Thursday, August 31, 2017

Marathia Baai.



30 Augustus 2017. Woensdag.

Petalas Eiland tot Marathia Baai

Vroegoggend is dit pragtig hier in Petalas. Die son breek uit sy donker jas en strooi ons met sy glans. Nog ’n nuwe dag word in die hemelruim gevier.

Dagbreek

Dis nou net vir anker optrek en dan vertrek na Marathia Baai, 9 myl. Wat kan nou eenvoudiger as dit wees!

Ek sit agter die helm en Archie trek die anker op. Maar dit sukkel. Wil nie op nie. ’n Tou wat aan die anker vas is, kom te voorskyn. Archie sê hy het iets beet. Daar is ’n kleipot aan die tou. Hy trek en trek. Nog ’n kleipot kom te voorskyn. Toe kom ’n plastiese pot te voorskyn en toe nog een. Almal is vasgemaak aan die lang tou. Daar is seker nog ’n klomp potte aan. Archie stuur my om ’n mes te gaan haal en ek sny die tou. Hy sny die tou wat om die anker vasgehaak het, ook af en ons is vry. Archie gooi die potte terug in die water. Dit was seker die vissermanne wat iets wou vang met die goed. 

Eerste pot
Trek en trek
Wil nie ophou nie

Toe is ons gereed om te vertrek. Soveel dae, soveel dinge. Ons verlaat die heerlike beskutte baai en nou waai Gusvan voor af. Later waai hy oor die 20 knope. Die wit perdjies dans op die deinings. Archie vleg deur die visplase en vaar na ons baai. Die see beweeg in die baai. Hier gaan ek nie rus vir my siel kry nie!

Op pad

Daar staan reeds een ander seiljag in die baai. Die arme drommel dans in die wind. En ons dans saam. Die anker byt goed en ons is vas. Gus waai darem later bietjie ligter en nog later waai hy vanuit die suide. Toe rol die see in ons baai en ons wieg in die wind.

Marathias Baai

Gus gaan lê en die deinings versag en dit word rustig in ons baai. Op die land is ’n kampterrein waar mense visvang, braai en rondsit. Vier varke wei tussen die karavane.

My genot hang van Gus af. As hy sterk waai, verdwyn my vreugde en as hy gaan lê, verskyn dit weer!

Petalas Eiland.



29 Augustus 2017. Dinsdag.

Patras tot Petalas Eiland

Toe breek die oomblik aan. Ons moet uit ons benoude spasie kom. Ons bespreek strategie. Maar verniet bekommerd. Archie hanteer vir Maja meesterlik en ons is maklik uit die marina en op pad na Petalas, 37.6 myl. Ons is nou in die Ioniese see.

Die see is kalm en geen wind waai nie. Maja vaar vorentoe, altyd vorentoe. Sy prrr ritmies voort na ons nuwe, onbekende bestemming. Ons sien twee dolfyne, maar eintlik net die vinne. Geen gespring met sierlike boë uit die water nie.

Oggendskoot - Berge

Oxia Eiland lê voor ons en na Archie al die vlak water omseil het, vaar ons tussen Oxia en die hoofland deur. Die see in die geweste is baie vlak, want daar vloei baie riviere in en dit slik toe. Ons moet ’n vêr ompad vaar en toe is die opening van Petalas voor ons. Dis my tipe baai, want die skuiling is oraloor goed en die houkrag uitstekend. 

Uitsig van Oxia Baai

Ons gooi anker en nadat dit ’n entjie gesleep het, byt dit met mening. Die bodem is taai modder met fyn slik bo-op. Nou kan wind uit enige rigting maar waai, ons is veilig. Dis ’n groot, vlak baai en 11 seiljagte oornag hier. Almal voel veilig en ingeburger. Dit is baie bewolk. Die wolke lyk swaar.

Petalas Baai
Uitsig van Petalas Baai

Na ’n heerlike aandete van vark, aartappels, sampioene en spinasie is dit al laat en dis tyd vit droomland.

Tuesday, August 29, 2017

Patra.



28 Augustus 2017. Maandag.

Trizonia tot Patra

Patra, 20 myl. Ons ken die dorp so goed. Maja het twee keer hier oorwinter. Ons vertrek vroegoggend vanaf Trizonia. Die dorpie lyk pragtig in die warm gloed van die vroeë oggendson.

Trizonia

Dis ’n reguit pad en ons vaar en vaar en vaar. Gus lê en dis warm. Naby die Rion Andirrion brug roep ons getrou die beheerkamer om toestemming te vra om onder die brug deur te vaar, maar puur verniet. Ignoreer ons totaal. Toe vaar ons sommer toestemming in elk geval onderdeur die brug.

Rion Andirrion brug

Patras of Patra (ek weet nie wat die plek se naam eintlik is nie) lê doodgewoon bekend voor ons. Archie roep op die radio vir ’n vasmeerplek en ou George is nog stééds daar. Hy wys ons in die rigting van so ’n benoude ou plekkie, maar Archie tru meesterlik daarin. Hoe ons môre daar gaan uitkom, is natuurlik ’n ander storie. 

Uitsig op die Golf van Patras

Ons gaan koop voorrade by ons gunsteling supermark, die LiDL. Nou is ons spens weer vol. Ons sien ook weer vir Benito, die man wat altyd na Maja kyk as sy in Patra oorwinter en ons omhels mekaar omtrent soos familie. Dis lekker om hom weer te sien.

Later kom daar sowaar nog ’n groot boot oorkant ons alongside en ons spasie word nog benouder! Maar dis môre se bekommernis (wat my wel in die nag van my slaap beroof het).

