28 Julie 2014. Maandag.
 |
Bodrum tot Akyarlar |
Ek is nie spyt dat ons Bodrum moet verlaat nie. Die plek het nie op my gegroei nie. Net 'n mallemeule roesemoes van mense. Proviand koop is nou prioriteit. Ons gaan 'n paar dae op anker wees, so ons koop groot. Dis rugsakke en drasakke vol kos. Genoeg vir 'n weermag.
Ons vertrek laat, want Akyarlar (36°57.909 N, 27°17.692 O), is nie ver nie, net 9.4 myl. Gus waai net liggies van voor en ons vaar die hele pad. Ek kyk met lang öe na Griekeland wat net oorkant die seestraat lê. Ek wens ek was nog daar.
 |
Oppad |
 |
Turkse eilandjie |
 |
Rotse en berge |
Ons kom by ons baai aan en dit is pragtig. Die water is kristalhelder en baie blou. Turkye lyk skielik vir my baie mooier.
 |
Akyarlar |
Ons anker maklik, met baie min gestry. Gerrie en Ansu slaak 'n sug van verligting met die wete dat ons huwelik nie op die rotse is nie. Gerrie dien as buffer in my en ou Arch se kommunikasie tydens die ankergooiery. As ek sê: "Is die man dan nou mal?", vertaal hy met: "Is jy seker, Archie?"
Ons swem in die helder water en baai ons warm lywe in die koele lafenis. Hemels! Gerrie geniet homself met sy nuwe speelding - 'n onder-water kamera.
 |
Swem soos visse in die helder water |
 |
Onderwater kaskenades |
 |
Gerrie en Ansu in die water |
 |
Ansu |
Ons eet die aand lamsnek en dit is heerlik om vir 'n slag regte egte vleis te eet.
Die liggies van Kos, Griekeland, daar oorkant die seestraat, wink vir my, maar Turkye begin al beter te lyk.
No comments:
Post a Comment