Friday, August 9, 2019

Limnos Eiland. Skemerkelkies.

8 Augustus 2019. Donderdag.
 
Ons skuil en Pierre en Annatjie skuil saam. Ons gaan nie ons kruising doen nie, want die wind tussen Limnos en Lesvos is nog te kwaai. Voel vir my ek is hier vasgevang.

Laatmiddag vat ons die pad kasteel toe. Boontoe. Ons wil die son sien ondegaan met my geliefde berg Athos op die horison. Pierre en Annatjie beur die opdraende uit en toe verken ons weer die een deel van die kasteel. 
 
Beur boontoe
 
Die baai lyk pragtig met Annatjie en Pierre wat ekstra fleur daaraan verleen. Ons bekyk alles. Daar is altyd nóg iets wat mens in die kasteel kan ontdek.
 
Kaspaka Baai
Toring
Kleurvolle rots
 
Die bokke wei daar rond. Hulle is maar skaam en skugter vir vreemdelinge en kies die hasepad. Wat die vierpotiges nie besef nie, is dat hulle nie van my kameralens kan ontsnap nie. Hulle is pragtig.
 
"Fallow deer"
 
Ek en Archie loop deur die ondergrondse tonnel. Gelukkig het ons flitse, wat dit is stikdonker. Pierre en Annatjie dink die aarde het ons ingesluk en waai verlig vir ons toe ons anderkant te voorskyn kom. 
 
Tonneluitgang
Waai verlig
 
Ons kyk nie die amper-ondergrondse bergplekke van ammunisie en na nóg 'n ondergrondse iets. Die kasteel is jou waarlik baie groot.
 
Ammunisiestoor
Skadu's teen die muur
 
Toe is dit sukke tyd. Ons kry 'n plat plek om te sit, onder die wakende oog van Berg Athos. Om te dink ons het reg om hom gevaar om al die kloosters te sien! Archie skink die retsina, terwyl Pierre en Annatjie dorstig toekyk. Toe word die non-wynglase serimonieel geklink in die ryk laatmiddagson. 'n Warm gloed kwas ons gesigte tot 'n glans van vreugde. Die son is die skilder en kleur die lug in sodat ons mensekinders in ekstase kan raak oor die rykdom van moederaarde. Wat 'n spesiale skemerkelkie.
 
Skinker
Ek en Archie
Annatjie en Pierre
Ek en Berg Athos
Sonsondergang
Sela
 

Thursday, August 8, 2019

Limnos Eiland. Ontdek die eiland-toer.

7 Augustus 2019. Woensdag.

Ons is nog steeds op Limnos, want Gus en sy vrinne baljaar nog steeds in die stuk see wat ons moet kruis. So, ek en Archie gaan vandag op 'n €35 toer waar ons die eiland gaan ontdek.

Daar is sewe toeriste, die gids, Marina en die bestuurder. Ons kry die beste sitplekke, want ons klim eerste op. En daar trek ons. 

Ons eerste stop is by Nea Koutali, die dorpie waar die sponsduikers bly. Die St Nicolas Kerk is ook hier. Dit is op 'n klein eiland gebou, wat dit baie uniek maak. Ons stap op die loopweg, as't ware deur die see, om die kerkie te besoek.
St. Nicholas eilandkerk
St. Nicholas eilandkerk
Ekke
Toe ry ons noord-oos om die argeologiese terrein van Hephaesita te besoek. Hierdie is 'n baie ou Griekse teater en dateer uit die 5de of begin van die 4de een v.C. Die ou wit marmerstoele was die sitplekke vir die vername mense van daai tyd. Hoe minder belangrik jy was, hoe meer agter het jy gesit.
Hephaesita
"Best seat in the house"
Ons geniet ons oggendkoffie by Kondopouli, maar ons verkies om die dorp te verken en nie koffie te drink nie. Veral die interessante blou gebou vang my aandag vas. Die res van die toergroep drink koffie en daarna val ons weer in die pad en ry verby Repanidi, Kotsinas, Varos en Atsiki. Ons sou graag by Aliki, die soutpanne, wou stop, maar dis nie deel van die toer nie.
Kondopouli herehuis
Venster
Ons volgende stop is in die noorde van die eiland, by die geologiese wonder van Propouli. Dit staan bekend as Falakro. Hierdie eienaardige rotsformasies lyk of dit uitgekerf is. Soos 'n maanlandskap. Hulle reken dit het gevorm toe warm lawa afgekoel is deur die seewater. Dit moes 'n natuur skouspel gewees het toe dit gebeur het. Ek kan my voorstel hoe die stoom getrek het en die water gekook het en hoe die warm lawa in hul spore vasgesteek het.
Falakro
Kantwerk
Archie en ek
Marina, die toergids
Rotsformasie
Trek skoene aan
Ons laaste besoek is aan die sandduine. Dis die enigste "woestyn" in Europa. (Hierdie mense weet nie hoe lyk 'n woestyn nie). Dit beslaan 'n area van 70 akker. Die sterk noordewind verander die vorm van die sandduine, net soos dit by Ouboet, die Sahara, gebeur. En die kleur kontras met die diep blou see, is pragtig. Marina sê ons moet ons skoene uittrek om die gevoel van die wonder onder jou voetsole te voel. Ek en Archie maak toe so en loop kaalvoet rond. Dis sag onder die voete.
Sandduine
Sandduin
Die res van die toergeselskap word by die Gomati strand afgelaai en hulle laai ons by Flomari restaurant af. Flomari is dié restaurant se spesialiteit. Hulle is oor die hele Limnos bekend vir hul tuisgemaakte pasta. Pragtig plek met 'n mooi see-uitsig. Ek bestel lam met flomari noedels en Archie eet haas, ook met flomari noedels. Heerlik.
Flomari haas


