Monday, August 31, 2015

Korfos. Vissop.



29 Augustus 2015.Saterdag.

Nea Epidavros tot Korfos

Verlede jaar het ons vissop by Stavedo Taverna in Korfos geëet. Dit was Dirk en Rika se afskeidsete vir ons en dit was heerlik. Vandag gaan ons weer na Korfos, 37°45.904 N, 23°07.561 O, 7.1 myl.

Ons is sommer gou-gou daar en meer by die taverna se kaai vas. Ons plank is te kort en hulle leen vir ons ’n laaaang plank.Ons dwaal en sit daar rond. Ons doel is nie dorpies besigtig of voorrade koop nie. Nee, dis vissop!

Korfos
Maja by restaurant kaai


Papa Georges is besig om vis skoon te maak. Die binnegoed gooi hy dan vir die seemeeue, waarmee hy gesels en ek is seker die meeue verstaan hom. Dan is dit die calamari en daarna die seekat. Die arme seekat word hard teen die muurtjie geslaan om hom sag te maak.

Papa Georges
Etenstyd


Ons het vissop bestel en kan nie wag tot agt-uur nie. Vissop is baie lekkerder as wat dit klink. Daar word gesê dat dié taverna die beste vissop in Griekeland het. Toe breek die tyd aan om oor Maja se plank te loop na ons tafeltjie wat nader as ’n hanetreetjie van Maja is. Ons was ekstra skoon en maak klaar om te gaan. Ons gaan sommer kaalvoet, want teen die tyd wat ons ons skoene aangetrek het, sit ons al. 

 
Ons tafetjies (regs)


Alles is gereël. Dis vreeslik romanties. Die maan is vol en rond, die tafel is gedek, die wyn is yskoud met ekstra ys en die kelner baie vriendelik. 

"Me, the moon and Maja"
Ons kelner
Arch en ek


Ons teug ons wyn asof dit duur landgoedwyn is. Toe is dit die groot oomblik, Archie gee die teken aan die kelner dat ons gereed is vir die sop. Twee bakkies sop word voor ons neergesit. Die geur is subtiel vis. En daarna word al die verskeie soorte vis in ’n visbord tafel toe gebring. Ons proe, bang dat dit nie so lekker as verlede jaar is nie. My tongtippie tintel van smaakgenot. Dit is voorwaar voortreflik. Archie sê dis beter as verlede jaar!

Vissop


Ek weet nie hoe kry hulle die sop so geurig nie. En die vis!. Elke spesie proe verskillend. Sag en geurig. Vissop is nie sop wat van vis gemaak is nie. Dis ’n kuns wat van geslag tot geslag oorgedra word, met die grootste geheimhouding tussen die verskillende families.

Ons stoutste verwagtings is oortref. Stevado Taverna, julle is die beste!

Saturday, August 29, 2015

Nea Epidavros



28 Augustus 2015. Vrydag. 

Palaia Epidavros tot Nea Epidavros

Ons word wakker en dis nog ’n mooi dag in die Saroniese See. Dis omtrent, volgens die weervoorspelling, op hierdie stadium die plek in die Griekse eilande met die beste weer. Niel en Sandy het vir ’n week by Paros op anker teen die Meltemi geskuil. Gumnuts moes inderhaas om die punt van die Peleponnese gaan as gevolg van die winde. Hier by ons, is dit heerlik. Waaroor ek natuurlik baie dankbaar is. Ons is eintlik op pad na die Kanaal van Korinte waardeur ons waarskynlik Sondag sal gaan.

Dis ’n splinternuwe blink oggend wat glim in die blydskap van die nuwe dag. Ons is op pad na Nea Epidavros, 37°40.803 N, 23°09.147 O, ’n skrale 3.3 myl om te gaan. 

Oggendskoot - Glim


Ons vaar met Gus liggies van voor en voor ons ons oë uitvee, is ons daar. Ons vaar by die klein hawe in en ek kry my anker gereed om te gooi. Maar wat ’n verrassing! Die man haal ’n vasmeertou uit die water. Ek maak die ankerkas toe en wikkel om die boothaak te kry om die tou te gryp en ons meer vas. Hulle moes onlangs die vasmeertoue gekry het, want al twee boeke praat nog van anker gooi. Maja lê rustig in die klein hawe, veilig vas.

Maja
Maja en Marieks


Later trotseer ons die bloedige hitte en gaan stap langs die rivier, wat sommerso uit ’n klip begin loop. Skuil seker hoër op ondergronds teen die bloedige son wat dreig om al sy water dorstig op te slurp.

