Sunday, June 29, 2014

Athene.

27 Junie 2014. Vrydag.

Aegina tot Athene

Dis vir my 'n anti-klimaks om, na al die pragtige eilande, die vervelige pad na Athene te vat. Dis mistig en deinserig en die lug en water is besoedel. Ek dink my denke en my doen is ook besoedel. My kop en lyf het 'n behoefte aan vry kom. My gemoed is net so troebel soos die water.

Aegina visserman
Haastig oppad na Athene

Die stad kom al nader en dit lyk na 'n oerwoud van beton. Die landmerk van ons marina is die Olimpiese Stadion. Ons kry ons vasmeerplek en die marinaspan is baie hulpvaardig en vas is ons.

Oerwoud van beton
Olimpiese Stadion

Saterdagoggend verlaat Dirk en Rika ons en ek en Archie laai 'n baie groot bondel wasgoed in 'n groot rugsak en klim die trein dorp toe. Ons was die bondel silwerskoon by die Laundromat. Alles moet douvars en skoon wees vir my suster, Elize en haar vriendin, Annette wat Maandag by ons aansluit.

Rugsak vol wasgoed

Ons gaan ons dae in Athene gebruik om die stad te verken, te rus en op Maja te sit en sweet.













Saturday, June 28, 2014

Aegina.


25 Junie 2014. Donderdag.

Korfos tot Aegina

Ons nader die einde met ons gaste. Ons moet hulle in Athene aflaai.

Van Korfos vat ons die 16 myl pad na Aegina (37° 44.693 N, 23° 25.702  O). Dit begin as 'n stil dag en later verander die plat see na deinings en wind. Die laaste stuk see is maar lekker rof. Gelukkig hou die gaste baie van rowwe see, so hulle geniet die rit.

Aegina

Ons kom in die hawe van Aegina, maar dit lyk vol. Ons sien 'n oop spasie, Archie tru in en ek gooi anker. Archie skree vir my om op te trek, want die plek waar ons wil vasmeer, is 'n "no mooring" plek. (Later meer daar twee bote in die verbode plek vas).

Ons kry, danksy Archie se "uit die boks kyk en dink", 'n snaakse vasmeerplek, so aan die punt van 'n kaai. Almal neem posisies in, en ons gooi anker. Die wind waai kwaai en Dirk sukkel om Maja vas te kry. Archie skree die opdrag om maar weer die anker op te trek. En ek maak toe maar so. Maar, o wee, die anker haak vas aan 'n moerse ketting en Archie moet die saak kom red. Ek skuif agter die helm in en Archie kry 'n tou en hou die ketting op sodat die anker kan vry val. Gelukkig kom die anker los en ek gooi weer. Dieselfde posisie, maar net linkser.
Dirk is reeds op die kaai en die keer is dit suksesvol en Maja is vas.

Die hawe is soos 'n sirkus, die bote stroom in en soek plek en kry plek. Later kom 'n ander seiljag langs ons in en later nog een. Ons was toe drie seiljagte langs mekaar op een plek. Die mense op die boot aan ons stuurboord kant, moet oor Maja klim om op land te kom.

Archie aan die werk

Ek en Archie gaan loop in die dorpie rond. Dis 'n mooi plek en ons geniet dit hier.

Dorp se kerk
Kerk kunswerk
St Nikolas kerkie

Ons sien ook ons Duitse vriende, Joerg en Silvelie en gesels 'n bietjie. Ons drentel terug na Maja.

Thursday, June 26, 2014

Peloponnisos. Kanaal van Korinte. Korfos.

25 Junie 2014. Woensdag.

Korinte tot Korfos

Ons sou twee dae in Korinte gebly het, maar na die sweterige nag,  as gevolg vir die vrees vir 'n potensiële rotplaag en  builepes, besluit ons dat ons gaan ry. Ons maak inderhaas klaar en begin alles gereed kry om deur die Kanaal van Korinte te gaan. Opgewondenheid is aan die orde van die dag.

