Tuesday, May 31, 2022

Ormos Kampi ("Kampi Baai") en Chios

27 tot 31 Mei 2022. Vrydag tot Dinsdag. 

So kom ons marina lewe tot 'n einde. Vandag begin ons vaar. 

Die son kom op oor 'n nuwe seilseisoen. Een waarin ek nie my hart geheel en al kan uitstort nie. Daar's te veel onafgehandelde sake, van huiskoop, visum, koopkontrakte, Golden visums. 

Son kom op

Maar nou ja. Die kaptein sit agter die helm waar hy hoort en daar trek ons na Plomari. Halfpad besluit ons ons gaan verder vaar en gaan toe na Ormos Kampi op Oinoussa eiland, 44 myl. Gus waai liggies en ons seil, maar sommer gou gaan lê die wind en af is die genoa. Vir my is dit heerlik om op die plat kalm see te vaar. Ek het nie op die stadium krag om stormsee te trotseer nie. Daar is reeds te veel storms in my. Soveel onsekerheid. Vooruitsig van drie maande in Turkye seil. Dis 'n ewigheid. Dankie Sue.

Kaptein

Eerste seil

Ons probeer eers by 'n ander baai ankergooi. Twee keer en elke keer ploeg ons die seebodem om. Die anker sleep met oorgawe. Ek is sommer lus vir die gebruik van 'n matrooswoord of twee. Die anker is oorlaai met sukke seebolplante. Ons vaar toe na Ormos Kampi, want die boek sê daat is meestal sand en plek-plek seegras. Wat 'n leuen! Dis meetsal seegras met 'n kol sand. By Ormos Kampi gooi ons ook twee keer. En daai tweede keer byt daai anker behoorlik vas. Gus waai bietjie, maar nie te erg nie. Ons deel die baai met vier eende wat betekenis aan die rympie van "Ëendjies eendjies swem in 'n ry", gee. 

Gus waai en gaan lê toe later en ons het 'n heerlike rustige aand op anker.

Ormos Kampi

Eende

Die volgende dag vertrek ons na Chios se onklaar marina, 10 myl, waar ons gaan wag dat die suidewind moet gaan lê sodat ons nie wind-op hoef te vaar nie. Ons sien vir die tweede keer dolfyne. Oppad Kampi toe was daar ook dolfyne. Ons was in 2019 hier saam met Elize en Martie. Lank hier geskuil teen erge winde.



Dinsdag draai die wind, maar Woensdag is daar weer woeste winde. Ons gaan hier bly tot Donderdag en dan die lang 54 myl kruising Samos toe aanpak. 

Dolfyne

Chios Marina (onklaar)

Chios se windmeulens

N.S. Ons sukkel met die internet en ons sal, totdat dit beter gaan, sporadies die blog plaas. 

Monday, May 30, 2022

Laaste dae in marina

26 Mei 2022. Donderdag

Sue wil nie meer haar huis verkoop nie! Toe Archie die epos lees, was ek besig om met 'n eiervrug te werk. Instinkmatig vermorsel ek die eiervrug.Wat 'n skok! Wat 'n ontnugtering. Ek het alles al so haarfyn beplan, elke kamer is in my kop gedekoreer, elke potplant is geplaas. Projek Plante is ook goed op dreef. Ek kon al sien hoe speel my twee kleindogters in die tuin en op die trappe. Hoe gil en jil hul van plesier. Terwyl ouma roket in die tuin pluk vir die aand se Griekse slaai. En wat van Elize, wat September wil kom kuier? Ek is platgeslaan! Mike sê hy was net so geskok en woedend!

Die blêrrie vroumens mors  50 van ons Schengen dae terwyl ons soos gekke wag vir die kamstige verkoopkontrak. Sy het ons bedrieg. As sy net 'n maand gelede dit al gesê het. Ek is buite myself van skok en woede. So sit ons 20 dae in Skopelos en wag vir Archie se bankrekening.  Archie het ons huiskyk-afspraak met Skopelos Dream Properties gekanselleer omdat ons aanbod gemaak het wat aanvaar is. Uit ordentlikheid.

Ons het net na een ander huis gekyk wat Mike op hul boeke het. Verder het ons na geen huis binne gekyk nie. Nou sit ons op Lesvos, vier dae op Maja om by Skopelos te kom. En daar is erge winde in die seestrate wat ons moet kruis. So dis buite die kwessie.

