Thursday, April 30, 2015

Kuşadasi. Maja



27 - 30 April 2015

Archie sê altyd: ”’n Huisvrou se werk is nooit klaar nie!”  Wel, dis miskien waar, maar wat die waarste is, is dat ’n bootmens se werk is wraggies nooit ooit klaar nie.

'n Huisvrou se werk is nooit klaar nie ...
... en 'n bootman s'n ook nie.


Na sewe maande van eensame oorwintering, is Maja toe onder ’n stofkombers. Ons moet mooi kyk om haar te erken so tussen die stof deur. Dan begin ons. Dis afwas en afstof en uitvee. Matrasse uitslaan, kussings opplomp en beddens opmaak. Kaste regpak, klere uitpak. Al Maja se geskenke oorhandig en uitpak. Dan is daar nog die miljoene gereedskap wat Archie saambring en die kosvoorrade van die huis af. Ons spit en polish vir die vale. Was die hele Maja van kop tot toon silwerskoon. Maar dis die maklike deel.

Boot was


Dan begin daai Ingelsman soos Sherlock Holmes die een na die ander stukkende ding opspoor. As iets nie stukkend is nie, dan breek hy dit self, net om iets reg te maak.

Ons bed is nog vars opgemaak, toe pluk hy weer die beddegoed af en takel die snoet watertenk se meter wat aandui hoe vol die tenk is (baie sielkundig positief). Hy ontdek met vreeslike opgewondenheid dat daar bietjie water in die ruimte onder ons bed is. Die oorsaak van die lek word uitgesnuffel en opgespoor. Verlede jaar het Archie en Gerrie aan die ankermotor gewerk. Hulle het mos hoeka ’n wonderwerk verrig toe hulle dit suksesvol reggemaak het. Die gat waardeur die ankerkabels na die anker gaan, was nie heeltemal geseël nie en water het baie stadig daardeur gelek. Archie geniet homself terwyl hy dit regmaak. Hy neurie mos as hy met moeilike reparasies besig is.



Seël snoet se lek


Van die lewensbaadjies is effe klam en word opgehang om uit te vars en droog te word. 

Effe klam lewensbaadjies


Toe vernis hy die hout rondom die nuwe enjinmeters en sit ’n nuwe rubberseël vir die helm se kontrole-instrumente dinges in. Toe soldeer hy sommer ’n paar dun draadjies wat ek so ewe moes vashou.

Die volgende slagoffer is die gasstoof se brander wat oneweredig vlam. Hy skuur en druk goed in gaatjies (nee Verona, moenie verkeerde ideas kry nie) en maak skoon. Nou brand die stoof lekker.

Ek vra ewe onskuldig vir Archie hy moet net na die spaarkajuit se een venstertjie kyk. Dit voel ’n bietjie los. Hy raak so begeesterd met die regsien van die venster, dat hy daar en dan elke liewe venster ondersoek en nog vyf ander stewiger maak. Ek staan vol bewondering vir hom en kyk. Sowat van daad by die woord voeg, kry jy nie aldag nie.

Maak venster reg


Archie is nog glad nie klaar nie. Hy vervang ook die element van ons geyser, want dit trip elke keer Maja se krag. Dis geyser uithaal, winkel toe, koop ’n nuwe element. Sit dit in. Winkel toe, koop o-ringe en voltooi die projek na baie moeite. Ek help ook darem om die water uit die enjin “bilge” op te droog. 

Spoel geyser uit


Hy beraam planne om die nuwe afdakkie te “installeer”. Ons sit die bimini weer op.  Ek maak die vleklose staalpype skoon. Ons werk ons kuduks. 

Poets pype


Oral op die bote werk die manne. Dan spring hulle op ’n fiets en jaag winkel toe om iets te gaan koop en kom met ’n plastieksak vol goed teruggejaag. Dan werk hulle weer.

Ek sê vir Archie ons moet ook fietse kry. Hy sê nee.

Almal het fietse


Ons het darem kans vir kuier ook. Ons kry mense vir aandete. Ons koop hoender en sampioene en regte spinasie en slaai en uie en tamaties by die mark. Alles vars. 

Op pad mark toe


Ek kook ’n storm los vir Niel van Rensburg en sy seun Pierre, ook Suid-Afrikaners wat ons toevallig hier in Kusadasi ontmoet het. Niel bring ’n bottel sjampanje uit Suid-Afrika. Niel en sy vrou Sandi, wat eers 4 Mei Turkye toe kom, gaan ook vir vyf maande in Turkye en Griekeland toer. 


Pierre, Archie en Neil


Archie kraak die sjampanjebottel se kurk en ons klink ’n glasie op nuwe vriendskappe. Ons hoop om hulle êrens eendag weer te sien.

Wednesday, April 29, 2015

Selçuk. Efese.



27 April 2015.



Nou kom Efese aan die beurt. Ons klim die taxi en sit af na Efese. Na al die nodige fooie wat betaal moet word, is ons in die stad, saam met nog ‘n magdom menigte mense.

