Sunday, August 4, 2019

Limnos Eiland. Myrina.

2 en 3 Augustus 2019. Donderdag en Vrydag.
Porto Koufo tot Myrina
Vandag is dit vroeg opstaan, want dit is die lang kruising van 55.4 myl na Myrina, op Limnos Eiland. Ons vertrek 05:00. Dis nog 'n dreigende donker duisternis. Ek en Pierre is op wag. Ons moet kyk vir vissersbote sonder ligte en ook vissersboeie. Twee paar oë tuur stip in die duisternis.
Brandwag
Die ligte van die bote glim spookagtig in die donker. Archie konsentreer agter die helm. Genadiglik word dit darem lig en ons is dankbaar toe daai son uiteindelik te voorskyn kom. Die wonderwêreld van sien.

Die eerste stuk see is nogal rof met die wind van voor. Darem nie te sterk nie. Ons span die genoa en die wind help bietjie, motorseil vir ure. Gus waai soos gewoonlik van die verkeerde kant af.

Twee dolfyne kom swem vir 'n lang tyd saam met Maja en Piere geniet die vertoning. Annatjie slaap heerlik, want sy voel effe seesiek. Slaap vir meer as twee ure. Pierre gaan lê ook skuins en slaap amper twee ure. 

Ek en die kaptein sit maar ewe getrou op die dek om die vort te hou, terwyl die slapende skones skuinlê. Toe Annatjie opstaan, voel sy baie beter. Pierre is toe ook gereed om sy beurt agter die helm te vat. Ons sien gelukkig weer golfyne en dié keer kan Annatjie dit ook geniet. Dis altyd baie spesiaal om die vriendelike bewoners van die blou see te sien.

Gus waai later net reg dat ons die hoofseil ook kan span en die enjin kan afsit. Ons seil heerlik en kry 'n topspoed van 7.6 knope onder seil, nuwe rekord topspoed. Praat van wind in jou seile. Dis ons daai. Trots en bolrond seil ons vorentoe, altyd vorentoe. Pierre sit soos 'n stout seun met sy voete in die water. Annatjie kyk na die horison, daar vêr. Berg Athos bly in sig. Ons kan hom eers baie later agterlaat.
Onder vol seil
Pierre seil
Archie seil
Nuwe rekord seilspoed
Voete in die water
Die eiland kom nader en toe is ons by Myrina, die rusplek vir ons siel. En liggaam. Dit was 'n uitstekende kruising. Die 10h52min het glad nie so lank gevoel nie.

Ons kry 'n plek by die kaai. Die gewone prosedure. Pierre en Annatjie sit die fenders uit. Archie tru, ek gooi anker. Pierre staan agter gereed en Annatjie is paraat om af te stoot. Manne en 'n vrou help op die kaai en ons is vas. Myrina se kasteel vertoon pragtig in die agtergrond.

Die kaptein lyk al vir my soos 'n seerower. Ons besluit dis tyd dat hy na sy voorkoms moet kyk, Annatjie neem hom onder hande en knip sy hare. Nadat die baard ook gesny is, lyk ou Archie weer pragtig. Weer soos 'n kaptein! Dankie Annatjie!
Myrina.
Myrina
Haarsny
Ons kuier heerlik by Hentie en Diana op hulle seiljag en sy bederf met 'n heerlike ligte ete. Sulke goeie gasheer en gasvrou het ek lanklaas beleef. (Eintlik in Thassos, toe ons by hulle was.)
Twee kapteine
Ontbyt
Diana en Hentie
Ons gaste verlaat ons kleine Maja vir groener weivelde en gaan soek ander heenkome in 'n heerlike lugverkoelde hotel. Wel nodeloos om te sê, ek was letterlik sprakeloos van skok! Ek en die kaptein is toe "home alone" en sit heerlik langbeen op die dek en geniet die aand wat voor ons afloop. 






Saturday, August 3, 2019

Singithikos Skiereiland. Porto Koufo.

1 Augustus 2019. Donderdag.

Nikiti tot Porto Koufo
Ai, maar ek het weereens dit op Nikiti geniet. Vandag is ons op pad na nog 'n bekende plek, Porto Koufo, 21.6 myl.
Almal kry 'n beurt agter die helm. Sommige is net meer ontspanne as ander agter die helm. Dis nou behoorlik drink en bestuur hierdie! Pierre vaar nog so lekker toe Maja se ritme verander. Ons kom dit dadelik agter. Ek sê vir Archie ons moet dadelik stop, want iets is verkeerd. Die kaptein vat die snorkel en gaan stel ondersoek in. Die sondebok is 'n stuk plastiese tou wat aan die propeller se as vassit. Ek stem saam oor plastiek. Dit besoedel die see.
Pierre
Die sondebok
Die water is glad en Gus lê. Ons vaar vorentoe, altyd vorentoe. Ons vaar by die natuurlike hawe in en gooi anker. Eindig te na aan die boot wat op 'n boei is. Trek maar weer op en gooi weer. Gelukkig byt dit en ons is vas.
Porto Koufo ingang
Dit is vreeslik warm en die water lyk aanloklik. Annatjie is maar skrikkerig vir die blou see, maar durf dit dapper aan. Ou Pierre swem self nie te lank nie. Ek kry darem 'n paar foto's in, na 'n bietjie soebat. Die water is heerlik en ek swem sommer lekker lank.
Maak moed bymekaar
Pierre
Lyf natmaak
Later gaan ons land toe, en ek en Archie koop lekker garnale vir aandete. Vanaand is die aand. Ek kan nie wag om my tande in daai garnale te slaan nie. En al die koppe en doppe uit te suig nie.

