Saturday, August 31, 2019

Turkye. Ayvalik.

29 en 30 Augustus 2019. Donderdag en Vrydag.

Bademli tot Ayvalik
 
Ai, dit was die sterkste wat Gus nóg hier by Bademli gewaai het. Maja word eintlik so skeef gewaai. Ek maak maar vir my 'n koppie nag-tee. Teen 23:30 waai hy vir 'n rukkie nie so sterk nie, maar 2:30 is hy én al sy makkers op volle sterkte terug.

Ons staan vroeg op en vertrek 6:30 na Ayvalik, 25.7 myl. Die poyraz help ons dat ons met die genoa kan motorseil. Later is dit amper windstil en ons vaar vorentoe, altyd vorentoe. Mens kan amper nie glo dat Poseidon geel winde (fors 6) voorspel nie.

Ons sien 'n skool dolfyne en vaar na hulle toe. Baldadig swem en speel die jongspan met Maja. Te mooi. Toe is hulle weg.
 
Onderwater
Dolfyn
 
In motor advertensies adverteer hulle soms van hoe vinnig 'n motor van 0 tot 100 km/u kan versnel. Dis die wrrrmkrag of iets. Vandag het ek gesien hou vinnig Gus van 4 knope wind tot 21 knope kan versnel. Sy wrrrmkrag was so vier bootlengtes. Die een oomblik waai hy 4 knope en die volgende waai hy 21 knope van voor af. Die geel winde is hier! 

Dis nou een ding van die blêrrie Ayvalik omgewing. Die wind waai altyd hier. Al die voëls wat altyd op die bakens sit, het ook weggewaai. Onse kleine Maja lê sommer skeef op pad marina toe.
 
Geen voëls nie
 
Ek roep droë-mond benoud die marina man oor die radio. Ons moet nou in 'n 20+ knope wind vasmeer! Hy kom en in die marina waai dit gelukkig net 18 knope. Archie tru netjies, soos 'n meester in die nou spasie in en ons meer sonder sukkel vas. Ons is hier.

Toe kom Zafer kuier. Hulle is saam met vriende in Ayvalik en hy kom groet ons  gou. Ons gaan drink 'n koffietjie (soos Pierre en Annatjie) by Bloom, die marina se koffiekroeg. Eintlik drink Zafer koffie en ons tuisgemaakte limonade. Ons kuier heerlik en toe gaan hy terug na sy vriende en Nuran wat vir hom wag. So 'n gawe man. Altyd lekker om hom te sien.
 
Zafer kom kuier
Ek en Zafer
Archie en Zafer
 
So kom verblyf in Ayvalik en ook in Turkye tot 'n einde. Hierdie noorde het ons aan die korthare beetgehad. Maja gaan mos in Mytillini, Lesvos, oorwinter. Ons moet uit Griekeland, want ons Schengen tyd is amper op. Ons kon nie in Turkye te vêr suid gegaan het nie, want dan moet jy wind-op terugkom. Toe gaan ons maar na Bademli toe. Die poyraz waai in dié deel van Turkye elke aand met mening. Dis nie so aangenaam op anker as die wind elke aand om jou huil en tot 25 knope waai nie. 

Hier by Ayvalik en net noord van Ayvalik, is baie ankerplekke, maar dis nie opgewasse teen Gus se aanslae nie. So, dis nie uit eie keuse dat ons so min hier in Turkye rondgerits het nie. Gus lê die reëls neer en ons moet na sy pype dans. Ek het eenmaal gesê Ysland is van ys gemaak. Wel, Ayvalik is van wind gemaak.

Die son sak vir oulaas hier by Ayvalik en môre gaan ons uitklok en terug Griekeland toe.
 
Ayvalik
Voëlverskrikker
Meeue
Soek skooroor
Son sak
Sonsondergang
 

Friday, August 30, 2019

Turkye. Bademli Ankerplek 4.

28 Augustus 2019. Woensdag.


Soos gewoonlik het Gus die hele nag gewaai. Heen en weer, die kant en daai kant toe. Gelukkig word dit dag en 10:00 hou hy op met die gewaai en waai. Wie weet waarheen.

Ek en Archie klim in Dinkie en gaan verken die ander klein eiland van Witsand Baai. Ons kyk uit oor die suidelike ingang tot Bademli en êrens daar is Ankerplek 3. Ons stap tussen die olyfbome langs die see. Heerlik.
 
Daar is rommel op die strand. Soos gewoonlik soek Archie vir "treasures", soos Michelle altyd sê. En dit is sy gelukkige dag! Hy kry twee parte vir Dinkie. Twee goeters waarin jy die pomp druk om Dinkie op te blaas.

Soek skatte
Ons stap
Suidelike ingang
 
Toe stap ons anderkant toe en sien Ankerplek 2 in die vêrte. Pragtig. 
 
Ankerplek 2 in die vêrte
 
Onder ons, weggesteek tussen die bome, is Maja en haar vriendin op anker. Die toerbootjies is op hulle pos om sonsoekers in die pragtige water te laat swem. Dis heerlik om die seisoen met so 'n pragtige ankerplek af te sluit. Dié Bademli is darem sowaar pragtig. Veral in die dag as die poyraz (oostelike landbries) nie waai nie.
 
