Sunday, June 30, 2013

Manastir. Dag 63.


U. Stipanska tot U. Manastir


Ek is al weer op verdomde nagwaak, want die wind die waai kwaai in die baai. Ek weet nie hoekom Gus se stryk-orkes my in die nag so wakker hou nie. Alles dril en beef en vibreer en klap en kreun harder in die nag. Ons swaai al om ons anker, die kant toe en daai kant toe. Die res van die bemanning slaap soos babas. Ek dink hulle is doof.

Michelle verjaar vandag. Sy is 'n volle 23 jaar oud en sy het blog-hoender vir haar verjaarsdag bestel. Ons moet 'n rou hoender by Hvar koop.

Hoopvol staan ons op. Ons moet in die baai bly tot so11:00 en dan na Hvar gaan. Miskien is ons gelukkig om 'n plek by die dorpskaai te kry. Ek, Michelle en Anika maak boot skoon. As Archie en Gerrit te lank stilstaan, word hulle ook met 'n nat lap afgevee. Die meisiekinders werk vlytig en fluks. Maja lyk pragtig skoon.

Dis 11:00 en ons vertrek na Hvar. Die wind waai. Dis net 30 minute se vaar tot daar. Dinge lyk nie goed nie. Die superbote neem al die plek op. Ons kry nie 'n plek nie. Tweede keuse - ons kry 'n boei. Ons vaar op die boei af. Ek en Michelle haak die boei met die boothaak. Ons maak die tou vas, maar die wind stoot ons net waar hy wil. Gerrit en Anika help wegstoot van die ander boot af. Dis 'n gesukkel in die sterk wind. 
Ons los die boei en probeer anker gooi. Voor die anker gegooi is, het die wind ons alweer in 'n verkeerde rigting gedryf. Ek trek anker op, moedeloos. Ons vergeet van Hvar en vaar verder. Tot siens hoender. Die kinders is teleurgesteld. Hulle wil dorp toe.

Ook oppad


Ons vaar na Scedro Eiland, waar ons by Uvala Manastir 'n restaurant boei gaan kry. Dit werk so: jy kan gratis vasboei, maar jy moet hulle peperduur kos eet. Wel, Michelle verjaar net een keer per jaar in Kroasië en ons besluit om haar verjaarsdag maar daar te vier.

Michelle en Anika sit heel voor op Maja en kekkel die hele tyd. Hulle sonbaai in 'n effentjies sonnetjie. Waar is die warm dae nou wat ons saam met Elize en Fanie beleef het.

Ons nader Manastir en vaar by die klein baai in. Ons is alleen daar. Ek vat die helm en Arch en Michelle kry die boei. Geen probleme díé keer nie en ons is vas. Ons neem 'n tou na die land vir ekstra veiligheid. Die baai is beskerm teen wind van alle rigtings, behalwe noord.

Grill by Manastir


Die mans gaan bespreek vir ons plek by die Grill, vier visdisse en een vegetariër dis. Ons meisies trek skoon rokkies aan oor ons nie silwerskoon lywe. Ons is almal "opgedress" en  Archie en Gerrit roei my in Dinkie na die Grill. Daarna gaan haal hulle vir Michelle en Anika en roei hulle na vaste grond.

Die meisies word ingeroei


Ons stap na die Grill waar ons tafel reeds gedek is.

Ons tafel



Ek lap dadelik uit dat Michelle verjaar. Ons klink 'n glasie op haar. Hulle bring twee slaaie, vars brood, een groentebord vir Anika en vier visse.

Visdis


Dit lyk vorentoe. Daar heers 'n ligte, ontspanne atmosfeer. Vergete is Hvar en ons geniet die aand. Die kersie op die koek was die verjaarsdag kersiekoek - op die huis.

Verjaarsdag kersiekoek


Nie eers die baie hoë rekening bederf die aand nie. Ons gaan tevrede en knuppeldik terug na Maja. Ons meisies hou sang-aand en sing (volgens Archie) vreeslik vals. Maar wie gee om?

