Thursday, July 31, 2014

Turkye. Ilica Baai.

30 Julie 2014. Woensdag.

Gümüşluk to Ilica Baai

Soveel dae, soveel dinge. Altyd dieselfde, tog so anders. Ek en Shiree van Gumnuts neem afskeid soos ou vriendinne. Gerrie en Ansu neem hulle posisies op Maja in en op is die anker. Met 'n laaste wuif na Gumnuts se kant toe, pak ons die vaart aan na Ilica Baai (37°07.140N, 27°24.950 O), 16.3 myl.

Turkse landskap
Ongerepte kus
Konkreet oerwoud

Ons vaar wind-op tot ons om die hoek gaan. Seilspan is vir die nuwe bemanning nou al maklik. Hulle skuif agter hulle toue in en trek sekuur. Gerrie "trim" die seile dat niks flapper en wapper nie. As haar werk klaar is, sit Ansu daar en dan langbeen op die dek.

Ons seil lank en lekker. Almal dink hulle eie dink. Staar hier en tuur daar. Ek sit en wonder wanneer hierdie Turkye dan nou onder my vel gaan inkruip. Ek hou van die plek, maar my hart lê elders.

Gus begin al hoe sterker waai. Ek kan nie verstaan waarom hy altyd net wag dat ons moet anker en dan sy hart uit blaas nie.

Ilica Baai

Ons moet anker en dan 'n landlyn aan wal vasmaak. Dié keer is die swemtou gereed. Ons gooi anker, maar Gus dryf ons van koers af. Hy waai met 'n fors van die kant af. Ek trek op. Die ankermotor steun en kreun, ek dog hy gee die gees. Die anker sit vas aan die buurboot se ankerketting. Totaal vas. Archie en Gerrie tot die redding en Archie doen weer die touding. Hy bevry ons anker sonder om hulle anker te versteur.

Ons gooi weer, Gus probeer sy bes, maar dié keer is die glorie ons s'n. Archie swem met die tou land toe en later swem Gerrie ook en die swaers trek die toue styf soos een man. 

Ysterman
Die swaers maak vas

Na die suksesvolle anker, skink Ansu weer vir ons koue drankies. Salig!

Ansu doen haar ding

Met die koms van die aand gaan lê die wind.

Kaptein van sy boot

Wednesday, July 30, 2014

Gümüşlük.

29 Julie 2014. Dinsdag.

Akyarlar tot Gümüşluk

Wat 'n naam vir 'n plek! Gümüşluk (37°03.262 N, 27°14.105 O), is 8.6 myl om te gaan. Ons verlaat 'n pragtige Akyarlar in die vroegoggendson. 

Totsiens Akyarlar

Die wind waai liggies en ons span die hoofseil en die genoa. Ons seil rustig totdat Gus ons in die steek laat en ons maar seile intrek en verder motor.

Oggendskoot - Vaagweg
Maja onder vol seil
Ansu in ligte luim

Gümüşlük se kaai lê voor ons en 'n seiljag vertrek en daar is sowaar plek vir ons. Gumnuts, 'n seiljag wat ook by Ios en Amorgos was, is ook daar en ons word bure. Hulle anker lyk bietjie skeef, maar nou-ja. Ons gesels lekker met Martin en Shiree van Gumnuts. Hulle spog met hul nuwe seiljag en wys alles vir Gerrie en Ansu.

Martin, Gerrie en Ansu op Gumnuts

Gümüşluk is 'n plek met atmosfeer, 'n gelukkige plek. 

Een van Gümüşluk se talle restaurante

Gumnuts besluit hy moet sy skewe anker weer gooi en maak toe so. Dis waar die moeilikheid begin...

Hulle vaar uit hul staanplek. Ons almal staan op die dek en 'n klein skare staan op die kaai en kyk hoe die vaardige en bekwame Martin sy anker optrek. Hulle trek en trek en ek verbeel my ons anker maak 'n roering.

Hulle sukkel, kry g'n niks op nie. Na 'n ewigheid kry hulle iets uit die water gehaal en dit was beslis nie die Bybelse Moses van ouds nie. Dis wraggies 'n anker bo-op sy anker! Ons anker! O, die pyngedagte. Die skare staan verstom. 

Kyk waar is Maja se anker!

Hulle gooi ons anker terug in die water en nou is Maja ewe lossies teen die kaai. Die ander buurman wat gebare taal praat, beduie ons moet Maja met 'n ekstra tou vasmaak. Ons maak so.

Gumnuts tru in, gooi anker en maak vas. Archie trek ons anker in met die hoop hy byt. Martin is nou dubbeld vies - vir ons, omdat ons oor sy anker gegooi het én meer nog vir homself, oor hy sy anker so windskeef gegooi het. Hy straf ons deur vir ons ander bure te gaan kuier.

