Tuesday, April 30, 2013

Krka-valle. Dag 3

Vandag neem ons 'n ekskursieboot om na die Krka-valle te gaan kyk. Dis in 'n nasionale park. Na ons kapteinskoffie, eet ons iets, maak gereed en loop na die kaai waar ons die boot moet klim. Dis lekker om sonder spanning op 'n ander ou se boot te ry. Sommer net ry, sonder om te dink aan wind en seile en diepte en en en .....

Skradin se marina

Die valle is mooi. Dit wemel van mense wat dit bewonder. Ons stap al langs die valle, op die bospaadjies. (Behalwe dat ek 'n kerkmens is, is ek ook 'n bosmens. Ek kan hoor wat die bos sê...)


Ou dorpie langs valle

Krkavalle


Krkavalle
In die woude

Reuse pannekoek middagete
Ons begin 14:00 weer ons pad (water) terug, nou stroom-af in die rivier, na Sibenic, waar ons vanaand slaap. Ek skryf lang sinne, want Archie het gesê my sinne is te kort. Maar wat weet hy eintlik? Hy's Engels!
Ons moet vandag diesel ingooi en dit is nie sommer vir ingooi nie. Dit is eintlik 'n mission. Ons moet "alongside" parkeer.
Die alewige toue. Ons gooi Maja se tenk propvol en gaan na die vasmeerplek. Vanaand is dit nie in 'n Marina nie. Dis sommer so langs die kaai in die dorp. 'n Hele paar bote lê daar vasgemeer. Al die nuuskierige toeriste wat verby loop, staar na die seilbote en die mense op die bote (ons). Ons gaan eet uit. Miskien is dit die ouderdom, maar ons is elke aand pootuit. Ons is geen kompetisie vir die jonges op die bote langs ons wat partytjie hou tot die volgende oggend 5:00 nie.

Vasgemeer in Sebenic

Monday, April 29, 2013

Amper gestrand. Dag 2

Na 'n lekker nagrus, saggies wiegend op die water, ontwaak ons met 'n stomende koppie koffie van die kaptein. Aa, lekker. Ek is geen oggendmens, en gelukkig weet my kaptein-man dit.
Gaan stap deur die dorpie en op na die kapel bo op die heuwel. Pratige uitsigte.

Tribunj se kapel

Restaurant in Tribunj

Eeuoud steenbruggie

Uitsig van kapel
Maja se bemanning



Al weer die tou-ding (Grietjie en Bushy leer vinnig) en ons trek weg uit die Marina (soort van 'n hawe). Ons span die seile. Daar is 'n lekker windjie. Ons seil lekker, nie skeefboot nie. Ek is méér sigeuner as séilende. Ons moet 'n katrolslinger - Bushy se vertaling - gebruik om die seile styf te span (winch handle). En dit is waar alles begin het...
Ek sukkel elke keer my alie af om die ding uit die katrol (winch) te kry. En ek hét al leer vloek. Dus, elke keer haal ek die slinger uit die katrol met 'n matrooswoordjie. Ek sê die ding moet gemaak word dat 'n vroumens maklik daarmee kan werk. Bushy se lyftaal sê :"Stupid vroumens". Nou oefen ek. Druk die slinger in, draai die knoppie en probeer dit uithaal.
Sukkel, sukkel, verduidelik, stry, kaptein lewer kommentaar, Grietjie lag. Maja seil geduldig voort. Al nader aan die groen baken... Skielik sê Bushy dit is vlak. Archie kyk na sy dieptemeter. O, genade! Diepte- 0 meter. Pandemonium!
Archie skakel motor aan, Bushy vloek, Grietjie skrik. Ek kyk na die water. Ek sien net bodem en klippe!  Ek gil (en ek kán gil, hoor!). Archie motor so vinnig moontlik weg van die vlak water. Op 'n stadium sê hy dat hy die bodem voel. Ons het AMPER GESTRAND.
Ons is wit geskrik en vergeet van die gestry oor die slinger en katrol.
Die wind raak flouer en Bushy  fluit vir die wind om te kom. Hy is eintlik in sy hart 'n boer, hy weet van wind fluit. Ek weet darem nie, maar dit klink mooi.

Grietjie in ontspanne bui na die "amper stranding"
Bushy in meer ontspanne bui


Ons seil verder, tot by Sibenic. 

Ou fort by rivier se mond
Sibenic



Vandaar rivier-op na Skradin, waar ons in die Marina gaan oornag. Dis somer in Kroasië, Elize. Ons het heerlike sonnige dae.
Dis altyd baie stresvol om vas te meer, maar wat kan ons doen. Gelukkig is die vasmeerman op sy pos, en ons wag op die belangrike handroep. Ons motor stadig na ons staanplek. Die gewone tou-stres, en ons is vasgemeer by Skradin. Ons stap rond, drink koffie.
Ek moet erken, ek hou van grond onder my voete.

