20 September 2015. Sondag.
Ons staan 05:00 op en die kaptein maak
koffie. Dis nog nag. 05:45 loop ons stasie toe, want ons klim die treinbus
06:15 wat ons na die stasie van Diakofto toe neem. Van daar klim ons die trein
na Kalavryta. Die rattrein gaan deur die Vouraikos Kloof. Daar word gesê dis
van die mooiste landskappe in Griekeland. Ons kom net na 07:00 by Diakofto aan
en dis nog nag. Die son steek eers 07:30 sy kop lui-lui uit en begin om die nag
in dag te verander. Ons drink koffie, want ons klim eers 08:45 die rattrein.
Die treinrit duur een uur en dit is
indrukwekkend. Die trein kronkel deur die kloof en plek-plek vat daai wiele die
ratte een vir een om die steilte te klim. Deur tonnels, onder rotswande rol
daai ysterwiele op die ysterspore. Langs ons die steil wande en dieptes van die
kloof. En onder hardloop die rivier vinnig, asof hy baie haastig is, na die
see. Oor rotse stort wit hy na benede.
 |
Deur trein se venster |
 |
Voor uitsig |
Die trein stop halfpad, by Kato
Zachlorou, net ingeval iemand op of af wil klim. By Kalavryta, die eindpunt van
die treinroete, klim ons af en verken die dorp. Ek koop ’n geskenk vir my pa.
 |
Kalavryta |
Mal soos ons is, gaan ons op pad terug in
die middel van die roete, by Zachlorou, afklim en vir die volgende 9 km op die
treinspoor te stap. Op die laaste stasie, Niamata, sal ons weer op die trein
klim vir die laaste 5 km na Diakofto. Die man by Kalavryta stasie verseker ons
dat die trein sal by Niamata stasie stop ás jy daar wag.
So gesê, so gedaan en ons klim af. Daar
gaan die trein en ons begin stap. Sommerso op die dwarsbalke van die
treinspoor. Ons werk mooi uit wanneer die treine by ons verbygaan, want dit is
maar smal. Jy wil nie hê die trein moet jou op ’n stuk vang waar jy nie uit sy
pad kan kom nie.
Ons hoor die trein wat van voor af kom
van vêr af en trek ons mae in en staan opsy. Hy blaas toeter en waai toe hulle
verbyry. Ons stap verder op die spoor. Die dele waar die ratte is, kan ons nie op
die spore stap nie, dan is dit op die klippers langs die spoor. Dis
konsentrasie en is vermoeiend.
 |
Ratmeganisme |
 |
Loop op dwarsbalke |
 |
Loop langs treinspoor |
 |
Die trein kom |
Die kloof lyk anders so te voet. Ons kyk
af in die dieptes en sien die rivier. Ons kyk op en sien die steil rotswande.
As die tyd kom wanneer die trein ons gaan verbysteek, is ons baie versigtig. Ons
maak seker dat daar plek is waar ons kan skuil. Ons wil nie noodwendig deur ’n
trein getrap word nie.
 |
Oorbrug kloof |
Die tonnels is baie en soms donker. Die
brûe nou en hoog. Met ’n bordjie wat wys geen voetgangers nie. Nou waar moet
ons loop? Dan loop ons maar daar.
 |
Tonnel |
 |
Nog tonnels |
 |
Tonnel en holkrans |
 |
Tonnel venster |
 |
Water uit boomstam |
Ons stap vir drie ure aan die 9 km en is bly
toe die Niamata stasie voor ons opduik. Ons is moeg. Dit is warm. Nou hoop ons
net ons het reg uitgewerk en dat die trein gaan stop. Ons moet die 17:15 bus
terugneem na Patra. Ons verwag die trein 16:30 by ons stasie. 16:30 kom en
gaan. Geen trein. Dit help nie ons stap verder nie, want dit is nog 5 km en ons
sal dit nooit maak om die bus te vang nie.
Ons wag en wag. Elke minuut voel soos ’n
uur. 16:50 hoor ons iets. Dis die trein en ons is baie dankbaar. Ons wys hy
moet stop en hy stop. Ons klim en 17:05 kom ons by Diakofto aan, betyds vir ons
bus. Ons is moeg, maar tevrede na die lang dag.
 |
Wag vir die trein |
Vanaand gaan ons vroeg slaap... of so
het ek gedink.
Ek sit buite op die dek en sien die vêraf
elektrisiteit in die lug. Dowwe skynsels verhelder die donker nag. Gus begin uit die
suide uit te waai. Al hoe sterker en sterker. Die elektrisiteit kom al nader.
Enkele druppels val. Praat van progressie. Gus waai al sterker, die donderstorm
tref ons en dit sous. Die boek sê hier is donderstorms in die herfs. Ek dink
die herfs het nou net begin!
Op die besoekerskaai gaan dit rof. Ons
was verlede jaar daar toe die wind so erg uit die weste gewaai het. Die deinings word so erg, dit voel of jy op see is. Ek weet hoe erg raak dit
daar. Gus verander van rigting en waai vanuit die weste. Die see stroom by die besoekerskaai
in. Die jagte wip op en af en heen en weer vir die vale. Ek kyk na die
doenigheid daar. Kapteins is in die reën buite op die bote om die situasie dop
te hou. Die hawepolisie kom kyk en help, mense skarrel rond, nog fenders word
uitgesit. En dit sous en donder en bliksem.
Ek is diep dankbaar dat ons hier veilig
in die marina is en nie op die bonskaai nie. Of nog erger, op anker in
Nafpaktos! My hart gaan uit na daai mense.