Thursday, September 24, 2015

Patra.



21 tot 25 September 2015. Maandag tot Donderdag

Golf van Patras
Patras Marina


Werk, werk werk! Archie sê mos altyd: ”’n Huisvrou se werk is nooit klaar nie!” Ons is nou weer besig om vir Maja reg te kry vir haar winterslaap. Die helm word afgehaal en gestoor. Dinkie se snoet het ’n snaakse boggel en word winkel toe gevat. Sy is nog onder waarborg, hulle sal kyk wat gaan aan.

Maja word voorberei


Archie lees op oor die huisbatterye se laaier en berei die batterye voor vir oorwintering. ’n Baie lang proses. Dinkie se motor word met vars water uitgespoel, sy vergasser word leeggeloop en sy silinder word met olie gesmeer (?). Die hoofmotor (Volvo) se brandstof- en oliefilters is geruil, nuwe olie is ingetap en die seewater verkoelingsisteem is met varswater gevul.

Maja word binne gewas, bimini en “sprayhood” word eers afgespoel en dan afgehaal en weggepak. Die twee bolfenders kry hulle hemde aan sodat seediere hulle nie daarop kan tuismaak nie. Maja word met ekstra vasmeertoue vasgemaak vir daai stormnagte. Diusend en een dinge word gedoen.

Archie en sy twee nuwe pêls


Rugsakke word met ’n gesukkel gepak. Klere word gebruik om geskenke te beskerm. Hulle moer mos jou bagasie op die lughawens rond, sit dit nie versigtig neer nie.

Werk, werk, werk!


Vrydag, 25 September, gaan ons met die bus na Delphi waar ons een aand gaan slaap. Van daar is dit Athene toe en dan vlieg ons Saterdag 26 September huis toe. My seun, Francois en Roelien trou 3 Oktober, so daar is groot opgewondenheid in SA.

Patra is n doodgewone alledaagse ou plek, maar een ding is seker - die son sak altyd baie dramaties hier. Die lug ontplof in helder kleure wat die hele hemel oorneem en die wolke verander in n palet van kleure.

Son gaan onder
Die son sak weer
Wolkkolom

Wednesday, September 23, 2015

Vouraikos Kloof. Treinrit.



20 September 2015. Sondag.

Ons staan 05:00 op en die kaptein maak koffie. Dis nog nag. 05:45 loop ons stasie toe, want ons klim die treinbus 06:15 wat ons na die stasie van Diakofto toe neem. Van daar klim ons die trein na Kalavryta. Die rattrein gaan deur die Vouraikos Kloof. Daar word gesê dis van die mooiste landskappe in Griekeland. Ons kom net na 07:00 by Diakofto aan en dis nog nag. Die son steek eers 07:30 sy kop lui-lui uit en begin om die nag in dag te verander. Ons drink koffie, want ons klim eers 08:45 die rattrein. 
Die treinrit duur een uur en dit is indrukwekkend. Die trein kronkel deur die kloof en plek-plek vat daai wiele die ratte een vir een om die steilte te klim. Deur tonnels, onder rotswande rol daai ysterwiele op die ysterspore. Langs ons die steil wande en dieptes van die kloof. En onder hardloop die rivier vinnig, asof hy baie haastig is, na die see. Oor rotse stort wit hy na benede.


Deur trein se venster
Voor uitsig


Die trein stop halfpad, by Kato Zachlorou, net ingeval iemand op of af wil klim. By Kalavryta, die eindpunt van die treinroete, klim ons af en verken die dorp. Ek koop ’n geskenk vir my pa.

Kalavryta


Mal soos ons is, gaan ons op pad terug in die middel van die roete, by Zachlorou, afklim en vir die volgende 9 km op die treinspoor te stap. Op die laaste stasie, Niamata, sal ons weer op die trein klim vir die laaste 5 km na Diakofto. Die man by Kalavryta stasie verseker ons dat die trein sal by Niamata stasie stop ás jy daar wag.

So gesê, so gedaan en ons klim af. Daar gaan die trein en ons begin stap. Sommerso op die dwarsbalke van die treinspoor. Ons werk mooi uit wanneer die treine by ons verbygaan, want dit is maar smal. Jy wil nie hê die trein moet jou op ’n stuk vang waar jy nie uit sy pad kan kom nie.

Ons hoor die trein wat van voor af kom van vêr af en trek ons mae in en staan opsy. Hy blaas toeter en waai toe hulle verbyry. Ons stap verder op die spoor. Die dele waar die ratte is, kan ons nie op die spore stap nie, dan is dit op die klippers langs die spoor. Dis konsentrasie en is vermoeiend.


Ratmeganisme
Loop op dwarsbalke
Loop langs treinspoor
Die trein kom


Die kloof lyk anders so te voet. Ons kyk af in die dieptes en sien die rivier. Ons kyk op en sien die steil rotswande. As die tyd kom wanneer die trein ons gaan verbysteek, is ons baie versigtig. Ons maak seker dat daar plek is waar ons kan skuil. Ons wil nie noodwendig deur ’n trein getrap word nie.