Sunday, April 28, 2013

Nooiensvaart. Dag 1

Die wind, die son en die wolke is in 'n luggeveg. En die wenner is.... die wind. Die wind wat waai, is kwaai. Arme Bushy en Grietjie is lammers tot slagting. Hulle dink seil is vakansie. Hulle kry 'n lesing by Archie oor die toue en anker en vasmeer.

Bushy leer 'n les
Die tou aan die boei word losgemaak, want ons moet aanstaltes maak. Die engin word aangeskakel en Maja beweeg. Ons motor na Murter Eiland, waar dokumente ingehandig moet word. Ons eerste toets - ons moet vasmeer by Betina Marina.
Almal staan gereed met 'n tou in die hand. Ons wag dat die vasmeerman vir ons wys waar om vas te meer. Hy kom op 'n fiets aangejaag. Wys die plek met 'n handbeweging aan.
Archie is agter die stuur. Trurat in die nou spasie in. Terloops, 'n boot het nie 'n rem nie. Bushy staan gereed met die boothaak om die vasmeertou te haak. Grietjie staan onseker met 'n swart tou in die hand. Weet nie presies waar en wanneer en hoe om die ding te gooi nie. Ek staan, vol valse selfvertroue met my tou. Spanning loop hoog.
Ons meer vas, skarrel rond, gooi toue, haak toue,vang toue, maak toue vas. Ons meer vir Maja vas sonder skandes. Dis Sondag en die hawemeester se kantoor is toe. Ons gaan koop 'n bietjie kos voor die supermark om 13.00 toemaak. Archie en Bushy gaan koop petrol vir Dinkie. Ons gaan terug boot toe en maak reg om te vertrek. Ons maak al die toue sekuur los en ons vertrek na ons eintlike eindpunt vir die aand, Tribunj.
Die wind waai en "kaptein span die seile"! Die liedjie is 'n bogstorie, want kaptein gee bevele en ons span die seile. "WE ARE SAILING"! 

Die Seilende Sigeuner
Oppad na Tribunj

Die wind is sterk, die seile wapper en die boot lê goed skeef. Ons skrik effens, maar ons seil.

Die een lê ook skeef
Na 'n ruk, wat soos 'n week gevoel het, kom ons by Tribunj  aan. Weer die spanning van vasmeer. Die vasmeerman vra na die bootpapiere en ons begin besete daarna soek. Dis weg!
Archie begin teruggaan op sy spore by Murter, waar ons die bootpapiere moes ingee. Hy dink hy het dit vergeet waar hulle die kan vol petrol gemaak het. Hulle verduidelik dit aan die vriendelike vrou by die Marina. Sy skakel die petrolstasie in Murter en dis sowaar daar! Sy reël 'n taxi en weg is Archie en Bushy. Wat 'n geluk. Die hele koevert met al die belangrike dokumente is daar.
Op hierdie reis is daar "never a dull moment". En al wat Bushy en Grietjie wou doen, was om vakansie te hou!

Die veilige nooiensvaart word gevier

Saturday, April 27, 2013

Papsopwaternat


Ons is nou in Kroasië. Ons het mos eintlik kom seil. Ons land in Zagreb. Daarna met die bus na Zadar, dan na 'n klein dorpie met die naam Pirovac, waar Maja is (hopelik).


Die rugsakke is swaar. Ons word by Pirovac se busstop afgegooi en ons moet stap na 'n supermark (daar is drie supermarkies). Watter een? Arch bel die agent deur wie hy die boot gekoop het. Geen antwoord nie! Ek pas die bagasie op en hy soek langs die kaai vir Maja. Geen seiljag nie! Effense paniek! Sê nou die hele boot koop was ‘n “scam”?

Net toe SMS die agent en sê die man wat ons na die boot toe neem, is oppad. Archie het net klaar gelees toe daag die man, asof gestuur,  uit die niet daar op. Algehele verligting!

Hy laai ons, met al die bagasie in sy effens vuil kar op en daar trek ons. En wat sien ons daar? MAJA, ons dierbare MAJA! Vasgemaak aan’n boei in die middel van die baai. Dubbele algehele verligting! Ons klim op sy skuitjie en hy neem ons na Maja (ek dink sy was bly om my te ontmoet).


Taxi na Maja

MAJA 
Dis vreemd om weer op ‘n seiljag te wees, met net water om jou. Ons pak tot laat uit. Hongerpyne knaag. Ons het die hele dag net ‘n toebroodjie geëet. Ons het niks kos nie en ons suig ‘n Halls vir aandete. Ons het nie eers kos vir die volgende dag se ontbyt nie.

