af af af gaan na wie weet waar. Maar ons stap en hoop ons kom by die hawe uit. En jou waarlik, ons sien maste. Na ’n heerlike stap van twee en ’n halfuur is ons weer by Maja, gelukkig en tevrede. 

Terug by die hawe


Ons kry die luukse van ’n pragtige stort in die restaurant se ablusieblok wat hulle spesiaal vir die bootmense gebou het en maak reg vir die uiteet.

"All dressed up and somewhere to go ..."


 

Friday, May 29, 2015

Bozburun.

29 Mei 2015, Vrydag.

Dirsek tot Bozburun


Ek staan op en voel soos hond. Soos ’n uitgewaste lap. Die wind waai nog, maar nie so kwaai nie. Ek loer uit na die see en dit het perdjies op. Ek kyk op na die hemel en sien dit is totaal bewolk. Hulle het hoeka reën voorspel. Vandag gaan nie ’n lekker wees nie. Ek is moeg en dikbek. Geen silwer randjie om die donker wolk nie.

Nou moet ons besluit, bly of vaar in die reën. Ek wil nie nog ’n nag sit en wip nie en Archie is altyd reg vir vaar en ons besluit weg is ons na Bozburun, 36°41.399N, 28°02.453 O, ’n 10 myl dag.

Ons wag dat die reën bedaar, Archie maak al die toue los en ons vat die pad see toe. Gelukkig is die see nie so groot nie en die reën bly weg. Die reënkoningin, Modjadji, het seker vir Poseidon laat weet om nie op ons te reën nie, want ons vaar heeltyd droog. Turkye is bewolk, maar oorkant lê die Griekse eiland, Simi, heerlik en bak in die son. Wel, met ’n wolkkombers, maar sonnig.

Turkye is bewolk
Simi Eiland - Sonnig met 'n wolkombers


Bozburun kom ook net betyds, want Gus begin sterker waai. Ons kry ’n geskikte plek en anker. Die skuiling in die baai is baie goed, so ek voel baie beter.

Bozburun



Ons gaan dorp toe, maar die wolke lyk gereed vir natgooi en Dinkie neem ons terug na Maja. Ook net betyds, want toe ons terug is, begin dit hard reën. Met ’n bietjie donderweer en bliksemstrale daarbý. Ons sit knus en warm in Maja en die kaptein maak vir ons ’n koppie stomende boeretroos.

Moskee
Dit gaan reën!


Ek hoop Leon en Dirk, wat vandag in Istanbul geland het en wat 3 Junie by ons gaan aansluit, bring goeie weer saam!
 

Dirsek. Nagwaak.


28 Mei 2015, Donderdag

Gisternag het die winde gekom, maar ons was veilig. Die volgende dag, het geen sterfling Selimiye verlaat nie. Ons ook nie. Almal het heerlik verder geskuil en dit het af en toe gereën. Gus verras ons deur nie so sterk te waai nie.

Selimiye tot Dirsek


En die volgende dag is ons op pad na Dirsek, 36°41.127N, 27°59.039O, 8.7 myl. Ons verlaat ’n vrolike, sonbedruipte Selimiye. 

Sonnige Selimiye
Oggendskoot - Ver bergreekse


Dis kalm en rustig op see, met deinings as bewys van die winde. Ons vleg deur ’n paar eilandjies en dit bly maar bewolk. Archie "put me up front" om te kyk vir vlak water tussen die eilande. Gus waai lekker, maar dis van voor en dis koud. Ons sit gepantser met ons baadjies.

Deur die eilande
Op die uitkyk vir vlak water


Tydens die geforseerde bevolkingsverskuiwing tussen Griekeland en Turkye in die begin van die twintigste eeu, is dié Griekse klooster ontruim en is nie weer gebruik nie. Dis nou die woonplek van bokke.

Griekse klooster (soek die bok!)


Sommer gou is ons by Dirsek. Dis ’n groot baai en ’n paar bote staan reeds op anker. Die boek sê  “reasonable shelter” as die Meltemi waai. Ons gooi anker en dis van daai lang-toue-land-toe ankers. Archie swem met die tou, maak vas en toe kon ek weer asemhaal. Ek hou eintlik niks van die tou land toe besigheid nie, veral as ons net twee op die boot is nie. Dit verloop egter seepglad en Archie swem uit met die tweede tou en toe is ons vas.

Die Westewind waai, so die see-in die baai is kalm, maar as die Noordewind waai, rol daar deinings die baai in en die wind waai reg op ons snoet. Ek hoop die Noordewind waai nie! En toe draai die wind. Gus waai vanuit die noorde en dadelik begin die see inrol. Klein, maar genoeg om Maja al wippende te laat en ons land toe te waai. So - ”Hou, anker, hou!”

Ons braai balik (vis), aartappel, rokketslaai en seeboontjies (sea beans) vir aandete en ons sit op die effe onplesierige dek en eet. Die vis is heerlik en die seeboontjies het 'n "crunchy" tekstuur en 'n natuurlike sout smaak. Interessant.

Balik met meze


Gus waai die hele nag. Poseidon het voorspel dat Gus 03:00 gaan lê, maar 03:00 kom en gaan en Gus wil van lê niks weet nie. Ons wip op en af, Gus loei in my ore en die nag word gevul met windgeluide. En ek? Lê natuurlik die hele nag wakker, doen nagwaak, terwyl die kaptein heerlik uitrus. Dan loer ek uit om te sien of die land nie nader is nie, dan maak ek geluide stil. In die donker lyk alles mos erger as wat dit is.

Gelukkig word dit dag en met die lig kom sien. 

Daar's die bok!