Saturday, June 1, 2019

Tilos Eiland. Livadhi

31 Mei 2019. Vrydag.

Khalki tot Livadhi

Na 'n nag waar ou Gus heeltyd van die berg afgehardloop en Maja bespring het (en die Fallers soos flippen babas slaap), is dit eindelik die nuwe dag. Die windvlae was so erg, dat ek en Archie in die nag opgestaan het om die bimini met toue vas te maak sodat dit nie so wapper nie.

Vroegoggend vertrek ons na Tilos, Livadhi, 20.4 myl. Met Gus wat natuurlik reg van voor af waai. So, dis lewensbaadjie dag. Sterk wind, rowwe see en die genoa wat op is. Die seil gee vir ons lekker spoed. Later verander Gus bietjie van rigting en seil is buite die kwessie. Toe beur ons maar teen die golwe, vorentoe, altyd vorentoe. Deining vir deining, myl vir myl.
Vroegoggend Khalki
Vat hom vas!
Opgepof
Rowwe see

En toe is Tilos voor ons, waar ons al baie keer vantevore was. Ons kyk uit vir die hawemeester wat altyd so getrou op sy pos was, maar hy is nêrens te sien nie. Ons is op ons eie. Nou moet Archie tru, afklim en die snoettou vir my aangee. Ek kry dit en gaan vinnig vorentoe. Maar o weë, dis aan die bure se boot vas. Nou is Archie van die boot af en ons is besig om half alongside te dryf. MJ sit gereed met 'n fender. Archie, wat op die kaai is, maak ons toe maar alongside vas. Vir eers is ons veilig.

Maar nou is die vraag - hoe kom ons uit hierdie klein spasie? Ons kan nie vorentoe vaar nie, want dan tref ons die muur. Agtertoe kan ons ook nie, want dan tref ons die Taljaner se boot. Ons is vasgevang. Wat nou gemaak!?

Toe maak die kaptein 'n plan. Hy het dit in 'n boek gelees van "springing it off the quay". Alle toue, behalwe die voorste tou word losgemaak. Maja se snoet word behoorlik met fenders gepak en beveilig.  Nou moet die senuweeagtige bemanning allerhande take uitvoer. MJ trek die agtertou in. Ek moet keer dat Maja se snoet nie moer toe gery word nie. Paddy moet die middel tou losmaak.

Toe ry Archie Maja vorentoe met die roer wat hard na links (kaai se kant) gedraai is. Eintlik is hy letterlik besig om Maja se snoet reg in die kaai vas te ry. Die voorste twee fenders doen hulle ding en soos "magic" swaai sy haar sterre en Archie kan uit die spasie tru. 

Almal slaak 'n sug van verligting en die kaptein is die held van die dag. Toe gaan alongside ons by die ander kaai en ons is vas in ons nuwe tuiste. Dis net die swart kaaifenders vir Maja én ons eie fenders pikswart kleur. As iets teen die blêrrie swart goed raak, is dit dadelik ook swart.
Ons geniet dit vreeslik hier langs die kaai, veral toe die reuse veerboot aankom. Daar is behoorlik aktiwiteit op die kaai. Net om te sien hoe die groot veerboot vasmaak, is al klaar baie opwindend. Toe stroom die mense af en ander stroom op. Voertuie ry af en ander ry op. Dan, net so skielik soos wat hy gekom het, is die ou grote weer weg. Die twee Fallers het die skouspel vreeslik geniet.
Alongside
Ou grote maak vas …
… mense stroom in
Gus waai maar lekker sterk met tye en alles wapper. Maar ons is vas en veilig langs die kaai. Ek is vreeslik moeg van die vorige nag se geen slaap en al die see- en vasmeer kaskenades. Ons gaan kruip vroeg in.

Thursday, May 30, 2019

Khalki Eiland. Potamus Baai.

30 Mei 2019. Donderdag.

Alimia Baai tot Potamus Baai
 
Gus het ons in die nag met 'n paar hewige windvlae gepeper, maar die Fallers slaap deur. 

Ons het vandag 'n kort dag, so ons is nie haastig nie. Die kaptein verras ons met heerlike pannekoek en ons smul behoorlik. Veral Paddy kan nie wag nie, want as getroue blogleser dra hy eerstehandse teoretiese kennis van Archie se gebak en nou gaan hy dit in die praktyk beproef.
 