Pierre en Annatjie drink soos gewoonlik koffie en daarna ons gaan terug na Maja. Sjoe, maar dis warm hier en daai water roep my. Om jou oorverhitte lyf in die effe koel water te lawe, is heerlik.

Toe is dit tyd vir die garnale. Met peri-peri, saam met rys. En dis koningskos.
Koningskos

Singitikos Skiereiland. Nikiti weer.

31 Julie 2019. Woensdag.

Nea Moudhania tot Nikiti






Vandag gaan ons na Nikiti, 19.4 myl. Dis ook Pierre en Annatjie se nooiensvaart. Hulle sit agter by Archie en hy gee hulle 'n lesing. Hulle ontmoet al die instrumente.

Nooiensvaart
 
Toe moet ons weer onder deur die  Portas brug vaar. Pierre en Annatjie se taak is om seker te maak ons gaan deur. Maja se mas troon hoog bokant die brug uit. Dit lyk kompleet of ons gaan tref. Annatjie sê benoud vir Archie dat hy moet stop. Pierre tuur gemaak-kalm in die lug. Mond effens oop (en seker baie droog). Ons is deur. Hulle was net so benoud soos wat ek twee dae terug was.
 
Oggendskoot - Portaskanaal brug
Gemaak-kalm
"Stop Archie!"
 
Pierre gaan lê bietjie skuins. Hy is moeg, die want die vorige nag het die tieners weer tot laatnag by hulle kamervenster gekuier. 

Annatjie kry die helm om te beman en ons prrr vorentoe. Altyd vorentoe. Die see is 'n spieël. Die berge lê duinserig in die vêrte. Geen dolfyne verskyn aan ons nie. 

Ons nader Nikiki se semi-marina en Kostas wys die plek aan. Met almal se hulp, maak ons sonder skande vas. Archie tru, ek gryp die boei waaraan die snoettou is. Pierre keer af en help om die snoettou te trek. Later help hy met die agtertou. Annatjie is op 'n gereedheidsgrondslag om te kyk waar moet sy afstoot. Die buurman op die kaai help om die agtertou aan die land vas te maak.
 
Nikiti
 
Toe is dit Annatjie se belangrikste taak om koue dankies te skink. Almal sit hulle bestellings in en Annatjie skink. Dit is snikheet en die koue drankies gaan goed af. 

Ons stap later om Pierre se geld by Western Union te gaan haal. Die arme man is mos beroof. Sy kredietkaart, geld en alles. Nou het hy weer geld. (En wil dadelik koffie drink.)

Na 'n paar inkopies stap ons na die viswinkel om garnale te koop. Maar helaas, die viswinkel is toe en maak eers 18:30 oop. Pierre en Annatjie stap solank na Maja toe en ek en Archie wag dat die winkel oopmaak. Ons almal se monde water as ons aan daai garnale dink. Maar die winkel maak toe nooit oop nie. Geen garnale vandag vir ons nie.

Die aand gaan eet ons toe maar gyros. Ons word by die eerste gyros restaurant totaal geïgnoreer. Niemand wil ons help nie. Ons staan toe op en loop na die volgende een toe. Die vriendelikste meisie help ons. Wonderlike diens. Ons eet lekker. Dis darem goeie waarde vir geld. En so goedkoop.
 
Uiteet
Annatjie en Pierre
Vriedelike kelnerin
Ons vier

Wednesday, July 31, 2019

Thermaïkos Kolpos. Nea Moudhania.

29 en 30 Julie 2019. Maandag en Dinsdag.

Yerakini tot Nea Moudhania

Na 'n vreeslike gehop in die nag breek die dag uiteindelik aan. Ons staan op en ons altwee sien maar bedremmeld daar uit. Die anker word opgetrek en ons vertrek na Nea Moudhania, 10.5 myl.

