Sunday, August 31, 2014

Turkye. 'n Dag in Ayvalik.

30 Augustus 2014.  Saterdag.

Die wind waai nog en nog en nog ...

Vandag vat ons die veerboot na Ayvalik, 'n dorp in die hoofland. Ons klim die 13:00-boot en daar trek ons. Ayvalik is aan die oorkant van die baai. Die deinings in die baai is nog groot, maar kleiner as gister.

Veerboot na Ayvalik
Ayvalik

Ayvalik is 'n werksdorp met 'n geheim. Dit lyk soos 'n gewone vissersdorpie met 'n waterfront en restaurante, maar as jy in die agterstrate rondwandel, kry jy 'n verrassing. Waar is Elize nou?!

Jy kom op 'n Griekse dorpie af met oorvloed atmosfeer. Motors skuur in nou, klip straatjies by jou verby. Daar is perdekarre en inwoners wat dag-tot-dag take verrig. Ou Griekse huise is orals.

In die strate
Bouvallig
Ou fabriek

Die Ottoman Grieke het in Ayvalik gewoon. In die 1920's is hulle gedwing om hulle geboorteland te verlaat en is na Lesvos, 'n Griekse eiland naby verskuif, terwyl die Turke van Lesvos, verskuif is na Ayvalik. Die stempel van die Grieke is oral afgedruk. Daar is grootskaalse olyfolie produksie, Grieks-Ortodose kerke (sommige is verander na moskees) en van die ouer inwoners kan nog steeds Grieks praat.

Skoenmaker
Bakkers
Lewer gebak af

Oral in  Ayvalik restoureer hulle van die ou huise en geboue. Ons stap net rond en beleef en ervaar ou Griekeland.

Ou huis ...
... wat hulle restoureer

Ons eet die smaaklikste middagete, sulke Turkse boerekos. 

Meze -  Eiervrug met bees, beesstifado, groenbone, rys-gevulde skorsieblomme

Laatmiddag klim ons die veerboot terug na Alibey. Wat 'n verrasende en interessante belewenis!

Totsiens Ayvalik

Turkye. Alibey.

29 Augustus 2014.  Vrydag.

Çamlik Köyü tot Alibey (Geel en rooi lyn)

Een ding is seker - die Meltemi blaas volle fors uit volle bors.

Die hele nag kry ons wind, met die vreeslike vlae wind van die berg af. Gelukkig hou die anker baie goed, want die bodem is modder. Ons wil vandag by Alibey (39°19.991 N, 26°39.346 O), 3.3 myl, 'n klein dorpie, gaan anker, miskien is dit beter daar. Daar is ook 'n hawe, maar die boek sê dis meestal vol. 

Ons vertrek 11:00 uit die beskutte baai en vaar wind-op na Ailbey. Tóé besef ons eers hoe beskut die baai was. Daar het ons sterk wind gehad met hewige windvlae, hier is die wind hewig met hewiger windvlae in ons gesig. Die groot golwe rol in en dit is ín die baai van Ayvalik.
Ons beur ons weg deur die wind en golwe en wonder of ons nie 'n fout gemaak het nie.

Oom Olifant

By Alibey is die see kalmer (no fetch), maar ons vaar eers by die hawe in. En daar is sowaar plek, 'n vriendelike ou oomie van die see op die kaai wink vir ons. Nou moet ons in die vreeslike wind vasmeer.

Alibey

Ek gooi die anker, Archie tru, die wind waai ons van koers af. Archie vaar weer vorentoe en probeer tru. Hy kry rigting en tru. Ek laat die anker verder uit. Die oomie vang die tou en begin vasmaak. Die wind druk en stoot, maar die anker het lekker gebyt en ons is vas.

Dit voel darem baie kalmer hier as in die beskutte baai van Çamlik Köyü en op die see. Die wind kom nog met vlae, maar dis nie so hewig nie. Hier gaan ons nou skuil tot die wind gaan lê.

Alibey is eintlik 'n eiland, wat met Ayvalik  (hoofland) verbind is met 'n brug. Daar is baie ou steenhuise in Griekse styl. Soos in Ayvalik, is die eertydse Grieke wat hier gewoon het, in die vroeë 1920's omgeruil met Moslems wat in Creta en Lesvos gewoon het.

Uitsig oor hawe
Kerk en windmeul op heuwel
Ou Griekse huis
Ou Griekse huis

In 1944 was hier ook 'n aardbewing wat die geboue en kerke beskadig het. Oral is die inwoners besig om die dorpie weer op te knap.