Kaptein bak pannekoek
Smul
 
Op die strand waar ons gister so lekker gestap het, lê goed wat soos hooibale lyk. Soms beweeg die hooibaal effens. Ons bekyk die spulletjie so en wonder wat dit is. En jou wrintie, dis skape. Die arme goed se pote is vasgemaak. Ek is seker hulle is verdoof. Later kom 'n visserman met sy vissersboot en drie manne laai die skape. Omtrent twintig stuk word opgelaai in die boot. Mens kan amper nie eers sien dat daar skape in die boot is nie. Toe vaar die visserman en nog 'n ander man daar weg met die vasgebinde, verdoofde skape. Seker na Khalki toe. Hopenlik na ander weivelde en nie na 'n slagpale nie. Eerste keer wat ons so iets sien.
 
Hooibaal skape
Vervoer skape
 
Toe trek ons anker op en vertrek na Khalki, 7.1 myl. Paddy is agter die helm en Archie neem oor toe ons naby die mooi dorpie kom. Archie vaar verby en die mini-Symi is kleurvol en pragtig.
 
Paddy en Archie
Khalki
Khalki kaai
 
Ons ankerplek is net om die hoek en ons gooi anker wat behoorlik byt. Hierdie baai se water is so mooi. Kristalhelder. Paddy gaan kyk of die anker gebyt en bevestig ons vermoede, ons is vas.
 
Bar moeder
Potamus Baai
Potamus strand
 
Toe gaan ons dorp toe. Ons gaan mos altyd dorp toe. Die vrinne roei en ek en queen Victoria sit agter. Ons stap oor die bult en Khalki lê voor ons. Dis pragtig. Ek is mos 'n kerkmens en pyl dadelik op die kerk af. Soos gewoonlik is dit gesluit. Ons stap die dorpie plat. MJ koop geskenkies vir haar kleinkinders.op
 
Dorp toe
Archie en MJ
Op die kaai
 
Ons word honger en eet 'n gyro met souvlaki. Te heerlik. Nie die lekkerste wat ons al geëet het nie, maar steeds lekker.
 
Eet gyros
Kyk daardie kuite
 
My hart hunker na die windmeulens bo-op die bult. Die ander is nie eintlik lus vir die stap nie, maar ons stap maar. Ons sien toe vir Khalki van bo af. Dit lyk pragtig. Ek sal sommer hier 'n huisie koop en hier kom bly. Archie klim die trappe in die windmeul en loer deur die venster.
 
In die windmeul
Khalki
 
Ons stap terug, sommer so deur die rommel stortingsterrein. Ons tel 'n piering op en neem dit saam huis toe. Ook nog 'n blom vir die gaste. Ons laaste besienswaardigheid is twee kerkies.

Hierdie ou dorpie het ons behoorlik geniet.

Die son sak indrukwekkend oor ons winderige baai. Môre het ons 'n moeilike pad na Tilos met wind reg op Maja se neus.
 
Son sak

Wednesday, May 29, 2019

Alimia

29 Mei 2019. Woensdag.

Panormitis tot Alimia Baai
Ons het al sag-wiegend geslaap. MJ het van al die gebalanseer in die nag om nie rond te rol nie, 'n slaapbesering opgedoen. En Paddy slinger al van gisteraand af soos 'n dronkeling. Arme Fallers.

Vandag vat ons die pad na Alimia, 21.8 myl. Dis sommer reguit oor die see. Ons verlaat die mooi Pamoritis en vaar vorentoe, altyd vorentoe. 

Die vrinne is baie bly toe Gus ons toelaat om seil te span. Dit laat my dink aan die liedjie wat ek gedink in 2014 gekomponeer het. 

"Span die seile, span die seile 
Eers die genoa en dan die hoofseil
Span die seile, span die seile
Eers die genoa en dan die hoofseil


Ons seil ons seil op die Aegean See
Die rowwe rowwe Aegean See
Die golwe die golwe sleur ons mee
Op die rowwe rowwe Aegean See."

Ons seil altesaam 1h30min. Vorentoe, altyd vorentoe. Soms is Archie agter die helm. Ander kere kry Paddy en ook ek 'n beurt. Ek vat die helm as Maja ritmies prrr. Los die geseil vir die mans.

Die baai lê voor ons en ons gooi anker. Die eerste keer byt hy pragtig en toe Archie toets, kom dit los. Ek trek op en gooi weer. Dit byt en ons is vas.
Maja in Alimia Baai
Alimia Baai
Kerkie
Ou Gus waai, maar darem nie te erg nie. Ons is alleen in die baai. Te heerlik. Toe gaan ons land toe. Die vrinne roei ons land toe en ek sit ewe vernaam saam met queen Victoria agter in Dinkie.