Oorbrug kloof


Die tonnels is baie en soms donker. Die brûe nou en hoog. Met ’n bordjie wat wys geen voetgangers nie. Nou waar moet ons loop? Dan loop ons maar daar. 

Tonnel
Nog tonnels
Tonnel en holkrans
Tonnel venster
Water uit boomstam


Ons stap vir drie ure aan die 9 km en is bly toe die Niamata stasie voor ons opduik. Ons is moeg. Dit is warm. Nou hoop ons net ons het reg uitgewerk en dat die trein gaan stop. Ons moet die 17:15 bus terugneem na Patra. Ons verwag die trein 16:30 by ons stasie. 16:30 kom en gaan. Geen trein. Dit help nie ons stap verder nie, want dit is nog 5 km en ons sal dit nooit maak om die bus te vang nie.

Ons wag en wag. Elke minuut voel soos ’n uur. 16:50 hoor ons iets. Dis die trein en ons is baie dankbaar. Ons wys hy moet stop en hy stop. Ons klim en 17:05 kom ons by Diakofto aan, betyds vir ons bus. Ons is moeg, maar tevrede na die lang dag.

Wag vir die trein


Vanaand gaan ons vroeg slaap... of so het ek gedink.

Ek sit buite op die dek en sien die vêraf elektrisiteit in die lug. Dowwe skynsels verhelder die donker nag. Gus begin uit die suide uit te waai. Al hoe sterker en sterker. Die elektrisiteit kom al nader. Enkele druppels val. Praat van progressie. Gus waai al sterker, die donderstorm tref ons en dit sous. Die boek sê hier is donderstorms in die herfs. Ek dink die herfs het nou net begin!

Op die besoekerskaai gaan dit rof. Ons was verlede jaar daar toe die wind so erg uit die weste gewaai het. Die deinings word so erg, dit voel of jy op see is. Ek weet hoe erg raak dit daar. Gus verander van rigting en waai vanuit die weste. Die see stroom by die besoekerskaai in. Die jagte wip op en af en heen en weer vir die vale. Ek kyk na die doenigheid daar. Kapteins is in die reën buite op die bote om die situasie dop te hou. Die hawepolisie kom kyk en help, mense skarrel rond, nog fenders word uitgesit. En dit sous en donder en bliksem.

Ek is diep dankbaar dat ons hier veilig in die marina is en nie op die bonskaai nie. Of nog erger, op anker in Nafpaktos! My hart gaan uit na daai mense.

Tuesday, September 22, 2015

Patras, laaste seildag.




19 September 2015. Saterdag.

2015 totale roete
Nafpaktos tot Patras

Laaste, laaste, laaste. Ons trek die laaste anker op. Archie sukkel, want hy het behoorlik gebyt. Los is hy en daar trek ons na Patra, 38°15.652 N, 21°44.295 O, 10 myl om te gaan na die einde van ons roete vir die seilseisoen van 2015.

Ons vaar na die Rion-Andirrion brug. Die brug is in Augustus 2004 voltooi. Dis die langste kabelbrug in die wêreld (2 252m). Daar is vier pilare met drie bevaarbare kanale wat elk omtrent 560m breed is. Die maksimum boothoogte, wat onder deur die brug kan vaar, is 45m. Vaartuie moet die beheertoring kontak om toestemming te kry om onderdeur die brug te vaar. Hulle sê dan ook vir jou watter kanaal moet gebruik word. Ons is by “one from the right and three from the left” deur.

“One from the right and three from the left”
Rion-Andirrion brug


Ons vaar onder die brug deur en is in die Golf van Patras. “Kaptein, span die seile! Kaptein, sy is myne!” En vir oulaas span ons die hoofseil en seil heerlik met ’n 19 knope wind van agter die laaste skof na Patras. Ek moet sê, ek voel nogal hartseer omdat ons klaar is. Hierdie jaar was ’n heerlike seiljaar.

"Kaptein ...
... span die seile"
"Kaptein, sy is myne"


Die mense by Patras marina verwag ons en ek roep oor die radio en hulle sê ons moet inkom. Op die kaai staan ou George met wuiwende arms en beduie waar Maja se plekkie is vir die winter en ons vaar stadig daarheen. Die kaptein tru, George staan gereed met die snoettou. Ek gryp die swaar tou en werk my pad vorentoe om die tou vas te maak. Archie sê ek moet trek en ek gee my beste. Stadig maar seker kom Maja in haar posisie. Agter maak hulle toue vas en toe is ons laaste vasmeer vir die seisoen suksesvol afgehandel.

Laaste, laaste, laaste! Ons is klaar. George glimlag ons ’n “welcome, welcome” toe. En ons is tuis. Môre gaan ons eers treinry en daarna begin ons vir Maja voorberei vir haar winterslaap.

Die son sak en nou is ons laaste seildag rêrig verby.

Dis verby