Ons vaar na die begin van die kanaal. Archie roep op die radio, kanaal 11, en die man sê ons moet wag. Ons is vier bote wat wag om deur te gaan. Ons dobber daar rond en wag. Die man op radio roep eers vir Pelekan, daarna die volgende boot en dan ons. Ek is so opgewonde, die seiljagte begin een vir een beweeg. Ons is in die kanaal.

Die ongeduldige man op die radio sê vir al die seiljagte: "Increase Speed!" En Archie trap daai petrol en ons vaar vir die vale - 'n volle 6 knope.

Die kanaal is 3.2 myl lank, 25 m wyd, 6.5 m waterdiepte en die walle 79 m hoog op hulle hoogste punt. Die Romeinse keiser, Nero, was die eerste om te begin grou aan die kanaal, maar hy het nie ver gevorder nie. Uiteindelik, in 1893, is dit deur die Griekse regering klaargemaak. Die hydroliese padbrûe, aan die begin en einde van die kanaal, word laat sak dan vaar die bote oor. As al die bote verby is, verskyn die brug weer uit die water en word 'n motorbrug.

Brug verskyn uit die niet

Daar is ook twee padbrûe en 'n treinbrug wat dit op die diepste punt kruis.

Ander brûe

Ons jaag in die indrukwekkende kanaal af, Archie konsentreer agter die helm. Ons neem meer foto's as my suster, Elize.

Kaptein konsentreer
Hoë kranse
Jag nr. 4 
Indrukwekkend
Einde van kanaal

Die einde van die kanaal kom in sig en ons maak gereed vir vasmeer om te gaan betaal. Dis "alongside" en gelukkig is daar 'n man op die kaai wat die tou vang. Maklik en vinnig. Arch sit af na die betaalpunt, en dok die höe bedrag op en ons vaar verder, na Korfos (37° 45.900 N, 23° 07,557 O), 21.3 myl.

Ons maak vas by 'n taverna se vasmeerplek, want Dirk en Rika neem ons vanaand uit vir die dankie-sê-ete. Die eienaar staan gereed met die tou en ek laat eers die vasmeertou val en die man gee dit geduldig weer aan. Daar is geen wind nie, so dis geen probleem nie. Ons meer weer maklik en vinnig vas.

Ons tafel is vir 20:00 bespreek. Ek en Archie bestel 'n baie spesiale vissop en Dirk en Rika bly by die tradisionele Griekse kos en eet mousaka. Die kos is heerlik en besonders. 'n Goeie afsluiting vir twee weke se seil saam met Dirk en Rika.

Vissop se vis
Ons eet op Maja se voorstoep

Oor twee dae is ons in Athene.

Wednesday, June 25, 2014

Kaskenades op Korinte.

24 Junie 2014. Dinsdag.

Daskalio Eiland tot Korinte

Die afskeid van ons ankerplek is moeilik. Ons is nou op ons laaste been na die Korinte Kanaal. Ons slaap vanaand by Korinte (37° 56.473 N, 22° 56.180 O), 17 myl. Dis mos hoeka die Bybelse Korinte, waar oorlede Paulus van ouds sy briewe aan die Korinthiers geskryf. Dis mos die plek van die liefde die -  1 Korinthiers 13.

Oppad lol ons dieptemeter. Dis skielik 4.2 m diep in 200 m water. Toe skielik flikker die dieptemeter op 7 m. As dit flikker, beteken dit dat dit te diep is om diepte te lees en die laaste lesing word as diepte gestoor. Wat is verkeerd? Elektriese probleem? So vaar ons al flikkerende in 7 m water, terwyl ons weet dat die water meer as 200 m diep is. Ek sug maar net.

Rika merk ewe droog op dat sy iets sien. Ek is agter die helm, besig om na die flikkerende dieptemeter te staar en kyk in die rigting. Dis dolfyne. Ek verander dadelik van koers en vaar in hulle rigting. En sowaar, dis 'n hele skool dolfyne. Hulle swem heerlik saam met Maja. Dan is hulle hier en dan is hulle daar. Hulle gee vir ons 'n skouspel wat beter is as enige akwarium.