Geluk met jou verjaarsdag, Michelle.

Verjaarsdagmeisie


Laat in die aand begin die wind te waai. En van watter rigting kom die wind? Noord natuurlik! Die wind waai en raas en baklei so vreeslik met Maja, dat ek wéér nie kan slaap nie.


Published with Blogger-droid v2.0.10

Friday, June 28, 2013

Split, Trogir tot amper Hvar. Dag 61 en 62


Van Split tot Trogir (pienk lyn)


Ons moet vandag vir Split groet, maar Anika en Michelle móét vir oulaas winkels toe. (Ek wonder of Anika se pa én sponser weet hoe baie sy van winkels hou). Ek gaan saam dorp toe, net om 'n ogie oor die meisies se beursies te hou. Na die laaste minuut inkopies gaan ons terug na Maja, maar dit lyk of Gerrit en Archie ook laaste minuut inkopies gaan doen het, want hulle is weg.

Almal is aan boord en  Archie gee vir die nuwe bemanning 'n les, hy verduidelik al die toue, seile, katrolslinger, al die moets en moenies van seil. Michelle verstaan (sy het al geseil), Gerrit verstaan amper (want mans verstaan seil beter), maar ek kan sien dat Anika se kop draai...

Al die toue word losgemaak en almal beman hulle poste en ons verlaat Spit se kaai oppad na Trogir. Ons ken die pad, want ons was baie onlangs daar saam met Elize-hulle en ons anker weereens langs die kanaal, maar diè keer aan die wal vasgemaak.

Gerrit aan die stuur
Swem oppad na Trogir
Lafenis
St Kriz kerk oppad na Trogir


Die kinders is gretig om dorp toe te gaan en Dinkie word opgepomp en daar trek hulle.

Taxi Dinkie
Dorp toe


Hulle kom later terug met sakke vol lekkers en chips. Gerrit se Dinkie-taxi neem vir my en Archie na die land, want ons moet kosvoorrade koop. Die kinders eet verskriklik!!

Ons koop by die splinternuwe Konzum en met twee rugsakke vol kos, loop ons terug na die kaai, roep die taxi en ons word veilig aangery na Maja.  Ek dink die kinders is meer bekommerd oor die kos as oor ons.

Dis koud en die wind waai. Gepanser met warmgoed gaan beleef ons die aand-atmosfeer van Trogir. Dis maar stil hier in die ou dorp, want van môre-aand af is hier 'n fees. Ons gaan dit misloop. Net toe ons dink daar gaan niks aan  nie, kom ons op n "seventies" groep af. Jy kan sien wie sing saam - die ouer mense. Die aand skryf die meisiekinders liefdesbriewe vir hulle kêrels. Ai, waar's die dae...

Liefste ...


Die volgende oggend is dit weg met ons. Die ewige weggaan. Altyd op die pad. Nooit stagnant, voortdurend aanskuif. Dryfhout, strome en getye neem ons van die een plek tot 'n ander. Die storie van my lewe as seilende sigeuner.

Van Trogir tot Amper Hvar (Pienk lyn)


Ons motor en later seil ons. Dit lyk mooi met die seile.

Kleurvolle gennaker


Dis 'n rustige seil. Kinders is snaakse goed. Hulle lê en slaap. Op al die beddens lê daar een en slaap. Hulle lê die hele Maja vol.

Ons kom by Hvar, maar dis vol en ons gaan  anker weer by U. Stipanska naby Hvar. Ons sal môre weer probeer om plek by die Hvar dorpskaai te kry.

Die kinders snorkel en hulle lyk vir my soos vreemde wesens.

Vreemde wesens
Published with Blogger-droid v2.0.10

Wednesday, June 26, 2013

Kinders. Dag 58, 59 en 60


Vandag kom die kinders. Met vanaand se 21:00 bus vanaf Zagreb.