Olyfbome
Maja
Witsand baai
Ankerplek 4
 
Ons swem weer in die pragtige water. Koud en verfrissend. Môre gaan ons terug Ayvalik toe en daarna is dit Lesvos, waar Maja gaan oorwinter. Maar eers moet ons (eintlik ek, want die kaptein slaap mos soos 'n flippen baba) hierdie nag verby kry met die sterk poyraz wat ons sonder twyfel weer gaan teister. En hy is op sy pos, al van 19:00 af. 

Wednesday, August 28, 2019

Turkye. Bademli Ankerplek 4.

27 Augustus 2019. Dinsdag.

Bademli Ankerplek 2 na Ankerplek 4

Vandag gaan ons na Ankerplek 4, ook by Bademli om naby Witsand Baai te anker. Dis net 3.1 myl en ons is daar.

Ons gooi die anker op 'n sandkol en maak weer seker dit byt goed. Jy weet mos, die blêrrie landbries kom mos soos 'n dief in die nag. En ons het 'n pragtige nuwe tuiste. Dis 'n besonderse stuk see tussen  twee klein eilandjies. Baie toerbootjies besoek die stuk see met die witte sand om hier te kom swem.

Anker goed gebyt

Ons klim in Dinkie en Archie sit die enjin op. Dis die eerste keer dat ons die enjin gaan gebruik nadat dit by Chios in die see geval het en herstel is. En na 'n klomp getrek van die enjintou, vat sy en daar trek ons Witsand toe.

Daar vat sy

Die water het donkerblou, blou ligblou en geelblou skakerings, afhangende van die bodem. Kleurvolle bootjies staan op anker in die vlak water. Kinders én grootmense baljaar in die water.

Kleurvolle bootjie
Witsand Baai
Toerbootjies
Helder water

Na ons stappie op die land, gaan ons terug na Maja en die helder water lok ons in. Dis heerlik verfrissend en ons swem heerlik.

Ekke
Archie

Wat 'n lekker ankerplek! Ons maak ons natuurlik klaar vir die landbries wat vanaand gaan waai. En Gus is op sy pos. Hy begin 22:00 te waai en so gaan hy aan tot die volgende oggend 10:00.

Turkye. Bademli Ankerplek 2.

26 Augustus 2019. Maandag.

Ayvalik tot Bademli Ankerplek 2

Elke nag waai hierdie wind iets vreesliks. En amper elke dag ook. Ons besluit om die marina te verlaat. Ons kan nie noord gaan nie, want die wind is baie erg daar, so ons gaan maar suid.

En so vertrek ons na baie dae uit Ayvalik, na Bademli, 31.4 myl. Ons vaar verby die ou ruïne op die klein eilandjie en toe tussen die rooi en groen bakens wat die kanaal aanwys. Snaaks, in Griekeland het elke asblik 'n kat, maar hier in Turkye het elke baken 'n voël. 

Ou ruïne
Stuurboord voël
Bakboord voël
Archie wil sommer kyk hoe lyk dit by Dikili, wat 'n "port of entry" is. Volgens die boek is daar amper nooit plek vir 'n seiljag in die hawe nie en die paspoort mense weet nie hoe om seiljagte in- en uit te klok nie. So, ons ry maar die ompad na Dikili om te kyk.

Ons sien dolfyne, maar hulle is besig om te eet, steur hulle nie aan ons nie. Bly onder die water en kom dan skielik onverwags te voorskyn. Net om dan weer te verdwyn. Dis sukke groot dolfyne.
Dolfyn
Toe vaar ons maar vorentoe, altyd vorentoe. Dikili is 'n lelike dorp met baie onaantreklike hoë blokke geboue. Die hawe se ingang word gedeeltelik geblok deur groot vistreilers wat alongside mekaar vasgemaak is. Ek kan in die hawe sien en daar is nie plek vir 'n muis nie. Archie wil graag invaar, maar soos gewoonlik is ek benoud vir die oorvol hawe. Toe bekyk ons die besigheid so van buite af en vaar toe verder na Bademli. Hierdie is nie die plek vir 'n seiljag nie.
Dikili
Beknopte hawe
Bademli het vier ankerplekke. Nr. 1 is in die baie vlak hawe. Ons gaan toe na nr. 2. Dis hier waar Deon en Ryna in 2016 saam met ons was. Ons gooi anker en maak seker dat dit goed byt. In dié geweste waai die oostelike landbries baie sterk in die nag, so ons wil goed geanker wees.
Bademli Ankerplek 2 in die vêrte
Ons swem, maar my knieë sê vir my dat die water yskoud is. Laatmiddag begin Gus te waai en teen 20:00 waai hy volstoom. Die hele nag deur tot 10:00 die volgende oggend. Behoorlik 'n twaalf uur skof én oortyd!.











Tuesday, August 27, 2019

Turkye. Izmir.

24 Augustus 2019. Saterdag.

Vandag is dit İzmir. Dit is drie busritte, toe kan ons met ons staptog deur die dorp begin. Soos dit toeriste betaam.