Skade van aardbewing

Dit voel of ons weer in Griekeland is. Ons loop in die straatjies en stegies rond. Die wind waai, maar ons skuil te lekker.

Waterfront

Vanaand slaap ons weer hier.

Friday, August 29, 2014

Turkye. Mosko, nee Çamlik Köyü.

28 Augustus 2014.  Donderdag.

Badlemi tot Çamlik Köyü via Mosko

Ons wikkel vroeg, terwyl Gus nog sluimer. 06:30, net toe dit lig word, vertrek ons.

Wikkel vroeg

Ons moet eers uit die noordelike uitgang kom, sonder om in die vlak te beland. Ons kom ongeskonde deur en vaar na Mosko (39°20.043 N, 26°36.923 O), 23 myl.

Ons vaar, met Gus liggies van voor. Poseidon voorspel dat hy later sterk gaan waai en ons is nie lus vir sterk wind van voor nie. Dus, vroegvaar was ons voorland. Oor die groot oop see, gaan ons noord, met 'n nie te kwaai wind van voor. Dit is interessant, die een eiland is bar soos Namibië terwyl sy buurman ruig en groen is soos die Natalse Suidkus. In die verte lê die Griekse eiland, Lesvos.

Eenkant bar ...
... anderkant groen
Lesvos in die verte

Ons kom by Mosko aan en soek ankerplek. Ons anker en jou waarlik, die anker byt in die seegras. Ek moes toe al lont geruik het. Archie gebruik deesdae 'n "anchor watch app" op die selfoon. Jy druk 'n knop as jy ankergooi en sleutel 'n radius in waarin Maja kan rondbeweeg. As die pyltjie (wat Maja is) dan buite die sirkel beweeg, beteken dit dat die anker sleep en dan lui 'n alarm.

Mosko

'n Ding kom op die water aangejaag. Met 'n vreeslike spoed. Ons kyk en dis sowaar 'n seevliegtuig wat op die water geland het. Hy meer vas aan 'n boei en hulle laai mense op by die vakansie-oord.

Seevliegtuig

Toe begin Gus waai. Ek knip 'n uiltjie, want ek weet vannag is seker nagwaak. Ek word wreed uit droomland geruk deur die alarm van die ankerwag wat lui. Ons kyk buite en sien dat ons al 'n ent gedryf het. Die anker sleep beslis.

Ek trek op en bring 'n hele seetuin saam. Archie maak die anker skoon en ons gooi weer. Die anker sleep so, dat ons omtrent die bodem omploeg. Dié keer is die seetuin nog groter. Archie maak weer skoon.

Waarheen nou? Hier kan ons nie in die wind bly nie. Ons anker sal nooit byt nie. "Voorwaarts, Christen stryders", en ons vaar verder, na 'n volgende ankerplek. Gus geniet hom gate uit.

Ons moet nou deur 'n vlak kanaal vaar in die baai van Ayvalik. Dis vlak water en bakens en wind en kophou. Wie het gesê seil is maklik?

Kanaal deur die vlaktes

Benoud kom ons deur die kanaal en vaar verby die dorpie, Alibey, na Çamlik Köyü (39°17.348 N, 26°39.994 O), 6 myl verder, 'n beskutte baai teen die Meltemi. Daar swem ook  'n reuse bloubul van 'n jellievis.


Çamlik Köyü
Die bloubul is 'n jellievis

Die see is kalm in die baai, maar Gus val ons met mening aan as hy oor die berg in die see val. Dis die een windvlaag na die ander.

Die aand maak ek nie 'n oog toe nie.

Turkye. Bademli Baai.

27 Augustus 2014.  Woensdag.

Çandarli tot Bademli

Bademli, (39°00.946N, 26°48.289 O), is 'n baai met twee ingange, 'n nou, smal een in die noorde en 'n nouer, smaller een in die suide. Ons het net 12.9 myl om te vaar, dan is ons daar. Die Turkse kuslyn is regtig mooi. Dis kurwes berge en bloue waters en mense wat uitgelate in die see baljaar.

Blou water

Ons seil vir 'n ruk, totdat ons om die hoek gaan en wind van voor kry. 

Om die hoek

Ons kom by nouer suidelike ingang en dis omtrent meet en pas om deur te kom. Die kanaal is smal omdat daar rotse en vlak plekke aan albei kante is wat jy moet vermy.