Op die strand is baie rommel wat tydens rowwe see hier uitspoel. Veral baie plastiese proppies sonder die bottel. Wonder waar al die bottels is. 
Stap op strand
Ou klooster by strand
Ons stap na die ou klooster met sy bouvallige geboue. Paddy wonder oor alles. Oor die geboue, oor plante, oor die vlag met die arend. Dan vra hy vrae en gee self die antwoorde. Die ou kerkie is verlate en lyk so hartseer, maar dit lyk darem of hulle dit probeer regmaak.
Geraamte
Arch en ek
Kerkie
Binne die kerkie
Kerkmuur
Ai, dis vir my lekker om te stap. Almal stap op hulle eie spoed terug na Dinkie. Gus het intussen gaan lê en die vrinne roei maklik terug. 
Denneboom
MJ op die pier
Uil op 'n kluit
Maja en kasteel
Nou is dit vir ons swem bad. En dis heerlik. Ons almal voel verkwik en skoon. Die aand is heerlik windstil en Archie skink 'n skemerkelkie. Paddy drink bier, ek en Archie wit wyn en MJ kasaterwater. Dit een deel wyn gemeng met tien dele water. Jig!

Ons eet "bulgar wheat" slaai vir aandete, wat heerlik is. Toe was die Fallers skottelgoed en sorg vir soveel pret terwyl hulle was dat ons behoorlik skaterlag. Wat 'n lekker dag!

Gus begin weer te waai en toe gaan kruip hy in. Ons ook.

Tuesday, May 28, 2019

Symi eiland. Panormitis.

28 Mei 2019. Dinsdag.

Symi tot Panormitis via Seskli Eiland
 
Soos Archie sê, ons het 'n "love/hate relationship with Symi". Ons hou regtig baie van Symi, maar is altyd bly om daar weg te kom. Daai hawe is nie heeltemal veilig nie, want daar kom groot deinings van die veerbote in. Dan ruk en pluk al die bote. 

Ons groet die pragtige plek, Paddy trek die anker op en ons vat die pad na Seskli Eiland, 10 myl. Die boek sê dit is meer 'n swemplek as oornagplek en toe swem die vrinne in die kristalhelder water. Na middagete vertrek ons toe na Panormitis, 5 myl verder.
 
Seskli Eiland
 
Die baai is mos baie beskut, maar nou nie eintlik Archie se gunsteling plek nie. Ek hou van dié ankerplek, want dit het oraloor skuiling en die klooster van St. Michael is hier.

Ons klim in Dinkie en gaan besoek die klooster en Paddy en MJ (Mary-Jane) is baie beïndruk met die plek. Die klooster het die recoco styl troukoek kloktoring wat dateer uit 1740.
 
Klooster
By die klooster
Deur
Paddy en MJ
St. Michael
 
Baie toeriste kom besoek die klooster en 'n groot veerboot kom ingevaar met honderde nuuskierige agies. Almal is hier om die kloktoring te kom bewonder. 

Veerboot
 
Die klooster het 'n koepelvormige ingang en die vloer is uitgelê met klein swart en wit marmer klippies.
 
Ingang
Klippiesvloer
Patroon

En daai kloktoring! Ek kan sien hoekom hulle sê dis een van die  mooiste kloktorings in die Aegean See. Dis pragtig versier. Ons kan nie ophou om daarvoor te kyk nie. MJ wil so graag die klokkespel op video opneem, maar verniet. Die klokkespel speel nie saam nie.

Kloktoring
Kloktoring
 
Later roei ek en Paddy vir MJ, wat soos queen Victoria agter sit en mooi lyk, terug na Maja. Die kaptein verwelkom ons terug aan boord. Hy was besig om die autopilot, wat nou weer so steeks soos 'n donkie is, reg te maak. Hoop dit werk weer.
 
Ek en MJ gaan swem. Die inklim is koud, maar daarna word dit heerlik. Die meerminne verlei tot vir Paddy (wat nie wou swem nie) om ook die water aan te durf. 
 
Maak autopilot reg
Meerminne
 
Die lug is betowerend mooi en die sagte lig val streelsag op ons gesigte en die bemanning word model-mooi.
 
Archie en ek

Mary-Jane en Paddy

Vrinne

By Panormitis