Dit was warm in die dag en ons los Maja se vensters oop. Sy blink van bo tot onder vir ons nuwe kuiergaste uit Suid-Afrika en alles is op hulle plek en skoon geskrop. Ek en Archie gaan eet ietsie by die Fife restaurant om die tyd van wag om te kry. Ons eet ons knuppeldik aan die heerlike kos in Split.

Na ete stap ons stadig na die ou stad, want die tyd kom nader. Toe, skielik, breek die enigste wolkie in die lug en dit sous. Archie hardloop terug na Maja om die vensters te gaan toemaak. Ek skuil onder 'n afdak, maar reën tog maar nat, want die wind waai die vlagies nat teen my vas.

Archie bly lank weg en ek raak later ongeduldig. Dis 20:50 en ons moet nog busstop toe loop om die kinders te ontmoet. Hy kom aangeloop met 'n vreeslike spoed. My oë vra dadelik waarom was hy so lank weg, maar voordat my mond die vraag kan formuleer, antwoord hy al.

Maja was druipnat. Die vloere was nat, die beddens en banke was nat. Die "bilges" (ruim) was vol water. Archie moes eers die vloere droogmaak en vensters toemaak en red wat te redde is.

Gelukkig reën dit minder en ons loop toe in 'n rekord tyd verder busstop toe. Net betyds om die bus te sien arriveer.

Anika, Gerrit en Michelle


Die kinders is hier! Michelle, Gerrit en vriendin Anika. Na die gul gegroet, kry ons die bagasie en stap terug na waar Maja langs die kaai lê en wag.

Die kind wat Maja eerste sien, kry 'n prys. Hulle kyk grootoog om Maja eerste te sien. En die wenner is... Gerrit!!!
Maja wag geduldig-wiegend vir die kinders om op te klim. Hulle is moeg na die 36 uur reis om hier te kom en voel maar wankelrig op Maja. Hulle is so honger soos wolwe en verslind die pasta (ek het vergeet kinders kan so baie eet). Hulle slaap op die droë dele van die beddens.

Na die heerlike nagrus en kapteinskoffie, is hulle reg vir die dag. Die wind waai en ons vertrek baie versigtig vanaf die kaai na Split Marina. 

Al die kinders kry of 'n tou of  'n afstoot pos om te beman. Dis altyd moeiliker om in wind vas te meer. Dis Gerrit en Anika se eerste vasmeer ervaring maar gelukkig is Michelle 'n ou hand, want sy het verlede jaar saam met ons geseil.  Sy weet wat om te doen. Die vasmeerman wink om ons plek aan te dui. Archie ry mooi agteruit, Michelle maak voor vas, Anika en Gerrit gooi toue en stoot  boot weg. 

Met opdragte van die vasmeerman, die helpende hande en voete van die dekspan, moor ons suksesvol vas. Anika sê sy is natgesweet en vir die eerste keer verstaan hulle wat ek bedoel dat ons altyd natgesweet is na 'n vasmeersituasie.

Die meisies verwelkom die warm stort wat op hulle wag en selfs Gerrit wil ook skoon kom. Hulle lyk soos nuwe sikspense - skoon geskrop en vars. Opgewonde loop ons dorp toe.

Skoon geskrop en vars
Gerrit, Ek en Michelle


Hulle geniet die stalletjies en die ou stad.

Ou kloktoring
Diocletius


Die wind waai vanaand verskriklik en die maste en die toue word 'n stryk-orkes met Gus as die orkestreerder. Die maste wieg en dans, die vlae hou wapperkompetisie, die geluide legio.
Ek sug en die kaptein troos my deur te sê: "Toemaar, ons is vas en veilig in die Marina".