Archie bestel diesel by dieselfde man wat altyd daar is. Hy lyk amper of hy familie van Kabouter van Idhra kan wees. Hy gooi nou diesel in met ’n elektriese pompie wat hy by die kragboks inprop. Die man is baie blou. Maja drink haar pensie vol en ons is reg vir die res van die seilseisoen.

Reg om te pomp
Diesel dude

Die son gaan rooi onder en ons eet heerlike vis wat in die pan gebak is. ’n Heerlike rustige dag in die amper lelike Patra.

Aandete
Son sak agter die breekwater

Monday, August 28, 2017

Trizonia.



27 Augustus 2017. Sondag.

Itea tot Trizonia

Ons kry vroeg ons kapteinskoffie, want Michelle en Johan moet 07:00 die bus klim na Delphi. Ja, hulle kuier is nou verby. Nadat ons hulle met oats gevoer het, is dit opsaal en aanstap. Ons stap saam met hulle na die busstasie.

Sak en pak

Ons wag ’n ruk en die bus kom om die draai. Dis vir oulaas groet en druk en na ’n hewige gewaai (my familie waai mos vreeslik), vertrek die bus. Toe sit ek met leë-nes-sindroom. Die kamer ruik na haar, maar sy is weg. Ek voel sommer alleen leen leen.

Koebaai

Maar die lewe gaan aan en ek en ou Archie moet maar weer vertrek na Trizonia, 22.8 myl. Gus is so mak soos ’n lammetjie en vir die eerste ruk vaar ons maar. Vorentoe, altyd vorentoe. Ons seil net vir 37 minute en motorseil ook vir ’n ruk.

Trizonia lyk maar vol, maar ons kry ’n plekkie em maak alongside vas. Dis snaaks en stil sonder die kinders. Ons stap ’n ent en kyk na die baai. Die twee maste van die seiljag wat in die onklaar marina gesink het, steek soos twee vingerwysings uit die water. Ek kry elke keer ’n rilling teen my ruggraat af as ek daarna kyk.

Wrak

Ons stap na die piepklein dorpie en koop roomys (Michelle en Johan het altyd skelm roomys gekoop). Dis heerlik en rustig hier in Trizonia.

Trizonia
Kleurespel
Dorpie

Sunday, August 27, 2017

Michelle en Johan





Michelle.

Michelle

Michelle het lank uitgesien na die seil. Sy was al twee keer vantevore op ’n seiljag en het geweet wat om te verwag. Sy het knap werk gedoen met die getrek van toue en was altyd gereed om af te fend en het oral hulp verleen. ’n Aanwins vir enige seiljag. ’n Goeie dogter van haar moeder.

Dit was ook haar werk om die “cold beverage” na elke suksesvolle vasmeer te bedien en ons het verseker nooit dors gelei nie. Dan kan sy nog boonop kook ook!

Michelle se gunsteling plek was die pragtige Poros. Sy het van die kloktoring gehou en ook om op die berg en in die bos te stap en na die pragtige uitsigte van Poros te kyk. Hulle het heerlik op die dek gesit en sy het dit baie geniet om na al die mense op die kaai te kyk. Die gedans en die musiek op die kaai was vir Michelle ’n heerlike belewenis. Sy dink Poros is inderdaad pragtig.

Poros

Die ervaring wat die grootste indruk op haar gemaak het, was die tog deur die kanaal van Korinte. Die hoë rotswande wat bo die kanaal uittroon was indrukwekkend en die ry bote wat so agtermekaar deur die kanaal vaar, het aan haar hart gepluk. Sy het ook voor op Maja se snoet gesit en vir die mense op die brûe wat na ons kyk, gewaai asof sy ’n kroonprinses is. Voorwaar ’n besondere belewenis!

Hoë rotswande

Dan het Michelle ook van Tselevinia gehou waar hulle in die kristalhelder water baljaar het en vreeslik baie gesnorkel het. Sy was letterlik en figuurlik soos ’n vis (haar van is Visser) in die water in die mooi baai.

Tselevinia Baai

Baie dankie Michelle dat jy saam kom seil het. Dit was vir ons baie lekker om jou aan boord van Maja te hê. Jy kan maar weer kom.



Johan.

Johan

Dit was Johan se eerste keer op Maja en hy was gou tuis. Hy is effe aan die lang kant en het gedurig die een of ander liggaamsdeel gestamp. Hy was ook te lank vir die toilet.

Hy het gou van al Maja se toue geleer en het in ’n bobaas toutrekker ontaard. Dankie, vir al jou hulp met die seil span.

Die plek waarvan hy die meeste gehou was jouwaarlik ook die pragtige Poros. Hy sê: ”Hierdie dorpie het so baie energie, hoor! Seker omdat dit so mooi daar is. Die mense was ook vriendelik, vrolik en hulle hou van partytjie, hoor! Dit was so lekker om tot die vroeë oggendure vir hulle op die dek te lê en kyk. O. ja, Idhra was ook mooi en vol geskiedenis.

Poros
Idhra

Die beste ervaring was ook die Kanaal van Korinte. Johan sê: ”Kon waarlik een van die wêreld wonders gewees het, al die geskiedenis wat daarin lê. Dis soos tannie Marietjie sê: ”Ek word sommer emosioneel.”

Kanaal van Korinte

Woorde wat in Johan se kop vassteek is – “Archie, ek wil nie so skuinslê nie!” “Ag vrou, dis nie so erg nie!”

Johan, dit was ook lekker om jou aan boord te hê. Jy het baie gou-gou aangepas en jy kan ook weer kom.

Koebaai julle. Ons mis julle al klaar
Geniet die res van julle reis