Die nag waai die wind so erg, dat ek elke nou en dan benoud opstaan en loer of ons nie al wegdobber nie. Dit was aand en dit was more…

Die volgende more is dit bewolk. Die son kruip weg. Ons het darem ‘n bietjie gas oor (hulle het nie die gas volgemaak nie) en die dierbare Archie maak vir ons boeretroos – swart en bitter. Ons drink gulsig.



Archie se afskeidsgeskenk word goed benut

Ons skrop die boot. Archie buite en ek binne. 11.00 roei ons met Dinkie (klein rubberbootjie), want die engine het nie petrol in nie. Ons laai die gasbottel en die petrolkan in om te gaan volmaak. Daar is geen gas of petrol in die dorpie nie. Ons koop ‘n bietjie kos en toe ons uit die supermark kom, reën dit. Ons loop vining met ons hande vol goed na Dinkie, wat papnat is. Ons roei wind-op, met die reën in ons gesig, na Maja, wat ewe geduldig op ons wag. (En ons vriend Tony sê toer is maklik?!)

Bushy en Grietjie is oppad in ‘n taxi vanaf Split, waar hulle geland het. As hulle weet wat vir hulle wag, boek hulle liewers  by ‘n hotel in Split in. Bushy SMS : ”Ons is hier”. Archie roei land toe met Dinkie om hulle op te laai. DIT SOUS!!! Hy laai eers vir Bushy en die twee groot sakke in. 

Bushy oppad
Hulle roei papnat en die water spat. Bushy is aan boord! Archie roei terug en laai vir Grietjie en die hand(nat)bagasie op. 


Grietjie oppad
Grietjie is aan boord! Twee nat hoenders uit Suid-Afrika.

 Almal is PAPSOPWATERNAT!
Sies tog. En al wat hulle wou doen, is om vakansie te kom hou.
  
Ons leer suip

Wednesday, April 24, 2013

Au Revoir Frankryk

Vandag is ons laaste dag in Provence. Rustige dag. Ek gaan vandag na die pous, van vergange se dae, se blyplek kyk. Die Palais Des Papes is groot en indrukwekkend. 
Drakekop hoog op die Paleis


Archie is nie lus nie, so hy gaan sy eie gang na die hangende tuine van Avignon. 
Hallesmark met sy vertikale tuin




Ons was rustig en het op die pleine en strate rondgedwaal.

Een van die baie straatkafees

Bulle!!!

"Merry-go-round"

Môre gaan ons met die trein Parys toe. Vrydag vlieg ons Kroasië toe. Ons sien baie daarna uit om vir Bushy en Grietjie te sien. Hulle kom van Suid-Afrika om saam met ons die nooiensvaart van Maja  te beleef.

Dan word ek die Seilende Sigeuner.














Laaste dae.

Ons is in Avignon. Te voet. Ons verlang na ons karretjie. Vandag gaan ons dit kalm vat. Die pas raak nou heeltemal te veel vir 'n pensioenaris en sy ou vroutjie.
Ons lê in. Staan eers 10.32 op. Arch is darem vroeg uit om koffie te gaan koop. Vandag rus my ou moeë knieë.
Die rus is van korte duur. Arch het 'n kaart van staproetes in die dorp gekry. Ander mense klim die "hop on hop off" bus of treintjie, maar ons STAP.
Ons stap die oranje roete. Dit neem jou na al die belangrikste historiese plekke en uitkykpunte in die dorp.
Ons stap ons des dinges. Op en af, die kant toe en daai kant toe, op die muur en af van die muur.

Muur op, muur af ...
Op en af ...

 Die Papelpaleis is indrukwekkend! Dit is 'n Wêrelderfenis Terrein.

Palais des Papes
Palais des Papes
Palais des Papes



Avignon is 'n baie mooi, ou dorp op die oewer van die Rhône. Pont St-Benezet is die brug genoem in die bekende Franse kinderliedjie "Sur le Pont d'Avignon". Dis ook 'n Wêrelderfenis Terrein.
Pont St-Benezet, Rhône Rivier en Palais des Papes



Ons sit op die plein en kyk na die mense. Dit ís mos rusdag (ha-ha). Ons geniet die verbygangers se reaksie op die menslike "statue". Eenkant speel 'n straatmusikant sy trekklavier. Daar is atmosfeer en dis lekker.

Standbeeld?


Vanmiddag gaan ons Villeneuve-Les-Avignon toe. Blykbaar is dit baie mooi om Avignon van oorkant die rivier te sien as die son sak. Wag vir bus 5 en ry na Villeneuve toe. Ons klim by Fort St-André af. Die boek sê die uitsig is die beste van daar af.