Skouspel
Dolfyn

Ek en Archie bespreek die dieptemeter-situasie. Ons dink dit was dolfyne wat onder die boot deur geswem het en die diepte van eers 4 m en later 7 m registreer het. Toe ons om die draai gaan en die see word vlakker kan die dieptemeter weer lees en skielik lees dit 80 m. Wat 'n verligting, dis nie 'n elektriese probleem nie, dit was sweerlik die dolfyne. Die oulike goed!

Ons seil

Korinte is op die oog af 'n lelike plek.

Korinte

Ons meer "alongside" vas en Archie en Dirk het die vreeslike bespreking van toue en vasmaak en ek weet nie wat nog alles nie. Dirk beduie en verduidelik vir die vale en Archie verstaan nie. Wat die uitslag van die eksperiment was, sal nie openbaar gemaak word nie.

Bespreking van eksperiment
Deel van die eksperiment
Later in die dag is dit weer "operasie waterkry". Elkeen kry 'n taak. Dit sou baie eenvoudig gewees het as die tuinslang by die kraan kon uitkom. Die probleem is dat die kraan te ver is en die slang te kort is. Hulle moet dus die kortste pad kry, wat deur die water is. Archie moet met die tuinslang  swem. Rika hou die een punt op Maja vas en Dirk wag die ander punt op die kaai in. Na verskeie pogings, met verskeie krane en verskeie roetes deur die bote se vasmeertoue, propellers en roere, is daar eenparige besluit - die tuinslang is te kort.

Ons moet toe maar tevrede wees met 'n kaaistort en geen water vir Maja nie.

Rika hou die een kant vas
Net te kort

Ek en Archie stort soos uitgelate kinders, met ons swemkostuums (geen stort eskapades nie). 'n Interessante man op 'n fiets, met 'n hond, onderbreek vir Archie terwyl hy my met 'n dik stroom sproeiwater afspuit. Archie staak die afspuitery net daar en dan. Ek is seker al die seep is nie af nie. Hy en Jonathan klets te heerlik. Ek ruik na seep.

Archie en Jonathan klets

Korinte lyk nie so idillies soos wat dit klink die. Ons moet die nag met toe vensters slaap, want daar is vermoedelik rotte. Dit word 'n warm nag.

Monday, June 23, 2014

Daskalio Eiland. Anker.

23 Junie 2014. Maandag.

Ioannou Baai tot Daskalio Eiland

Na 'n heerlike nagrus vertrek ons eers 10:00 na Daskalio Eiland (38° 07.105 N, 22° 59.213 O). Dis 'n baie kort dag, net 6 myl.

Bar en droog
Droog en bar

Gus waai liggies en ons span die seile en seil rustig na ons bestemming. Te gou is ons daar en die omgewing betower ons. Ons gooi anker en ons het 'n 360⁰ uitsig. Ek en Archie klim in Dinkie en roei land toe. Die baai is baie mooi van bo af. Ons kyk en kyk en waardeer en verstom ons aan die mooi.

Baai vanuit bouvallige villa
Maja en my man

Ons roei na die ander klein eiland toe en kyk en kyk weer en waardeer en verstom ons weer aan die mooi. Maja lê daar ver op anker. Seemeeue vlieg rond en skree en gil en raas. Die eiland is hulle broeiplek.

Pragbaai met Daskalio Eiland agter
Seemeeue in vlug
Jong meeue

Toe is dit Dirk en Rika se beurt om die mooi te gaan sien. Ek en Archie koel af in die water. Dit word warm hier in Griekeland.

Kleurvolle fynbos

Die vreedsaamheid van hierdie ankerplek word geniet en waardeer.


Ioannou Baai. Anker.

22 Junie 2014. Sondag.

Vereses Baai to Ioannou Baai

Ons verlaat die ontstuimige Vereses op soek na die stiller waters van Ioannou Baai (38° 12.783 N, 22° 58.001 O), 23.3 myl verder in die Golf van Korinte.

Vroegoggend, 'n stiller Vereses

Ons vaar die hele dag. Dis net prrr-prrr die hele dag deur. Ons vaar verby maanlandskappe. Die wêreld word droër en bar hier (Leon sê ek en Dirk is bar as ons saam is). Die plantegroei is aansienlik minder en die groen is weg. Dis vir my mooi.