Ons anker het toe glad nie gebyt nie en ons maak los, vaar uit en gooi ons anker weer. Toe weet ons dat ons veilig is.

In Turkye moet jy 'n swartwatertenk hê - dis 'n fênsie naam vir 'n septiese tenk. Archie en Gerrie moet dit opkoppel, want dit is die wet. Die swaers bring die hele middag in die toilet deur, met warm, natgeswete lywe. Na ure se gewerk, is hulle uiteindelik klaar en ons kan nou wetlik skyt in ons skuit.

Die swaers weer aan die werk

Ons gaan loop op die ou muur van die dorp, waarvan die oorblyfsels onder water is. Gerrie se kamera gaan saam!

Pelgrimstog oor die ou muur
Ons pelgrimstog


Ansu en Gerrie kook hoender. Dit ruik so lekker, ons monde water.

Akyarlar.

28 Julie 2014. Maandag.

Bodrum tot Akyarlar

Ek is nie spyt dat ons Bodrum moet verlaat nie. Die plek het nie op my gegroei nie. Net 'n mallemeule roesemoes van mense. Proviand koop is nou prioriteit. Ons gaan 'n paar dae op anker wees, so ons koop groot. Dis rugsakke en drasakke vol kos. Genoeg vir 'n weermag.

Ons vertrek laat, want Akyarlar (36°57.909 N, 27°17.692 O), is nie ver nie, net 9.4 myl. Gus waai net liggies van voor en ons vaar die hele pad. Ek kyk met lang öe na Griekeland wat net oorkant die seestraat lê. Ek wens ek was nog daar.

Oppad
Turkse eilandjie
Rotse en berge

Ons kom by ons baai aan en dit is pragtig. Die water is kristalhelder en baie blou. Turkye lyk skielik vir my baie mooier.

Akyarlar

Ons anker maklik, met baie min gestry. Gerrie en Ansu slaak 'n sug van verligting met die wete dat ons huwelik nie op die rotse is nie. Gerrie dien as buffer in my en ou Arch se kommunikasie tydens die ankergooiery. As ek sê: "Is die man dan nou mal?", vertaal hy met: "Is jy seker, Archie?"

Ons swem in die helder water en baai ons warm lywe in die koele lafenis. Hemels! Gerrie geniet homself met sy nuwe speelding - 'n onder-water kamera.

Swem soos visse in die helder water
Onderwater kaskenades
Gerrie en Ansu in die water
Ansu

Ons eet die aand lamsnek en dit is heerlik om vir 'n slag regte egte vleis te eet.

Die liggies van Kos, Griekeland, daar oorkant die seestraat, wink vir my, maar Turkye begin al beter te lyk.

Monday, July 28, 2014

Totsiens Griekeland. Hallo Turkye!

26 Julie 2014. Saterdag.

Kos tot Bodrum

Ek is traag om Griekeland te verlaat. Dit voel soos my tweede huis. Nugter denkende Archie sê: "We have to go. We can do nothing about it." Ek wéét dit, maar ek lief Griekeland.

Ons verlaat Griekeland met die optrek van 'n anker en die losmaak van 'n tou. As emosionele bande maar só maklik was om los te maak...

Ek noem die wind weer Gus, want die ander name werk nie vir my nie. Hy waai lig-lekker, sonder bangmaak van agter en ons seil stadig en rustig na Bodrum (37°02.047 N, 27°25.420 O), 11.2 myl. Gus het seker geweet dat ek nie gretig was om Kos te verlaat nie.

Koebaai Kos

Bodrum met sy kasteel, kom stadig nader. Wat hou die Turkse waters vir ons in? Dis nou weer nuwe terrein met nuwe ervarings en mense. 

Kos se kasteel

By Milta Marina word ons in ge-eskort met 'n man op 'n dingy wat die tou aangee en 'n man op die pier om te help vasmaak. Ek en Gerrie werk op die snoet, Ansu keer af en Archie doen die res. Veilig vas.

Bodrum se hawe

Archie en Gerrie sit dadelik af na die doeane en hawemeester om ons gewettig te kry, maar dis toe nie so eenvoudig nie. Gerrie kom haal ons vrouens, want die hawe polisie wil ons persoonlik sien.

Archie is hotkant toe en weer haarkant. Dis die Gesondheids Departement, die hawemeester, die hawe polisie, die doeane amptenare en wie nog? Ons sit maar net by Immigrasie en wag, want die meeste amptenare het net oë vir die kaptein. Dit neem vier ure om in te klaar en 'n doodmoeg gestapte Archie. En boonop kan hierdie mense nie eintlik Engels praat nie. 

