 |
Van Cavtat tot Kotor |
(Aan my familie - maak seker dat Fanie dit nie lees nie.)
Vandag groet ons vir Kroasië. Ons gaan nou Montenegro toe. Dit was 'n nag vol ligte deinings op anker. Seker maar gister se wind se skuld.
Archie skakel die motor aan. Ek gaan trek die anker op. Ons is gereed om te vertrek en weg is ons.
Maar die motor begin onegalig dreun. Archie, soos 'n wafferse dieselwerktuigkundige, gaan ondertoe, maak enginkap oop, en maak probleem reg (bent compression ratio). Weet nie wat dit is nie.
Tóé is ons oppad. Ons Sweedse bure is ook oppad en stop by ons en vra of alles reg is. Gawe mense.
 |
Die Swede - Eivor en Sören Carlsson in Jag Apostrof |
Ons vaar versigtig uit die baai na net langsaan waar ons deur Kroasië se doeane moet gaan. Daar is vlak see, rotse en vlak riwwe in die gebied. Ons kom veilig by die doeane aan.
Nou vir die "alongside" parkeer by die doeane. Dis wanneer jy parallel parkeer en vir twee onervare mense is dit baie moeilik. Die Swede is voor ons daar en hulle parkeer. Daar is 'n boot voor en agter hulle. Geen plek vir ons nie.
Hulle wys vir ons met handgebare dat ons langs hulle moet parkeer. Benoude oomblikke, maar hulle vat ons toue (hulle was reeds vas aan die kaai) en ons meer teen hulle vas. Redelik maklik.
Ek pas vir Maja op en Archie gaan klaar uit. Alles is gou afgehandel en ons en die Swede vertrek. Hulle gaan ook Montenegro toe. Ons kom nader aan die oop see.
Archie probeer 'n seil span, die Swede probeer nie eers nie. Wind is min en van agter. Seile weer af.
Die see is rof. Dis nog van die Sahara-wind. Voor ons vaar die Swede. Ek sien hoe hulle boot woes heen en weer kantel. Ek kyk vinnig weg. As húlle so lyk, lyk ons ook so! Dit lyk of hulle wil omkantel.
Dis 'n lang pad. Ons gaan vir vier tot vyf ure so moet vaar. Ek voel hoe klem my kake. Ek sien nie hiervoor kans nie! Ek sien nie hiervoor kans nie!!!
Archie vat die helm stewig vas en met 'n vasberade doelgerigtheid vat hy golf vir golf aan.
 |
Kalm, vasberade en doelgerig |
Dis 'n geveg tussen mens, see en Maja. Ek voel hoe die paniek my pak. Die angs is groter as ek. Dit val my rede aan. Ek kan nie logies dink nie.
Archie staan agter die helm, konsentrasie op sy kalm gesig. Ek kan dit nie nou bekostig om toe te gee aan die alles-oorheersende angs nie. Ek moet iets doen. Daar is nog ure van hel wat voorlê.
Toe gaan sit ek en hou aan die "winch" vas. Ek moet my kop wegkry van die golwe, die omval, die vergaan. Ek maak my oë toe om die "sien" te laat verdwyn. Ek begin saggies te sing. Ek kry nie nie die woorde uit nie, want die klem sit nog in my kake.
Ek hou aan sing. Ek probeer die liedjies onthou wat ons by die skool in gewyde sang gesing het. Ek sing en sing. Later raak die liedjies op. Vier ure is lank, hoor.
Ek sing seënbede vir my hele familie, vir my vriende, vir almal waaraan ek kan dink, selfs vir mense waarvan ek nie hou nie. Ek hou net aan en aan sing. Sonder dat ek dit besef, raak ek kalmer. Die angs verander in bang, die bang verander in kalmte.
En ou Arch hou net kalm aan om, saam met Maja, die een groot golf na die ander aan te pak. Dis asof die see ook kalmer word. Ek kan selfs my oë oopmaak. Wonderlik.
Ons is uiteindelik in stiller water van die baai in Montenegro. Dis heerlik. Ons vaar na die doeane se vasmeerplek in die dorpie Zelenika. Daar is net een boot daar vasgemeer. Ons parkeer maklik "alongside".
Dit is nie lank nie en ons is reg vir die nuwe land. Ons vaar en die wind is reg en toe seil ons. Heerlik.
Ons besluit ons gaan na Kotor (42º25'.418N, 18º 46'.214E). Dit is pragtig oppad na Kotor. Hoë berge, blou see. Duisende jare gelede was die gebied 'n gletser en nou is dit 'n fjord.
 |
Kalmer waters van die Golf van Kotor |
 |
Otok Gospa en Otok Djordje |
 |
Wat 'n uitsig! |
 |
Klein dorpie, groot berge |
Ons kom by Kotor aan. Daar is nie 'n vasmeerman nie, maar daar is wel mense wat ons help. En nie sommer enige iemand nie, die Swede. Die vrou kry die tou en ons meer langs hulle vas.
Sören en Eivor (die Swede) nooi ons vir 'n drankie op hulle boot. Hulle seil nou al vir agt jaar lank, ses maande van die jaar. Hulle sê dis die ergste see wat hulle al ooit in hulle seiljare beleef het. Eivor was net so bang soos ek. Toe voel ek beter. Ons is nou bootvriende.
 |
Sören en Eivor Carlsson - ons bootvriende |
Ons het vandag 38.3 myl (70 km) gevaar, waarvan 20 myl (36 km) op die rowwe see was.
Wat 'n uitsonderlike, uitputtende dag!