Ander opsie is veerboot na Thessoloniki en bus na Volos en daarna veerboot na Skopelos. Drie dae om dit te doen. En dan na die huise te kyk wat ek op internet gesien het en almal het een of ander ding waarvan ons nie jou nie.

"What to do, what to do!" Ons dink diekant toe en daaikant toe. Die ander huis wat ons gesien het, is pragtig, amper beter as Sue se huis, maar hy is langs die Ring Road. Op straat. Ek is bang dit gaan te veel raas.

Ek gaan huil by Shirley. Ek huil by Elize. Ek huil by Archie. Archie sê ek moet ophou huil. Ek huil toe maar na binne. Ek het my hart op daai huis gesit en nou is my hart stukkend.

Ek en Archie dink ons koppe suf. Na vele besprekings besluit ons dat ons die Ring Road huis gaan koop. Ons kontak vir Mike en Safa, hulle praat met eienaar en als is reg. Ons gaan koop. Nou is ons op straat. Geleidelik begin my hart stukkie vir stukkie heel word. Geleidelik neem my kop afskeid van Sue se huis. Nou is ek baie opgewonde oor ons nuwe huis, geraas en al.

Die huis word elke jaar suksesvol uitverhuur aan toeriste onder die naam "Karavos House Sea View". Maar dis nou ons nuwe Marchie's Place. Ons sal maar twee naambord maak. Google die huis gerus. Hier is 'n paar foto's van die huis.

Ligging van nuwe huis

Straataansig

Uitsig van nuwe huis

Kombuis

Leefarea

Huise en hawe

Slaapkamer

Ander slaapkamer

Toe maak ons reg vir môre se vertrek uit die marina. My luilekker dae in Mytilini se marina is nou verby. Ons sal ons uit Griekeland moet kom en na Turkye toe seil en vir drie maande in Turkye deurbring, of tot hulle ons laat kom vir die kontrak. En ek wou nie drie maande in Turkye seil nie. Dankie Sue!

Ek is so moeg.

Saturday, May 28, 2022

Marina Lewe

19 tot 25 Mei 2022. Donderdag tot Donderdag.

Die lewe in die marina gaan sy doodgewone gang. Elke dag is dieselle, maar tog 'n bietjie anders. Elke dag is windstil en pragtig. Ek en Archie geniet ons verblyf hier. 

Die kombers wat ek in 2019 begin hekel het, is nou klaar en omtrent groot genoeg vir 'n queen size bed. Ons wil dit maar in die winter in Marchie's Place op ons bed gebruik. Dit is allesbehalwe perfek, want daar was nie genoeg wol nie, dan moet ek maar 'n plan maak. Ek gaan dit verseker nie inskryf vir 'n Vroue-Landbou-unie se kompetisie nie. 

Mytilini Marina

Sundowner

Blokkieskombers

Die kraan kom en Archie installeer dit. Een part het 'n wil van sy eie en spring onder die vloer in. Om dit uit te kry, sal Archie 'n gat in die badkamer (head) se vloer moet maak. Spring op sy fiets en soek loodgieters. Hulle is almal op 'n Maandag toe. Dinsdag spring hy weer op sy fiets. Die man moet 'n part bestel van 'n ander winkel. 13:00 moet hy terug. Kry die part,  dit pas nie heeltemal nie. Nou moet Mr. Fixit weer 'n pas-plan maak. Dit word 'n taak wat baie langer vat as wat beplan. Brigida se ystersaag kom weer handig te pas. Maar toe is die kraan in en daar is weer water in die head.

Nuwe kraan

Spoggerig

Projek Plantjie het verander in Projek Plante. Ek het nou 'n geel en pienk varkoor, hiasinte, twee bakkies vol malvastiggies en 'n bakkie vol vetplante. Én ek 15 plastiese potplant-potte gekoop vir Marchie's Place. Sue gaan mos alles vat. Ek kon nie die plastiese bakke weerstaan nie, want die prys was te goed.

Hiasinte en malvas

Vetplante en malvas

Varkore

Dinkie se enjin is volgende op Archie se lys. Die wil nie vat nie en Archie maak die enjin oop om te kyk wat daar aangaan. Met dié val sy bril in die see. Hy probeer gryp. Hy gryp raak, maar die bril gly uit sy toutjie en daal na benede. Nou is dit snorkel en paddapoot. Die water is 3.5m diep en baie troebel. En daar is 'n stuk met seegras presies waar die bril geval het. Ons kry nie die bril nie en die kaptein moet terugval op sy ou bril wat hy as spaarbril saamgebring het.