Ons stap langs die see op die promenade. Daar is 'n weg vir fietse én stappers. Dis pragtig groen met struike en blomme. Heerlik om hier te stap. Oral vang manne vis in die amper vuil seewater.
 
Kunswerk?
Arch
Visserman
Standbeeld

Ons staproete neem ons deur 'n deel waar toeriste eet, kuier en koop, met geen motors nie. Winkels is langs weerskante, 'n kopersparadys. (Net jammer ek wil niks koop nie). As jy troukoors het, is hierdie die plek om heen te kom. Trourokke by die dosyne! Daar is 'n heerlike atmosfeer. Ons drink 'n koffietjie (soos Pierre en Annatjie), maar die Turkse cappuccino is hondsleg.

Troukoors

Daarna is dit 'n kerk wat jy amper nie kan sien nie. Dis agter blikmure, agter slot en grendel. Mens sal nou sweer ons wil die kerk steel. Elke keer moet jy jou malle verstand afstap om die volgende besienswaardigheid te sien.

Die kultuur park stel ook teleur. Deurmekaarspul, fontein werk nie. Te veel beton. Dis 'n groot park en ons loop lank om daar uit te kom. Toe moet ons vir 'n moskee kyk wat in 1950 gebou is. Beswaarlik 'n besienswaardigheid.

Paddaprins
Kultuurpark

Ons is honger en bestel 'n kuzu (lam) döner. Is hier regtig 'n bietjie lam tussen die twee velle pita brood? Mens sal nie kan sê nie. Hulle steek dit goed weg. So nou en dan proe jy 'n vlentertjie vleis met te veel speserye. Glad nie lekker nie!.

Toe stap ons na die Paseporte pier toe, wat ek geniet. En ook die Konak pier, wat genotvol was.

Paseporte pier

Die mark stel ook teleur. Baie mense en stalletjies en winkels wat (Chinese) klere en goed verkoop. Ek dink ek was toe al gatvol, daarom het ek met negatiewe oë die plek betrag. Ag nee wat, hier wil ek nie wees nie.

Die plein met die klein moskee en die kloktoring (wat hulle restoureer), is mooi. Ek ooo en aaa glad nie oor Izmir nie. Daar was ook die antieke agora. Weet jy wanneer jy uit getoeristeer is? Dis wanneer jy sê: "Nee, ek wil nie die agora sien nie. Ek het eergister een gesien." Dan weet jy dis tyd om terug na Maja te gaan.

Moskee
Izmir is bekend vir sy mooi teëls
Kloktoring

Eintlik wou ek net die kerk van die gemeente van Smirna, (volgens die boek, Openbaring) gesien het, wat 'n uit Izmir is. Wat ek toe nie gesien het nie.

Sunday, August 25, 2019

Turkye. Alibey.

23 Augustus 2019. Vrydag.
 
Ons het mos nou Setur Marina kontrak. Maja gaan hierdie jaar in Lesvos, Mytilini, oorwinter. As jy 'n kontrak by 'n Setur Marina uitneem, kan jy gratis in ander Setur Marinas bly. Mytilini is die enigste Setur in Griekeland, die ander is in Turkye. Ja, Ayvalik is ook 'n Setur Marina. Dis dié dat ons nou so lekker gratis in die redelike duur marina kan bly. Die wind is sterk in die nag, so ons verken nou maar  Ayvalik en omgewing.

En vandag is dit Alibey, op Cunda Eiland. Die klein eiland word met Ayvalik verbind met 'n brug. Ons klim die dolmus en daar trek ons. 

Alibey is 'n tipiese Griekse ou dorpie, met kerk en al. Hulle Griekse inwoners is ook in 1923 verskuif na Lesvos. Die kerk word nie gebruik vir aanbidding nie. Dis deesdae 'n museum. Die dorp floreer nou onder die Turke. Dis 'n feestelike toeriste dorp met Griekse sjarme. Oral is restaurante en aan kleur is daar nie 'n tekort nie.
 
Waterfront
Sonhorlosie
Restaurant
Mooi huis
Vol van kleur
Wag vir bruid fotograaf
Besembos
Winkel
 
Mense dwaal rond, koop goetertjies, lag, gesels, eet en drink. Almal neem vrolike foto's waarna hulle later kan kyk vir onthou. Dan is daar ook nie 'n tekort aan bruide nie. Lyk vir my Vrydag is bruidsdag. Pragtige pop- bruide met bewonderende bruidegomme is oral. Self een alternatiewe bruid wat oopmond lag. Hierdie dorpie is sjarmant genoeg om as agtergrond te dien vir die meisies se mooiste dag.
 
Bruid 1
Bruid 2
Bruid 3
Vrolike Bruid 4
 
Ons eet Turkse huiskos by Adamis, waar ons twee jaar gelede saam met Zafer en Nuran was. Daarna dwaal ons nog rond, sommer vir die lekker en toe gaan ons weer huis toe. My suster, Elize, sou hierdie dorpie vreeslik geniet het.
 
Adamis Restaurant