Toe maak ek my oë toe en slaap.
Published with Blogger-droid v2.0.10

Sunday, June 23, 2013

Split. Dag 54, 55, 56, 57


Trogir tot Spinut Marina, Split


Ons laat Trogir in 'n môrestond van sonskyn agter. Ons vaar verby die kuslyn van sewe kastele oppad na Split. Die wind is maar min so die gedreun van die motor is ritmies, afgemete hoorbaar.

Kastela 1
Kastela 2


Ons nader Spinut Marina, naby Split, waar ons gelukkig is om 'n plek vir een aand te kry. Vandag is stortdag en die vars water verdryf al die sout van die see van ons lywe. Ons ruik na seep en shampoo en skoon en ons voel goed.

Elize kan nie wag om die ou stad van Split te beleef nie en ek dink Fanie sug innerlik. Hy is meer van 'n natuurmens, maar ons pak die 30 min se stap na die dorp aan. Voor dit te lank raak, is ons daar en Elize word nie teleurgestel nie.

Split. Daar is net een Split. Die plek het als. Atmosfeer, "vibe", ou stad, vertonings en oral is straat optredes. Elke tien treë neem Elize 'n foto en elke twintig treë sug Fanie. So verken die tweetjies kamera-klikkend-sugtend vir mooi ou Split.

Later stap ons terug na die Spinut Marina, eet aandete en gaan slaap tevrede.

Spinut Marina tot Split Kaai


Na 'n nagrus vaar ons verder, die hawe van Split binne. Maja se motor is dors en ons gooi diesel in. Archie besluit om vas te meer by die dorpskaai en al die toue vir "alongside" word in gereedheid gebring en ons meer vas.

Elize is vreeslik gelukkig oor ons posisie, want dis naby die ou stad, al is daar nie storte nie. "Ons het mos gister gestort", is haar motivering.

Die dorp se mense loop op en af langs ons verby op die dorpskaai. Ons het 'n pragtige uitsig op die ou stad van Maja af.

Uitsig oor Split vanaf  Maja


Ons neem die hele atmosfeer met al ons sintuie in. Ons gaan swem by die klipstrand, geniet straatvertonings, stap kruis en dwars deur die ou stad, peusel by die kosstalletjies en sit op die bankies langs die hawe. Ons het twee heerlike laaste dae saam met Elize en Fanie in Split.

Romeinse argitektuur
Straattoneel
Ou huis (Ek  verlang na my huis)


Ons gaan eet ons afskeidsete en die kos is heerlik. Fanie eet 'n "meat platter for two "alleen op. 

"Meat platter for two"


Ons loop 23:00 saam met hulle busstop toe. Dis net bagasie! Hulle moet 24:00 die bus klim na Zagreb, waar hulle die vliegtuig kry terug huis toe.

Toe is hulle skielik weg.

Koebaai julle


Ek staan die oggend op en dis stil en leeg. En ek huil. Ek huil oor Elize en Fanie wat weg is. Ek huil oor ek soms so kwaai is. Ek huil oor die kinders wat Maandag kom. Ek huil oor Francois (my oudste kind) wat nie kom nie. Ek huil oor my ma en pa. Ek huil oor my familie en vriende. Ek huil oor my huis. Ek huil oor Maja wat so wieg. En ek huil omdat niemand my troos nie. Ek huil alleen.

Ek sit my sonbril op my betraande oë, stap dorp toe, neem Elize se foto en toe hou ek op huil.

Vir Elize


Die aand kom die maan vol en rond en geel en groot oor die see op en hang in die lug...

Volmaan


Published with Blogger-droid v2.0.10

Saturday, June 22, 2013

Trogir. Dag 53


U. Gornja Krusica tot Trogir

Dis lui-lekker somersdae in Kroasië. Daar gebeur niks vreesliks opwindend nie. Ons vaar van die een plek tot die ander en geniet die son en die maan en die wind in die verre land wat aan ons gegee is.