Net 20% van die stad is al opgegrawe. Oostenryk en Duitsland is tans nog besig met opgrawings en selfs Amerika het ‘n gebied waar hulle die opgrawings borg.

Efese was ‘n Bybelstad, waar Johannes en Paulus ‘n groot rol gespeel het. Dit was ook ‘n belangrike hawestad, maar met die verloop van tyd het die rivier die see ingesluk en toegeslik. Vandag is Efese nie meer langs die see nie, maar jy kan die see steeds in die verte sien.


Efese met ou hawe in die verte


‘n Tipiese dag in Efese kon in die outyd so verloop:

(As jy ‘n besoeker was, moes jy natuurlik eers al jou vuilgeid en sonde afwas by die Greco-Roomse baddens, voordat jy die pragtige stad kon invaar.)

Greco-Roomse baddens


Vir die inwoner begin dit met ‘n munisipale debat by die Odeon.

Odeon


Die belangrike sake kan dan verder bespreek word terwyl julle rustig in die “Curetes Way” wandel. So gesels-gesels stap julle verder. Oral stop jy en gesels en redekawel met ander mense met ander sienings.

Curetes Way
Curetes Way


Jy stap na die Latrines en doen jou ding. Jy verlustig jou in die beeld van Keiser Trajan, by die fontein. Jy stap verby die Tempel van Domitian en die Memius Monument en gaan rus by jou terrashuis. 

Tempel van Domitian
Memius Monument


In die namiddag gaan lees jy ‘n klassieke werk in die biblioteek van Celsus. Op sy dag kon dit 12000 perkamentrolle huisves en dit was die derde grootste antieke biblioteek.  (Dis so mooi, ek sal heeldag hier sit en lees!) Of jy kan aan die aktiwiteite van die bordeel deelneem, wat beslis nie lees insluit nie. 


Celsus Biblioteek
Biblioteek kolomme
Biblioteek, fyn detail
Biblioteek, fyn detail


Die meer kuis en goeie inwoners, kan een van die tempels besoek om die gees te verryk. Of net in die marmerstrate van Efese wandel, ronddwaal en die mooi van die omgewing en die stad geniet. Of oor die see sit en tuur en die lewe oordink. Die vrouens moes natuurlik kook en kinders dra, baar en grootmaak!

"Spot the Nike swoosh"


Die dag word afgesluit met ‘n dramatiese vertoning by die indrukwekkende teater wat 25 000 toeskouers kon huisves.

Teater


Vir ons is dit net ‘n verbeeldingryke verwondering in ‘n ouwêreldse stad en ons besef dat ons lewens maar ‘n druppel in die see is van gebeure en leef wat oor die eeue plaasgevind het.

Na die verbeeldingstog in Efese, gaan ons by die onderste hek uit, kry ‘n dolmus wat ons na die werlikheid van die grootpad neem en wag toe ‘n halfuur vir 'n ander dolmus na Kuşadasi.

Wat ‘n heerlike uitstappie.

Selçuk. Basilika van St John.



27 April 2015.


Uiteindelik is ons op pad na Efese. Volgens Gerrie en Ansu, wat verlede jaar ’n besoek daar afgelê het, is die ou stad ‘n moet.

So het ek ook duidelik vir die kaptein gesê dat ek nêrens heen vaar voordat ek nie Efese besoek het nie. Die kaptein vra: ”Do you really want to go?” Ek sê ja. Hy vra weer: ”Do you really, really want to go?” Ek sê: ”Ek sal op die kaai bly sit en jy en Maja kan dan maar alleen vaar as ek nie Efese toe kan gaan nie.” Toe gaan ons Efese toe.

Dis nie sommer net van gaan nie. Eers neem ons ’n taxi van die Setur Marina na die dolmusstop en wag vir die dolmus. Toe klim ons die dolmus na Selçuk. Dit is ’n pragtige klein dorpie in die heuwels naby die see. Daarna moet ons nog ’n taxi na die boonste hek van Efese neem. Dan is jy eers daar.

Gerrie het gesê hy is baie spyt dat hy nie verlede jaar na die dissipel Johannes se graf gaan kyk het nie, so, by Selçuk gekom, stap ons toe eers na die Basilika van St John. 

Ingang tot die Basilika
In die Basilika
'n Rêrige ooievaar


Lank lank gelede was dit ‘n reuse kerk en hier het die mees  geliefde dissipel van Jesus, Johannes, baie van sy skryfwerk vir die Bybel gedoen. Hy is ook hier begrawe. Die Basilika moes baie indrukwekkend gewees het toe dit nog heel was. 

Model van die Basilika met die werklikheid in die agtergrond
Archie by Johannes se graf
Gerrie, dit is die tombe


In die verte hou die Citadel woordeloos wag oor die Basilika. 

Die Citadel
Binne-in die reuse Citadel


Ons stap bult-op na die ou woordelose waghouer  en is weereens verstom oor die grootte van die Citadel en vakmanskap van die manne van ouds. ”Gerrie, dit was dubbel en dwars  die moeite werd!”

Muurblommetjies