Suidelike ingang

Ons deel die beskutte baai met drie ander jagte. Vir die eerste keer in 'n lang tyd, sien ons weer olyfbome. Hulle staan as't ware met hulle voete in die see.

Bademli Baai
Olyfboord

Die rustigheid van die aand kom pluk aan ons siele en ons gee ons oor aan die voleindiging van die dag.

Voleindiging

Tuesday, August 26, 2014

Turkye. Çandarli.

26 Augustus 2014. Dinsdag.

Yenifoça tot Çandarli

Dit was alweer 'n windverwaaide nag. Dis 'n geklots en 'n gedraai, maar daar is 'n gerustheid in my hart. Ek het self daai anker gegooi, ek weet hy sal hou.

Ons gaan vandag na Çandarli (38°56.195 N, 26°56.280 O), 13.1 myl. Die dae is deesdae lekker kort.

Daar lê baie skepe in die baai. Sommige wag vir olie by die olieraffinadery. Ander wag op vernietiging, want daar is ook 'n skipsloopwerf. Dis die laaste rusplek vir ou skepe, waar hulle opgebreek word vir herwinning. Dis so "sad".

Gus waai reg op ons neus en arme Maja klap met haar romp op die deinings. (Auto bestuur). Hierdie deinings is mos sulke "kort op mekaar deinings".  As jy oor die een vaar, klap Maja pens en pootjies, snoet eerste in die volgende deining en dan kreun en steun sy van pyn. Archie vat toe die helm en omseil die deinings. Geen geklap meer vir ou Maja nie.

Çandarli se kasteel

Ons kom by Çandarli aan. Dis 'n groot baai met 'n paar plaaslike skuite en bote. Ons soek ankerplek in die troebel baai en die eerste keer gooi ek seegras raak. Ons gooi weer en dié keer byt daai anker so, dat Maja in haar spore vassteek.

Vas geanker

Later die middag klim ons in Dinkie en gaan dorp toe. Ons kyk na die mooi kasteel, wat ongelukkig toegesluit is.

Kasteel
Strand

Later koop ons ewe dapper 'n vars vis om die aand gaar te maak. Wat 'n sukses was die aandete.

Voor
Na

Ons vriend, Deon, van Aliwal se wêreld, wil weet hoe ervaar ons die Turke.

Ek moet sê dat die taal die grootste probleem is. Baie min Turke kan Engels praat wat kommunikasie moeilik maak. Die kere wat ons hulp nodig gehad het, het ons beleef dat hulle uit hulle pad gaan om ons te help. Dit lyk of hulle regtig omgee. Hulle is baie vriendelik en hulpvaardig.

Sommige vrouens dra kopdoeke en swem in hulle gewade, maar die meeste is baie modern. Die Turke in die Oostelike dele is blykbaar meer konserwatief.

Swem

Hulle is baie hardwerkend. Sommige supermarkte is 24 uur oop. Lui is hulle nie. Dit lyk of hulle 'n vooruitstrewende nasie is. Die meeste Turke is Moslems maar hulle is nie fanaties oor hulle godsdiens nie. 

Ons geniet ons ervarings in Turkye. 

Monday, August 25, 2014

Turkye. Yenifoça.

25 Augustus 2014. Maandag.

Metalika tot Yenifoça

Alweer oppad. Altyd oppad. Dis die lewe van 'n seilende sigeuner. Die wind het vroegoggend begin waai. Gelukkig is dit vandag net 10 myl na Yenifoça (38°45.003 N, 26°50.058 O).

Gus waai van voor. Selfs met die nuwe enjin, beur Maja teen die wind. Later word dit beter. Gus waai ligter en dadelik is die see kalmer.
Ons kry oppad twee merske golwe wat ons hoog eenkant vat en laag anderkant af. Al wat ek kan sê is: "Jo!"

Ons heenkome is 'n heerlike baai, ons soek 'n sandkol en toe ek een sien, gooi ek daai anker voordat Archie Maja gereed het. Hy skree nog vir my "Stop!", maar ek hoor nie, die anker raas mos. Hy tru toe maar, die anker byt en vas is ons.


Yenifoça Baai
Yenifoça

Toe gaan ons dorp toe. Dis so gesellige dorp, vol vakansiegangers  en gewone mense én ons.

Yenifoça

Ons loop rond, eet 'n pizza, koop 'n paar goedjies en roei terug na Maja.

Trimpark, Turkse styl

Moskee

Ons geniet ons aandete op Maja se dek.