Dis snikheet. Die see bestaan uit 'n versameling van duisende koel waterdruppels waarin ons ons lywe afkoel tot 'n aanvaarbare temperatuur wat noodsaaklik is vir die voortbestaan van die menslike natuur.

Lekker swem


Die water is vlak oppad na Trogir (43º 31.027 N  16º 15.241 O) en Arch hou vir Maja sekuur tussen die bakens in die kanaal. Dis 15 myl tot daar. Elize vra gereeld vir Archie (gemaak kalm) hoe diep dit is. Dan antwoord ou Arch so ewe kalm: "3m". Dan is Elize so bietjie benoud.

Ons anker in vlak water (1.2 m onder die kiel) en die raasbek wat raas as ons te vlak is, raas heeltyd.
Archie skakel die instrumente af om raasbek se stem stil te kry.

Trogir van ankerplek
Ankerplek op Trogir


Die mans gaan stel ondersoek in oor die diepte en of Maja nie gaan strand nie, maar alles is onder beheer.
Ons wag vir die son om sagter te skyn en gaan dorp toe.  Fanie en Archie word moeg vir die dorp en gaan terug na Maja met Dinkie. Toe ek en Elize terug boot toe wil gaan, staan ons langs die kaai en roep op ons hardste Archie se naam om ons te kom oplaai. Al die omstanders kyk oorbluf na ons en ek sê "Pardon". Fanie kom haal ons met Dinkie.

Fanie besig om te leer roei


Ons woon die aand 'n kompetisie-konsert by waarin baie talentvolle kinders optree.
Ek kan maar net nie wegkom van kinders nie.





Trogir kry eers lewe in die aand en ons geniet die atmosfeer langs die kaai.

Trogir se Riva
Trogir se fort in die aand

Môre is dit Split toe.


Published with Blogger-droid v2.0.10

Wednesday, June 19, 2013

Hvar. Dag 52


Hvar tot U. Gornja Krusica

Dis lekker in Hvar. Elize en Fanie gaan by een van die talle klipstrandjies swem en hulle doen ook 'n "roofstort" by die strand. Hulle kom silwerskoon by Maja aan en ons hoef ons nie meer vir hulle te skaam nie.

Die stegies roep vir Elize en ek word saamgesleep. Dis stegie op, trappies op en stegie af, trappies af. Ons dwaal rond in die hartslag van Hvar. Daar waar rêrige mense bly.

Trappies op 
Stegie


Dis baie warm en die sweet tap ons af. Die hele Hvar het in 'n sauna verander, maar niemand gee om nie, want Hvar bestaan uit gelukkige mense.

Hvar vibe
Hvar Fort


Teen een-uur kommandeer die kaptein ons op om te vertrek. Alles word in gereedheid gebring vir die vertrek. Ons beman ons poste en vertrek met meer grasie as wat ons gekom het. Geen komedie vertoning word díé keer aan die kykers verskaf nie. 'n Catamaran wag soos 'n aasvoël om Maja se plek in te neem.
Ons pak die plat-water reis aan na Uvala Gornja Krusica op Solta Eiland (43º 21.411 N, 16º 21.905 O). Dit is 15 myl tot daar. Ons prr teen 4.5 knope. Dis net vinnig genoeg om die kaptein lomerig te maak en hy knip gou 'n vinnige uiltjie.

Uiltjie


Die Jadrolinija bote spoed by ons verby en laat net 'n string deinings agter wat ons heen en weer laat wieg op die gladde water.

"Oral om, om my heen, is dit blou..." (Laurika)


Ons kom 17:00, of miskien 'n minuut of wat later, by die baai aan en anker in ons eensaamheid. Ons swem rondom Maja in die heerlike water, wat ons lywe laaf en laat lewe.

Elize en Fanie is in 'n speelse bui. Hulle begin nou té tuis raak op Maja. Hulle flankeer met die kamera soos wafferse oorsese modelle.

Flankeer met kamera



Published with Blogger-droid v2.0.10