Tuesday, August 6, 2019

Limnos Eiland. Stap.

6 Augustus 2019. Dinsdag.

Vandag gaan ons vier die dorp te voet verken. Gewapen met stapstokke is ons gereed en daar trek ons.
Reg om te stap

Hier is ons staptog in 'n fotobeeld. Met Archie as die gids en ek en Pierre en Annatjie as meelopers geniet ons die verkenningstog.

Ons eerste besoek is die fontein wat deur die dorpsbesoekers gebruik is om hulle dors te les. Dit het ook in die Ottoman periode water aan die dorp se huishoudings te voorsien. In die snikhete somer is dit baie welkom om dorstige kele nat te maak sodat jy verder kan stap. Ons maak toe sommer so. Drink die nektar uit die fontein se kraan.

Annatjie by fontein

Church of the Dormition of Holy Mary
Uitsig vanaf die Dapia Fort, wat deur die Russe in 1770 gebou is om die kasteel te bombardeer
Archie in die Dapia Fort
Ek en Archie in die fort met die kasteel in die agtergrond
Annatjie en Pierre
Myrina, met sy hawe en kasteel
Die staptog af
Wasdag
Metropolitan Church of the Holy Trinity
Brug naby kerk waar die waar die Ottomans 300 kerkmense doodgemaak het en twee priesters opgehang het
Einde van die staptog en ons drink koffie en sommige lede van die geselskap is lomerig en knip 'n vinnige uiltjie


Monday, August 5, 2019

Limnos Eiland. Eilandtoer.

5 Augustus 2019. Maandag.

Pierre en Annatjie gaan vandag op 'n toer om die eiland van Limnos beter te leer ken. 08:50 stap hulle gestewel en gespoor na die bus. Dit is soos hulle dit ervaar het. 

Pierre skryf so. 
"Ons het besluit om die "Antiquities" toer te doen, want dit het heel interessant geklink en boon-op in 'n lugversorgde toerbus plaasvind. Die oggend het maar deurmekaar begin, want die agent se "here" en die busbestuurder se optelplek was so 'n 500m uitmekaar. Nietemin, ons is toe op die bus en begin die toer, nadat die res van die geselskap by baie mooi oorde in die omgewing opgepik is. 


Die toer self was nogal soos die spreekwoordelike “curate’s egg” met OK-erige gedeeltes, gevolg met werklik aangrypende dele.


Die eerste stop was by Kotsinas waar ons 'n ou kerkie met 'n lang geskiedenis kon besoek, asook die beeld van 'n plaaslike heldin wie haar pa met 'n sabel teen die invallende Turke verdedig het.

Kotsinas

Die ou dorpies is baie "picturesque" met hierdie drinkplekke vir algemene gebruik redelik beskikbaar. Dis duidelik dat van die geboue horingoud is en steeds in algemene, hoewel vervalle, gebruik is. 

Drinkplek

Die hoogtepunt van die toer was beslis die besoek aan Poliochne. Die stad het 2200 v.C. begin as’n klompie hutte, wat deur die eeue ontwikkel het tot 'n stad van nagenoeg 1500 inwoners met strate,  gemeenskaplike sale, ens. Dit het natuurlik herhaalde kere terugslae ervaar (met 'n groot F), goeters soos aardbewings, Turkse, Roemeinse en ander oornames. Elke keer met grootskaalse verbranding, vernietiging en slawerny. 

Uiteindelik is die stad verlaat omdat dit te gevaarlik naby die kus was vir knaende aanvalle deur Turkse seerowers. Hier is ’n vriendelike groepfoto van twee ou “sites”.

Ou goed

En ons het gedink dat ’n driepootpot is 'n Suid-Afrikaanse uitvindsel, hierdie outjie is so 1000+ jaar oud.

Kleipot

Die verskillende epochs is duidelik sigbaar en in die plaaslike museum is die steen tot brons tot koper artefakte sigbaar.

Poliochne

Ons het middagete by die plek in Moudros genuttig, lekker koel en aangenaam onder die groot bome, terwyl die bries van die die see af instoot.


Die sardyne met vars brood was heel lekker! Ek het proefondervindelik uitgevind dat hul graatjies , alhoewel fyn, redelik taai is en dat mens die vissies maar eerder moet soort van fillet.

Galazio Limani Restaurant

Sardyne