Waar is Deon en Ryna nou!

Snorkel op ...

... soek tervergeefs

Ek kry my belastingnommer en ons ontmoet die prokureer by die bank vir 'n gesamentlike bankrekening. Haris sê hy gaan maar 'n kans vat, want jy moet eintlik 'n maand voor die tyd 'n afspraak maak. (Presies wat Archie in Volos moes doen).

Hy praat met die oulike bankvrou en sy sê ons moet uur wag en dan sal sy kyk of sy ons kan help. Na die uur draai daai man sy charm oop en jouwaarlik, sy begin die bankrekening oopmaak. Nou het ons gesamentlike bankrekening en kan vir Marchie's Place betaal as ons eendag die kontrak moet teken.

Ons Schengen dae word al hoe minder. Die laaste ding wat ek wil doen, is om 3 maande in Turkye te wees voordat ons kan terugkom. En my suster, Elize, wil 1 September kom kuier. 

Toe bel Mike, ons eiendomsagent. En in 'n ommesientjie verander my lewe.

Saturday, May 21, 2022

Agiasos

18 Mei 2022. Woesdag.

Vandag hou ons ons lywe toeriste. Vergeet van al die wagtende besigheid. Kom bietjie van Maja af en gaan doen iets lekker.

Ons klim die bus na Agiasos. Dis 'n vreemdsoortige, netjiese tradisionele klein dorpie met nou straatjies aan die voet van Berg Olympus. 

Hier kan jy baie keramiek produkte koop. Hulle is baie trots op hulle eie handgemaakte produkte. Ek koop vir my twee kleindogters 'n ietsie baie klein wat waarskynlik hulle ma's teen die dak gaan uitdryf. Hulle roem ook daarop dat hulle tuisgemaakte kaas heerlik is. Ons sal nie weet nie, want ons het nie gekoop nie. Maja en Marchie's Place dryf ons in die bankkrotskap in. 

Ons besoek eerstens 'n klein kapel wat gesluit is. Kleurvolle blomme versier die muur. Ek bewonder altyd die pragtige blomme, wat so helderkleurig pronk.

Straathoek winkel

Kapel

Die Panaghia Aghiassou ("Church of the Dormition of Virgin Mary"), is wêreldwyd bekend onder pelgrims en is vir hulle baie heilig. Die kerk staan in die middel van die dorp. Die gebou is nie regtig indrukwekkend nie, dis die geskiedenis van die kerk wat van belang is. Hier vind jy die ikoon van die Maagd Maria. Elke jaar op die 15de Augustus, word die ikoon uit die kerk geneem en in die dorp rond rondgedra, gevolg deur 'n kleurvolle prosessie. (Mag nie foto's in kerk neem toe, toe neem ek een van buite af. Verskoon die kwaliteit). Naby die kerk is daar ook 'n klein kapel wat mooi, maar eenvoudig van binne is. 

Panaghia Aghiassou

Panaghia Aghiassou

Panaghia Aghiassou kapel

Ons dwaal in die dorp rond tussen die eetplekke en huise en winkeltjies. Hier en daar is 'n toeris of twee wat die atmosfeer saam met ons geniet. Die dorp het 'n ouwêrelse atomsfeer. Ons stap op en kry mooi uitsigte oor die dorpie. Sommige van die huise is erg kleurvol wat 'n vrolikheid verleen.

Agiasos

Agiasos

Straattoneel

Kleurvol

Keramiekwinkel

Restaurant

Restaurant


Bo in die dorp is 'n blou kerk.  Dit het ook koepels buite en die dak van die koepels is eenvoudig met pienk enkel blomme versier. Die kerk is pragtig binne. Ek is mos 'n kerkmens en geniet dit altyd om die kerke binne te sien en te bewonder.



Blou Kerk

Blou Kerk binne

Dakversiering

En natuurlik beland ons op 'n staproete. Ons stap net 'n ent op die roete en eet ons middagete wat ek sommer van die huis af gebring het. Ons spaar mos! Ou Skillie is ook daar en hy stap langsaam en vasberade op en af voor 'n geslote staalhek. Hy wil anderkant toe. Archie ondersoek die hoë heining en kry 'n plek waar hy vir Skillie kan neersit sodat hy, weet nie waarheen nie, kan loop. Dis nou maar hoe ou Archie is, gee graag 'n helpende hand in geval van nood.