Rivier


Ons stap die bult uit en kyk na Aigina wat wes van ons lê. Voor ons is Methana Skiereiland met die oulike Vathi en regs is Palaia Epidavros. Op ’n helder dag sal jy sekerlik vir Athene ook kan sien.

Uitsig oor die baai
Vrugbare vallei


Ons stap terug en besoek die dorpie, as jy dit so kan noem. Hier is geen mini mark of winkels nie. Net ’n paar restaurante en kamers te huur. Hier in Griekeland is daar altyd tavernas en kamers te huur! Dis vrekwarm en ons gaan swem in die ysige rivierwater. Dit laat jou ril en die koue kom sit op jou hart.Dit koel ons heerlik af. 

 Ons hou van die klein plekkie. Dis stil en plaaslik.

Friday, August 28, 2015

Palaia Epidavros (Ou Epidavros)



27 Augustus 2015. Donderdag.

Vathi tot Palaia Epidavros


“We are sailing, we are sailing, Saronic waters ...” na Palaia Epidavros, 37°38.334 N, 23°09.641 O, 9.4 myl. Gus waai lekker lig en ons span die seile en jaag na ons nuwe bestemming, topspoed van 5.6 knope. Ons kyk, maar sien nie weer ons skool dolfyne nie.

Ons nader Ou Epidavros en vaar in die nou kanaal wat die ingang na die kaai aandui en besluit ons gaan nie kaai toe nie, ons gaan sommer in die baai anker. Dis koeler en ons kan in die see spring as ons te warm kry. Mensig, maar dis warm hier in Griekeland! Ons sukkel om af te koel.

Amper daar
Op anker


So sit ons langbeen op Maja se dek en geniet die lewe wat voor ons afspeel. ’n Oorvol dinghy kom by ons verbygejaag op pad dorpie toe met die hele jag se bemanning, hulle sit laag in die water en ek is seker daar is ’n nat boud of twee. Ons verkyk ons aan die gesinnetjie wat met hul dinghy “ski”, so asof dit ’n speedboat is. Drie van hulle op die plank agter en die vader in die dinghy trek hulle trots. Dinkie en haar vriendinne is wonderlike veelsydige goedjies.

Ski
Skiërs


Ek en Archie spring in Dinkie en gaan ook dorp toe. Niks besonders aan die dorpie nie, restaurante, hotelle, ’n mini mark en etlike toeriste winkeltjies wat allerhande tierlantyntjies verkoop. Ons bekyk die kaai waar al die jagte vasgemeer is en gaan terug na Maja op anker en koel sommer in die water af. Iets wat ons nie in die hawe of kaai kon doen nie.

Epidavros kaai
Soos 'n uil op 'n kluit

Dis amper volmaan.

Thursday, August 27, 2015

Methana Skiereiland. Vathi.




26 Augustus 2015. Woensdag.

Dorousa tot Vathi

Ek het in Turkye ’n t-hemp gesien waarop geskryf is: ”Home is where the anchor drops.”  Ons gaan nou die anker optrek en ons huis verskuif na Vathi, 37°35.603 N, 23°20.343 O, 6.9 myl. Op is die anker en weg is die sigeuners.

Dis nie ’n lang pad nie en ons seil selfs vir ’n lang ruk. Ons trek die seile in en gaan om die hoek. Vathi is nou nie meer vêr nie. Archie skree: ”Dolfyn!” Hy stuur vir Maja dadelik in die rigting.

Maar is dit vir jou ’n gesig om te sien! Dis jouwaarlik ’n skool van kinderdolfyne wat besig is met ontbyt. Dit splash en jy sien net dolfynvinne. Hulle spring nie hoog uit die water nie, maar beweeg en jag in ’n sirkel. Dit is ’n skool van omtrent veertig en dit lyk na kleiner dolfyne. Hulle is sku en toe ons te naby kom, duik hulle dieper in die see.

Feeding frenzy


Oral is seemeeue. Hulle hardloop as’t ware op die water, vlieg ’n ent en gaan sit weer. Wonder of hulle stukke vis of dalk klein vissies vang wat uit die water spring om die dolfyne te ontglip. Ons geniet die skouspel van die see en vaar tevrede verder. Die natuur bly vir my ’n wonderwerk.

Seemeeue


Vathi het maar ’n klein ingang. Daar is gelukkig plek langs die kaai en ons meer vas. Later kom Sailing Holiday se flotilla van tien bote en waar hulle almal plek langs daai kry, weet ek nie, maar almal kry ’n gaatjie. 

Ingang
Leierjag van die flotilla
Maja by die kaai


Vathi is ’n klein plekkie wat nie eers ’n mini mark het nie, net ’n paar restaurante. Dis boomryk en landelik. Ek hou sommer dadelik van die plekkie.

Vathi