Bergagtig
Tsarouchi Eiland
Mooi landskap

Ons kom by die ankerplek aan en die baai is klein. Dis een van daai baaie waar ons 'n tou land toe moet vat.

Interessante rotsformasie by ankerplek

Ons soek plek en strategie word bespreek. Wie doen wat. Met ons vorige kuiergaste was Dirk Luus die swemmer en ons besluit ons hou by die Dirke en Dirk Grobler moet nou land toe swem. Archie tru, ek gooi anker en Dirk staan gereed. Rika staan vir kwaadgeld rond.

Gewapen met die tou en die ketting duik Dirk in die water en daar trek hy. Soos 'n vis in die water. Die klippe is skerp en dis 'n moeilike taak om die regte klip te kry om die landlyn aan vas te maak. Na beenbeserings is die tou vas en Maja is veilig. Archie swem met die ander tou in, maar helaas, hy swem vir die tou weg en moet omdraai, die tou kry en weer swem. Hy maak vas en toe is Maja aan albei kante vas en veilig.

Dirk maak vas

Die water is heerlik en ons koel ons warm lywe af in die blou water. Dis regtig stille waters en ons geniet die ankerplek, sonder Gus wat waai.

Saturday, June 21, 2014

Vereses Baai. Windbaai.

21 Junie 2014. Saterdag.


Galaxidi tot Vereses Baai

Ons is nou uitgekuier in Galaxidi. Vandag seil ons na Vereses Baai (38° 19.518 N, 22° 35.335 O), 16.8 myl. Ons Duitste bure vertrek ook vandag. Ons groet hulle op die waters. Ons paaie loop uitmekaar, soos dit maar met seilers gaan. Altyd koebaai.

Galaxidi
Oggendskoot - St Georgios Eiland
Auf wierdersehen Joerg en Silvelie

Eers vaar ons, toe seil ons en toe is dit weer motor aan om te vaar. Die deinings word bietjie groter. Bo-op elke deining ry daar 'n klomp astrante klein deiningtjies saam. Ek wonder waar kry die deinings al hulle rol vandaan. Word hulle nooit moeg van die alewige gerol nie?

Dirk en Rika

Die baie mooi baai waarheen ons gaan, het sulke lewendige water. Dit woel en wriemel. Dit voorspel net een ding - dis Gus se speelplek.

Antikyron Baai

Ons gooi anker, maar daai wind waai. Die berge maak bondels wind bymekaar en gooi dit met mening in die see af. Bo-op Maja en swaai haar rond.

Tsarouchi Eiland
Vereses Baai

Ek is nie lus vir die ewige wind nie en vervies my sommer vir Gus. Archie, Dirk en Rika is so ewe tevrede met die omstandighede. Dit lyk my nie wind pla hulle nie. Dit waai so erg dat Dirk en Rika besluit hulle sien nie kans om met Dinkie land toe te gaan nie.

Die gewaai hou net aan en aan. Later kom nog 'n arme drommel ankerplek soek. In my enigheid wonder ek of die kaptein van sy kop af is om so 'n ankerplek uit te soek!

Almal is besig met sy eie ding.

Toe besluit ek om vir Archie en Gus 'n ding te wys. Gus waai ons hot en haar, van bakboord tot stuurboord, eers die kant toe en dan daai kant toe. En Archie verbied my mos om te sing as ek musiek luister. Ek sing kwansuis te lelik.

Ek kry my vriendin, Riana, se Walkman en verban Gus uit my ore en gaan staan op Maja se snoet. Gus waai 25 knope en ek hou die genoa se paal styf vas. En toe sing ek uit volle bors saam met die musiek. Ek gee my oor, laat gaan en ervaar die wind in my gesig, oor my lyf, met Maja wat trillend deur Gus rondgeslinger word. Ek is nie wie ek is nie. Ek weet nie wie ek is nie. Dis net ek, Maja en Gus. Dit was so bevrydend!

Soms, as jy nie van iets hou nie, kyk verby dit, gebruik dit en verander na iets wat jy jou eie kan maak en geniet dit.

Toe dans ek en my man agter op die dek.