Skillie

Helpende hand

Ons stap terug en ons sê vir mekaar ons hou van die dorpie. Agiassos is 'n besoek werd.16:30 klim ons die bus en ry tevrede terug huis toe.

Die marina is skielik baie voller as wat hy vanoggend was. Ons onthou toe van ou Gus wat Donderdag en Vrydag gaan waai. Die jagte het seersekerlik almal kom skuiling soek.

Ons is net betyds terug by Maja. Ons hoor 'n suising in die verte en sien 'n duiserigheid en daar van die kasteel se kant af, kom Gus met 'n spoed aangehardloop. Toue klap, maste suis, bote dans. Die Seiljagorkes speel met oorgawe.

En daai Gus het behoorlik gewaai. Aanmekaar, sonder ophou. En skielik is dit weer winter.

Thursday, May 19, 2022

Marina Lewe

15 tot 17 Mei 2022. Sondag tot Dinsdag.

Seile. Dis daai groot wit goed op Maja wat van haar 'n seiljag maak. Ek hou nie eers daarvan om seile te hys op die see nie, maar nog minder om die seile in 'n vasgemeerde boot in 'n marina te hys. Dit voel kompleet vir my of ons gaan opstyg soos die Vlieënde Hollander. Maar nou moet dit gedoen word.

Die groot genoa seil is nog steeds opgerol in die spaarkamer. Dit word mos altyd, as ons klaar geseil het vir die jaar, afgehaal en gestoor. Noudat ons terug op die water is, is dit nou tyd om dit op sy regmatige plek terug te sit.

Archie moet die seil-oprolmeganisme ("furler") van die genoa diens. Hy smeer die nodige gries op die furler en toe moet die genoa opgehys word. Gelukkig is daar geen wind nie, anders het ons dalk opgestyg as die wind nesmaak in die seil. Archie hys die genoa op en daarna word dit opgerol. Nou is die genoa gereed om mee te seil.

Toe is dit die hoofseil se beurt. Dit word nie aan die einde van die seisoen afgehaal nie, maar bly opgerol in die mas. Weer word die furler en ratte gegries. Die hoofseil wil ook nie samewerking gee nie. Dit wil nie behoorlik uitrol of intrek nie.Soos Archie sê "Dit jam in die mas!" Maar slim soos dié man is, kry hy dit darem "ontjam". Met  baie gesukkel en moeite. Nog 'n groot werk is gedoen. Die hoofseil is nou gereed om mee te seil.


Genoa word gehys

Genoa word gehys

Hoofseil haak vas

"Jammed solid"


Elke dag lewer sy eie take wat verrig moet word. My wasgoed hang skoon en welriekend op die draad. Met hul weerkaatsing in die water. Projek Plantjie hou my ook besig. Ek kry hier en daar 'n stiggie wat ek dan plant, in grond wat ek hier by die marina tuin kry. Ek hou baie van plantjies en Archie sê dis omdat ek my ma se kind is. My ma het altyd oral waar sy gegaan het, stiggies gekry en gaan plant. Hierdie plantjies word gekweek vir Marchie's Place. 
 
Intussen hoor ons nie 'n woord van ons belastingnommer-prokureur nie. Hy antwoord g'n niks sy foon nie. Probeer hy ons vermy of wat? Ek word nou al bietjie moedeloos oor die huiskopery. Dit voel net of daar niks gebeur nie en ons Schengen dae loop uit. 

Wasgoed op die draad

Projek Plantjies

Daar is niks so goed om my swaar gemoed ligter te maak as sosiale terapie nie en ek nooi wildvreemde mense vir ete. Archie het darem al met die vrou gepraat en haar naam is Shirley. Hulle kom oorspronklik, twintig jaar gelede van Durban, maar bly nou in Nieu-Zeeland. Ek moet sê, die man was taamlik verbaas toe ek in die donker by hul boot, wat in die krip op land gestaan het, opdaag, Shirley se naam roep, en vir hom vra of hulle nie die volgende aand by ons wil kom eet nie. Hy was deur die slaap, hulle gaan slaap baie vroeg, want hulle ly nog aan "jet lag".

Wel, hulle boot word toe die volgende dag in die water gesit en daag die aand 19:00, met twee bottels wyn as geskenk, by Maja op. Shirley en Stewart kuier toe by ons en ons lag en gesels soos ou vrinne. Heerlike kos, gawe mense.

Wag vir gaste

Steward, ek en Shirley