20 - 21 September 2013. Vrydag, Saterdag.
 |
Veerbootrit van Patra tot Venesië, 670 myl, 34 ure (Swart lyn) |
Maja is blink en kaal. Gestroop van haar toue, stewig vasgemaak met Benito se ekstra skokbreker toue. Vensters en gordyne dig toe. Sonder bimini en "sprayhood". Dinkie is afgeblaas en gebêre. Benito, wat haar gaan oppas, kom groet en hy kry die laaste instruksies van Archie. Hy sê hy sal gereeld foto's stuur om te wys dat alles nog piekfyn is.
 |
Genoa inspeksie |
Ek groet vir Maja en sê ons kom volgende jaar weer terug. Dis hartseer om haar te los. Sy lê rustig in die water. Sê niks nie, maar ek voel haar vrouehart klop. Ons verstaan mekaar.
 |
"Tata Maja" |
Ons saal op en met 'n laaste "Tata Maja", is ons weg. Die taxi neem ons na South Port, waar ons die veerboot na Venesië kry. Dit is eintlik 'n boot wat hoofsaaklik vragmotors vervoer, maar ook motors, motorfietse en "motorhomes". Daar is ook plek vir passasiers maar dit is nie die MSC Sinfonia nie! Archie het vir ons vliegtuigstoele bespreek. Om middernag vaar ons weg uit Patra.
 |
Propvol groot trokke |
Ons probeer slaap. Die groot Griek (hy het gedink ek reis alleen), het my genooi om by hom, op sy matras op die vloer te lê. Ek sê toe nee, want wat sal Archie daarvan sê! Ek lê op die mat tussen die sitplekke, want dit is vir my gemakliker daar en Archie lê op die stoele. Gelukkig was die lokaal nie baie vol nie, en hy kon darem op twee stoele slaap. Ek slaap my in 'n knie-en rugbesering in. Die volgende oggend voel ek baie ouer as my ma. Almal staan mank-mank op na 'n nag van ongemaklike, gebroke slaap.
Dit was aand en dit word môre. Die veerboot laai nog mense en voertuie by Igoumenitsa op en toe is daai boot vol. Daar is nie eers plek vir 'n muis nie.
Al wat hierdie boot kan doen, is vaar. Hy spoed teen 20 knope onverpoost voort. Dis heerlik om die Griekse eilande wat ons saam met Maja besoek het, te herken.
 |
Jag by Corfu Eiland |
 |
Corfu Eiland |
 |
Albanië |
 |
Albanië se majestueuse berge |
Later herken ons die Montenegro-kuslyn en dan ook my geliefde Kroasië eilande. Teen sononder vaar ons tussen Vis Eiland en die eiland van die Blue Grotto deur. Die herinneringe pluk aan my hart en ek dink aan al die mense wat saam met ons gevaar het én wonder hoe gaan dit met Maja.
Toe word dit slaaptyd. Die mense skrop nes en baklei oor stoele om op te slaap. Oral op die vloer slaap mense. Dit woel en krioel en kussings en beddens word gebou. Die slimmes het komberse en matrasse gebring. Die dommes soos ek, trek maar ekstra klere aan. 'n Vloer word koud in die nag en ek wil nie weer koud kry nie. Die lokaal lyk later soos 'n konsentrasiekamp tydens die Tweede Wêreldoorlog. Archie sê: "More like the gas chambers." Oral lê lywe.
Ons oorleef die nag en almal staan moeilik met seer lywe op en met ekstra deurmekaar hare. Ons is amper daar. Mense vergader op die dek en adem Venesië in.
 |
Oggendskoot - Vaar Venesië binne |
Dis 'n pragtige gesig vanuit die boot. Waar is Elize nou! Ons vaar stadig verby die ou stad en sien dit uit 'n ander, hoër hoek.
 |
St Marco Katedraal |
 |
Ingang tot Grand Canal regs, ons vaar links na hawe |
Natuurlik merk ek en Archie dadelik die marinas op waar 'n klomp seiljagte vasgemeer staan.
 |
Marina |
 |
Nog 'n marina |
Ons is in Venesië!
Published with Blogger-droid v2.0.10