30 Julie 2013. Dinsdag
Die nag was heerlik windstil. Ons vertrek weer vroeg, want winde word vanaf 08:00 voorspel, 11:00 bietjie sterker en sterk wind vanaf 14:00. Die sterkste wind sal egter in die nag wees. Ons werk ons roete beplanning daarvolgens uit. Ons behoort 12:00 by Przina op Korcula-eiland, ons ankerbaai, te wees.
Ons kry al van vroeg wind, maar gelukkig van skuins agter en ons seil veilig en vinnig. 11:00 begin dit sterker te waai en Gus begin stadig maar seker die see op te werk. Teen 12:00 is deinings al amper deine. Ons trek die seile in, want Gus ruk hom op tot 20 knope van tyd tot tyd.
Gelukkig is Przina in sig en ek slaak 'n sug van verligting. Onthou, ek hou van plat see en lê-wind. Ons vaar die baai binne. Daar is reeds twee bote en ons gooi anker tussen hulle.
Przina is glad nie beskut nie en dit voel of ons nog steeds op die see vaar, want Gus waai vir Maja parallel met die deinings en ons kantel sywaarts, op en af. Amper soos toe ons van Cavtat na Montenegro toe gevaar het, net met een verskil, Gus waai!
Van die ander jagte soek ander ankerplek en ander verlaat die baai een vir een. Ek sê vir Archie ek sal dit nie oorleef nie, want dit gaan net erger word. Nou moet ons kies tussen die uiters onaangename anker en die woedende see. Archie sê ons ry. Racisce-baai, naby Lumbarda Marina is net om die hoek, so 45 min se vaar.
Hy trek die anker op, want Maja skommel so, dat ek nie op haar snoet kan staan nie. Ek is agter die helm en dit voel of ons gaan omval (ons sal nie regtig omval nie).
So elke nou en dan roep ek sy naam as die deining ons erg skommel. Op is die anker en kaptein vat oor.
Gus waai. Waar de moer hy al die blaas vandaan kry, weet ek nie. Die see is groot. Ek sê vir Archie ek wil nie op die see wees nie en hy skree: "SING!" En ek sing Jabulani Afrika. Dit help. Gelukkig kom die golwe en die wind van agter af, so ons ry hulle snoet eerste. Ek het een keer gewaag om om te kyk hoe groot hulle is en het vinnig weggekyk en harder gesing.
Toe moes ons om die draai gaan. Vir 'n ruk moet ons dan parallel met die deinings vaar. Archie skree net vir my: "Hou vas!", en ek hou vas. Ons is deur en toe kom die wind van voor. Dit waai met alle mag en geweld in ons gesigte. Daar is nie deinings nie, net seesprei en wind.
Archie sê ons moet nie hier wees nie. Maar ons is en ons moet daar deur. In my enigheid hoop ek net dit is nie die gevreesde Bora nie. Dis 'n noordewind. Die see sprei water oor Maja, in ons gesigte en verswak ons sig. Archie moet konsentreer, want daar is vlak gedeeltes wat ons moet vermy. Ek lees die kaart sonder my bril.
En Gus waai en waai woedend,sonder ophou...
Daar in nog 'n paar ander jagte wat saam met ons beur teen die wind en so kom ons by Lumbarda Marina aan. Dis amper windstil daar en ons kan asem skep. Die man wys hulle is vol en ons kan net langsaan, by Racisce anker. Ons vaar daarheen en dis propvol, want dis laat, ek dink dit was net na 16:00. Almal soek skuiling. Niemand wil op die see wees nie.
Ons vaar die propvol baai binne en kry 'n plekkie. Ons moet twee keer gooi, want daar is tog wind wat ons druk en ons eindig te na aan 'n catamaran.
Ons is verlig. Ons is veilig. Die aand kom die winde wat hulle voorspel het en Gus waai met nuwe ywer. Ons waai te na aan die boot agter ons en 23:30 trek ons anker op en gooi weer. Dis donker en Gus waai, maar ons gooi anker.
Gus laat vir Maja steun en kraak en kreun en ek doen my nagwaak op die dek. Die rukwinde ruk en pluk aan ons. Daar is konsternasie in die baai. Gus waai die jagte onder hulle ankers uit en kort-kort hoor jy 'n anker gaan op en dan moet hulle in die nag, in 'n oorvolbaai, weer gooi. Op al die bote doen 'n eensame donker figuur die nagwaak. Ek lê heelnag op die dek. Gus het die hele nag gewaai, het net nie opgehou nie.
Ek is dankbaar toe die nag begin ligter kleur en in oggend verander. Archie bring 05:00 vir my koffie en ek slurp dit gulsig op. Hy het in die nag ons anker se draaibewegings op die GPS dopgehou.
31 Julie 2013. Woensdag
Dit was nag, letterlik en figuurlik en toe word dit uiteindelik dag. Archie besluit ons bly die dag hier by Racisce en ons rus . Ek haal my slaap in. Ons stap 13:00 Lumbarda toe. Dis die dorpie waar die marina is. As jy verder oor die bult stap, kom jy by Przina, wat eintlik 'n gewilde swem sandstrand het. Ons stap in die bloedige son tussen wingerde, braambosse en olyfboorde. Die see daar is vandag baie kalmer.
Oppad na Przina |
Geluk Elize, my seilsuster, met jou verjaardag!
Published with Blogger-droid v2.0.10