Fort St-Andrè in Villeneuve-Les-Avignon



Daar is so obskure paadjie boontoe, reguit na die fort. Natuurlik vat ons die paadjie! Dis 'n steil , klein paadjie, amper soos in die Drakensberg. Ons moes tóé al lont geruik het.
Die paadjie swenk toe links en regs op. Ons kies links. Deur bosse, oor rotse op, op. Ons loop 'n ruk langs die onderpunt van die baie hoë, steil muur van die fort. Toe gaan die paadjie so steil af dat ek met 'n stemtoon sê: "Archie, ek gaan nie hier af nie!" Diegene wat al saam met my in die berge gestap het, sal die stemtoon ken.
Ons is toe terug op die paadjie en gaan toe regs. Dis 'n beter pad, wat ons na die fort se ingang neem. Maar toe is die hek toe. Dit sluit 18.00. Ons was net te laat. Damn!
Al wat ons wou sien, is die laatmiddag son op Avignon. Toe stap ons weer laat dit bars. Ons wil êrens op 'n hoogte kom waar ons kan sien, want orals is bome.
Ons kom toe by Colline Des Mourgues. Nie eers die naam skrik ons af nie (berg van die dooies of dood?).  Dis 'n park met uitsigte op Avignon en Villeneuve. Ons loop vasberade die pad op vir die uitsig. Skote petoors-die uitsig!

Uitsig op Avignon vanaf die Colline des Mourgues
Uitsig op Palais des Papes en Avignon vanaf die Colline des Mourgues
Ons is die enigste mense in die park. Ons loop na die uitgang. Geskok moet ons toesien dat 'n polisieman die groot ou hek sluit. Ek roep agterna, maar hy klim in die motor en ry. Ons draai in ons spore om en stap vinnig na die ingang. Te laat! Gesluit. Toe klim ons maar oor die tralies om uit te kom.

Wat 'n rusdag!

Tuesday, April 23, 2013

Uitgebrand

Gister kon ek nie 'n dooie woord skryf nie, want ek was uitgebrand. Teen die grond. Kaput.
Ons het gister van ons plekkie, naby Les Baux, (met 'n vreeslike deurmekaar plaaskombuis), gery na Arles. 
Dit was eintlik die dag wat ons die astrante ou karretjie moes terugneem na Aunt Avis in Avignon.

So ry ons toe eers by Arles om. 'n Pragtige dorp vol Romeinse erfenis.

Les Arenas

Cathedrale St Trophime

 Mooi ou dorp waar Van Gogh 'n klomp van sy bekende kunswerke geskilder het. Met die stapkaart in die hand, stap ons die Van Gogh-roete. Die roete neem jou na die plek waar die skildery geskilder is en wys dan op n bord  hoe dit gelyk het. Ons soek nóú nog na die windmeulskildery! Die ander het ons gekry en bekyk.
Terloops - ons het 'n Hollandse staproeteboek gebruik.

Het Nachtcafe soos geskilder
Het Nachtcafe nou
De Brug van Trinquetrille soos geskilder
De Brug van Trinquetrille nou

Met die terugkom, het ons gruwelik verdwaal. Ons het seker 'n duisend seemyl geloop,voordat ons geweet het waar ons was. Toe word die Afrikaner-boerenooi in my wakker. Ek soek 'n stuk rooivleis. Toe is dit weer op en af na 'n restaurant waar die "plat de jour" vleis is. "Faux fillet du fritters". In plein Afrikaans is dit "fake fillet en chips"

Straattoneel
Amedee Pichot Fontein

Toe is dit weer deur die verkeer, GPS vasgeklem, oppad na Avignon met besige paaie en  baie motors. By Avignon aangekom, moes ons na die stasie, waar die Avis depot is. Ons het ingery op soek na brandstof. Geen brandstof! Toe is dit dorp toe. Gelukkig, so deur die sirkels, verkeer, robots, het ons 'n petrolstasie gesien aan die ander kant van die pad. Omdraai! Gooi brandstof in. Terug stasie toe. 

Ons ry drie keer om die stasie, op soek na Aunt Avis. Ons ry in en uit, ander plek in en uit. Kort termyn parkering, lang termyn parkering, eenrigtingstrate, padaanwysers in Frans! Ons sien waarheen ons moet gaan, maar ons kom verdomp nie daar uit nie. Eindelik, nadat 'n vriendelike Fransman ons begelei het, kry ons die regte ingang en kom ou Astrant by haar Aunt Avis uit. Ongedeerd, sonder stamp of stoot, ongeskonde!
Wat 'n verligting! Wel gedaan, Archie!

Toe is dit met die swaar bagasie in 'n bus, daarna die swaar stap hotel toe. Die wind het vreeslik gewaai.
Ons het in die dorp rondgestap op soek na 'n supermark. Stap lang pad terug hotel toe. Ek was moeg. Uitgebrand.