Oppad terug swig ons voor die vismark en koop prawns waarvoor Ansu vreeslik gril. Sy koop vir haar hoenderborste. Ek maak daai vars prawns gaar en ons eet die kilo heerlike seekos wortel en tak op. Ansu knibbel aan die borste.

Seevars seekos

Ons gaan dorp toe en Bodrum pomp. Dit wemel van menslywe. Waar hulle almal vandaan kom en wat hulle almal hier maak, weet nugter.

Kasteel

Ons besluit ons wil ietsie Turks gaan eet. Ietsie wat 'n stukkie skaapvleis in het. Ons loop op en af en soek na 'n restaurant wat ons die vorige aand gesien het, maar die plek het van die heelal verdwyn. Het dit tot vandag nie gekry nie. Ons gaan toe maar na 'n ander klein restaurant toe, met 'n vrou, wat glad nie Engels kan verstaan nie, wat ons dwing om te sit. Ons sit toe maar en bestel "wraps" met lam gevul en so slegte koeldrank. Wel, die ete by dié plekkie was interessant.


Ansu en Gerrie by die restaurant

Ek verlang na mooi Griekeland.


Sunday, July 27, 2014

Kos Eiland. Kos. Laaste dag.

25 Julie 2014. Vrydag.

Vlychadia tot Kos

Ons nader nou die laaste skof in my geliefde Griekeland. Ons gaan vandag na Kos (36°53.825 N, 27°17.263 O) op die eiland met dieselfde naam, 18 myl om te vaar.

Dit behoort redelik maklik te wees, want net ligte winde word voorspel. Ons vertrek 08:00 uit 'n winderige baai en vaar op 'n winderige see.

Oggendskoot - Ver en naby

Ons seil 'n groot deel van die skof. Ons vaar oor 'n snaakse vlak deel van die see waar die deinings onseker is wat om te doen. Dit breek die kant toe en rol daai kant toe en ons rol saam.

Voor ons is Kos. Op die oog af lyk dit na 'n lelike dorp. Strandsambrele is orals langs die blou. Ons vaar na die dorpskaai, gooi anker, tru in en maak vas. Die ankerkatrol, wat die swaers reggemaak het, werk nog.

Kos
Tydelike tuiste

Ons gaan verken die dorp. Eintlik is ons reguit kasteel toe. Dit beïndruk ons geweldig. Dit dateer uit 1454. Dis oud en goed bewaar. Gerrie "oo" en "aa" heeltyd as hy prentjies in sy kop sien oor hoe die mense van ouds die kasteel beskerm het.

By die skietgat
Kasteel
Kasteel

Ons verken die res van die dorp. Kos is 'n lewendige dorp met 'n "vibe" wat 'n langer besoek regverdig.

Romeinse Agora
Moskee
Hippocrates se boom

Archie het ook sommer vandag na die doeane gegaan en ons is uitgeklaar. Ons slaap vanaand ons laaste slaap in Griekeland!

Uitkyk op Turkye - ons voorland

Thursday, July 24, 2014

Kalymnos Eiland. Vlychadia.

24 Julie 2014. Donderdag.

Levitha tot Vlychadia

Vandag is die dag. Dis die dag van die groot kruising. Normaalweg waai die Meltemi in dié kanaal, waaroor ons moet gaan, met groot fors af.

Poseidon het ligte winde voorspel en ons vaar in spanning om te sien wat die dag na Vlychadia (36°55.867 N, 26°57.921 O), 26.6 myl vir ons inhou.

Ek moet die anker optrek. Ek wonder of die anker gaan werk. Ek druk die groen op-knop met verwagting. Gaan die anker, waaraan die swaers gister so hard reggemaak het, werk? Dit werk! Ek trek die anker sonder sukkel op.

Ons vertrek en die rof en ruheid van die Aegean See is nêrens te sien nie. Ons vaar op 'n seepgladde see. Dit is te wonderlik vir woorde! Dat ons die moeilikste deel van die Cyclades so kan kruis! Jubel jubel jubel!

Wasgoed
Kalymnos kalm see

Ons kom by Vlychadia en die plek het 'n ware vakansie atmosfeer. Ons gooi maklik anker, sonder huismoles. Later ontdek Archie 'n konkreet vasmeerblok direk onder ons en na 'n diep duik het ons sowaar die perfekte vasmeerplek. Vanaand slaap ek sonder  ankersleep-vrese.

Vlychadia

In die laatmiddag laai Archie eers vir Gerrie en daarna vir my en Ansu in die dorpie af. Die vier van ons saam is te swaar vir Dinkie - sy sal waarskynlik sink.

Dorp toe

Die dorpie is baie klein, maar het pragtige uitsigte oor die baai.

Maja in die baai
Aandstond het goud in die mond

Dis sowaar lekker by die see.
Ansu soek 'n huisie by die see.
En Gerrie sê sowaar nee!

Huisie by die see