Ons moet vandag onder die  Portas brug deurvaar. Ons hoop net ons kleine Maja se mas is laag genoeg dat ons onder die lae brug kan deurkom.
Portas Kanaal brug

Sommer gou is ons daar. Ons kyk daai brug so en dit lyk maar laag. Ons nader die kanaal en dié is maar vlak. Archie hou goed koers en ons kom by die brug. Ons gaan dit tref! Maar ons is deur. Ons kyk op en kan dit nie glo dat ons veilig deur is nie.
Gaan ons pas?

Toe is dit net 'n hanetreetjie en ons kom by die hawe. Dit is maar 'n deurmekaar spul. Die pier waar ons moet vasmaak, is stukkend. Seker in die onlangse storm beskadig. Gelukkig vertrek die engiste seilboot in die hawe en ons het 'n plek. Ons deel die hawe met vistreilers en klein vissersbote en nog ander lelike bootjies.
Vistreiler …
… se manne aan die werk
Hawe

Hemel, maar hierdie is die lelikste Griekse dorp wat ek nog ooit in Griekeland tydens ons seil besoek het. Die hawe se kragbokse is geplunder. Ou vergete bootjies is hier vasgamaak.

In die aand kom al die tieners van die dorp op die pier kuier, op ons voorstoep. Hulle drink, lawaai en skreeu. O ja, én vry. Geen respek vir die bote nie. Trek aan Maja, klim op die ander bote. Ek lê tot 01:00 om vir Maja op te pas. En skielik is hulle almal weg.

Vandag kom Pierre en Annatjie en gaan dan vir twaalf dae saam met ons seil. Alles is reg vir hulle koms en skielik is hulle hier. Moeg en uitgeput en warm. Hulle klim op Maja en dis net tasse en rugsakke.

Uiteindelik is hulle hier vir hul eerste seilvakansie. Ons gaan dorp toe en besoek die pragtige kerk. Dit is die kerk van St. George en het die mooiste kloktoring en mosaïek. As kerkmens is dit vreeslik mooi vir my. Miskien mooier as vir die ander lede van die geselskap (wat eintlik glad nie aandag aan die kerk gee nie). Ons loop lekker langs die see terug. Ai, die ou lelike dorp word nou vir my al hoe mooier.
Hier is hulle
Welkom julle
Klim aan boord
St George Kerk
St George en die draak
Ekke
Pierre en Annatjie
Buitekant
Langs die see
Annatjie, Archie en Pierre

Ons eindig die dag af met 'n skemerkelkie saam met goeie vriende en 'n aandete wat bestaan uit lekker vis en slaai. 

Skemerkelkie

Monday, July 29, 2019

Toronaios Kolpos. Yerakini Baai.

28 Julie 2019. Sondag.
Nikiti tot Yerakini Baai
Gisteraand het die son vir oulaas dramaties mooi gesak op die laaste dag hier by my veilige hawe, Nikiti. Gaan die malhuis vol mense mis.
Nikiti - vorige aand
Ons vertrek na Yerakini, 11 myl waar ons gaan anker. Ons verwag bietjie suidewinde wat die ankerplek maar hopladi hoplada gaan laat hop. Ek hou maar my snater, want ons het vier nagte in die hawe gebly.

Ons gooi in 8m anker, waar die modder begin en die seegras eindig. Die anker byt lekker stewig en ons is reg vir die gehop, wat later gaan kom. Ons is hier in die noordelikste deel van die skiereiland en die boek sê die weer affekteer nie die baai nie. Dis net die deinings wat kan inrol as die wind in die ander dele van die golf waai. Meer ongemaklik as gevaarlik.

Die kaptein neem die snorkel en bevestig dat die anker regtig goed gebyt het. Môre gaan ons onder deur die Portas Kanaal brug vaar. Die brug is tussen 16 en 18 m hoog. Elke bron gee 'n ander hoogte. Maja se mas is 15. iets m hoog, (sommige specs sê 15.1m ander sê 15.4m) vanaf watervlak. So, ons behoort dit te maak.
Yerakini Baai
Ons gaan ook nie die eerste skiereiland besoek nie, want aan die westekant is daar net Sani Marina, teen €120 per nag en nog 'n hawe. Nie baie skuilplek op daai skiereiland nie.

Wel, dit hét gehop in die baai. Golwe van 2m tot 3m hoog het hier ingerol, klein begin en geleidelik groter geword. Toe na middernag weer  geleidelik kleiner begin word. Maar nooit opgehou  nie. Dit het my baie moerig gemaak.

En "back at the ranch", dis nou in Athene, beroof die sakkerollers vir Pierre. Dit was by 'n voetoorgang. Hy het 'n mansak oor sy skouer gedra. Hy het 'n stamp gevoel en toe bietjie later weer 'n stamp. Minute later het hy gesien dat sy sak se ritse oop is. En sy wallet is weg! Met 'n klomp vakansiegeld, al sy kaarte, bestuurslisensie. Die bliksems! Gelukkig nie die paspoorte nie. 

Wat 'n uiters aaklige dag!